Deel die artikel met jou vriende:

Besef ons lesers dat elektronika in die laaste paar jaar so dramaties verander het dat selfs nuwelinge met min elektroniese agtergrond dit regkry om elektroniese projekte te bou wat vantevore slegs deur ervare elektroniese ingenieurs aangepak is?

Dit is in ‘n groot mate te danke aan Arduino se mikrobeheerderkaarte, ontwikkelingsagteware en oopbronfilosofie wat dit moontlik gemaak het. Weens Arduino se oopbronfilosofie het baie ander besighede begin om addisionele kaarte te ontwikkel en te vervaardig wat saam met die Arduino-mikrobeheerder kan werk om projekte, wat voorheen baie ingewikkeld was, maklik te kan uitvoer.

Ten einde aan ons lesers te demonstreer hoe maklik dit is om Arduino met ander toepassingskaarte te laat saamwerk, hou ek ‘n paar voorbeelde voor om dit te bewys. Hierdie toepassingskaarte kom met die nodige instruksies wat toon hoe om ‘n Arduino-kaart te koppel, asook met voorbeelde hoe om ‘n program te skryf om die nodige funksies uit te voer. Baie keer hoef daar net ‘n paar veranderinge op die program aangebring te word om die Arduino-kaart en toepassingskaart presies te laat werk soos wat jy wil.

Ons eerste voorbeeld wys hoe ‘n relê gebruik kan word om kragtoestelle soos elektriese motors en ligte aan en af te skakel. Die programkode is baie eenvoudig en deur ‘n sensor by die Arduino te voeg, kan mens hierdie relês aan en af skakel, afhangende van die sensorwaarde.

Die diagram hieronder wys hoe ‘n bewegingsensor (of ‘n alarm-ogie) gebruik word om ‘n lig aan te skakel of ‘n sirene te laat skree wanneer ‘n beweging waargeneeml word. Ons lesers kan dus sien hoe jy jou eie alarmstelsel hiermee kan implementeer.

‘n Ander toepassing is om die bewegingsensor te vervang met ‘n temperatuursensor en die gloeilamp te vervang met ‘n infrarooi-lig of verhittingslamp, wat as ‘n broeikasbeheerder aangewend kan word. Hou in gedagte dat die Arduino gelyktydige funksionaliteite bied. So kan ‘n bewegingsensor, temperatuursensor,  sirene, lig en hittelamp wat met twee relês geskakel word,  gelyktydig aangewend word, sou so ‘n behoefte bestaan.

In die bostaande kringdiagram kan u sien dat slegs 2 beheerterminale (die geel lyne) gebruik word. Met Arduino is dit moontlik om tot 13 sulke beheerterminale te implementeer, wat op die groot hoeveelhede toepassingsmoontlikhede van een Arduinokaart dui.

In die tweede voorbeeld word getoon hoe ‘n GSM-kaart aan ‘n Arduino gekoppel kan word.  GSM is ‘n akroniem wat staan vir Global System for Mobile communications. Die GSM-kaart stel mens in staat om met die Arduino-kaart te kommunikeer met behulp van SMSe. So kan temperatuurlesings na jou selfoon ge-SMS word, maar jy kan ook self instruksies aan die Arduino-kaart per SMS-teks gee, waar jy jou ookal in die land bevind,  byvoorbeeld om ‘n elektriese motor of ligte aan of af te skakel en nog vele ander opdragte. Voorwaar ‘n baie kragtige hulpmiddel.

Met net ‘n  paar ekstra kaarte kan baie verskillende projekte onderneem word. Ek gee ‘n paar idees:

  • Beheer jou hekmotor vanaf jou selfoon. Hiervoor word ‘n Arduino, GSM module en relê Deur ekstra relês by te voeg kan ondermeer vloedligte aangesit word, ligte in die huis aangeskakel word om die indruk te wek dat iemand tuis is en nog baie ander opdragte uitvoer.
  • Beheer ‘n vistenk of kweekhuis se temperatuur. ‘n Arduino-kaart, temperatuursensor en relê om ‘n verwarmer aan te skakel word benodig.
  • Beheer ‘n watertenk. Jy benodig ‘n Arduino-kaart, relê wat die waterpomp aan en af skakel asook ‘n watervlaksensor.

Vanweë die Arduino-oopbronfilosofie is daar werklik honderde elektroniese kaarte en sensors beskikbaar – die moontlikhede is bykans onbeperk wat met ‘n Arduino gedoen kan word. Lees ook die artikel oor Arduino in ‘n Wentelbaan om te sien watter ambisieuse projekte al reeds aangepak is in terme van die Arduino-filosofie!

Onthou, soos enige iets nuuts wat onder die knie gekry moet word, is werk, maar ook baie speel nodig.

KragDag bied op 19 Mei 2018 ‘n eendag Elektronika beginnerswerkswinkel met Arduino aan. Dit is ‘n praktiese inleidende kursus waarvoor geen vorige ervaring met elektronika nodig is nie, maar wat jou op die weg sal plaas om dinge rondom jou te meet en te outomatiseer. Jonk en oud sal dit beslis nuttig en interessant vind en die kursusfooi sluit jou Arduino-stel in. Om jou plek te bespreek KLIK HIER!

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.67 avg. rating (92% score) - 6 votes