Deel die artikel met jou vriende:

“Ek het ‘n kussing in my rug ‘n paar jaar terug gegly” of “my rug het ingegee, maar die dokter sê ek gaan oraait wees” lui die geselskap partymaal om die braaivleisvuur.

Dit klink nogals gevaarlik as die rûe soos met swak vakmanskap inmekaar sak of die kussings tussen die werwels soos ‘n gladde reënboogforel uitgly!

Om vinnig agter die kap van die byl te kom:

Intervertebrale kussings (IVK) gly gelukkig nie; dit bult, steek uit en skeur.

Hierdie kussings funksioneer as jou vertebrale segmente se skokdempers. Hierdie skokdempers reguleer die drukking op jou vertebrale kolom. Die kussingkies bestaan uit ‘n gelatienagtige fibro-kraakbeen materiaal wat in 3 gedeel kan word:

  • ‘n Nukleus (kern) pulposis. ‘n Sentrale gelatien waterbal in die binneruim van die kussing wat rondbeweeg soos beweging oor die intervertebrale kussing ontstaan.
  • Die Annulus fibrosis, die stewige, sirkelformige, buitenste kollageen-lae. Die Annulus fibrosis vorm die grootste deel van die kussing.
  • Die vertebrale eindplate. Die eindplate funksioneer as die gom tussen die Annulus fibrosis en die omliggende vertebrale segmente en ligamente.

 

Slegs die oppervlakkige deel van die Intervertebrale kussings (IVK) kry genoeg bloed- en senuwee toevoer, waar die dieper dele van die IVK slegs toevoer ontvang van die eindplate en vertebrale beenmurg deur ‘n proses genoem diffusie. Dus, ‘n vermindering in beweging en aktiwiteit lei tot ‘n afname in voeding en kwaliteit van die IVK’s.

Dus as die manne langs die braaivleisvuur ‘n bietjie meer om die blok sal draf sal die kussings nie so rondgly nie.

Ongelukkig veroorsaak veroudering van die kussings, asook traumatiese drukking op die rug mikrotrauma aan die eindplate en skeuring van die Annulus fibrosis.

Beserings van die kussings kan ontstaan as gevolg van verskeie oorsake, van ‘n hoes-aksie tot die verkeerde opteltegniek van ‘n swaar voorwerp. Die mees algemene manier om die rug te beseer is deur vooroor te buig en byvoorbeeld ‘n 20 kilogram voorwerp op te lig sonder om die kniëe te buig.

Dit is heelwat gemakliker om soos ‘n kameelperd te buig om water te drink, maar deur die maagspiere saam te trek en die knieë te buig word beserings vermy.

Konstante spierspasma aan beide kante van die werwelkolom is ‘n algemene presentasie van ‘n IVK besering. Die ondersteunende spiere aktiveer om die drukking op die kussings te verlig.

Die tipe beserings kan wees:

  • Irritasie en bulting van die gelatienagtige Nukleus pulposis, wat gelokaliseerde pyn na die boud veroorsaak.
  • ‘n Uitsteking van die nukleus, wat drukking op die neuroliogese sisteem veroorsaak en gepaard gaan met verwysende pyne tot by die knieë.
  • ‘n Ekstrusie, of die bekende herniasie van die nucleus pulposis wat lei tot verwysde pyne na die enkels en voete.
  • Die finale fase van ‘n IVK besering wat bekend staan as ‘n Sekwestrasie van die Nukleus pulposis. Die nukleus drup uit die spasie tussen die vertebrale segmente en lei tot pyn en swakheid van die onderlyf.

‘n Deeglike fisiese ondersoek, met X-strale of MRI toetse indien die presentasie ernstig is, is ongelukkig noodsaaklik om te verseker dat daar nie ‘n “papwiel“ in die rug is nie. Wanneer die assessering en spesifieke toetse ernstige komplikasies uitgeskakel het, sal deeglike konserwatiewe behandeling jou in ‘n japtrap weer terug op die been hê!

Hierdie artikel is geborg deur Dr Jacques H Maree Chiropraktisyn

Webadres: https://www.garsfonteinpretoriaeastchiropractor.com/

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.50 avg. rating (89% score) - 6 votes