Deel die artikel met jou vriende:

Ons lewe vandag in ‘n geweldig vinnig-veranderende wêreld.

Meer en meer mense oorstroom hierdie land. Kragonderbrekings, droogtes en aardverwarming vind plaas. Dan is daar ook nog ekonomiese verarming, werkloosheid, geweld, diefstal, staatsinmenging, politieke storms, en nog vele meer. ‘n Donker prentjie? Dit is alles risikofaktore wat besigheid nadelig beïnvloed. Is daar oplossings vir die probleme?

Mense is geneig om weerstand teen veranderinge te bied omdat dit hulle roetine en denkwyse versteur. Dit is makliker en geriefliker om in ‘n groef te lewe. Om veranderinge te verstaan, te beoordeel en te benut, is moeilik en soms ongerieflik. Ons kan besluit om ons kop in die sand te steek en veranderinge te ignoreer, agter te bly en dan oorweldig te word, óf … ons kan positief met geloof en opwinding deel wees van die veranderinge.

Die moderne lewe vereis dat ons nuut en modern dink. Ons moet egter nie moderne en nuwe denke verwar met uiterlike rebelse gedrag nie. Denke moet nuut en oorspronklik wees terwyl ‘n mens se lewenswaardes steeds behoue bly. In toegeneentheid moet ons soveel moontlike kundigheid met mekaar uitruil om mekaar in staat te stel om vir elkeen die beste oplossing te vind.

Energie as ‘n risikofaktor

Vir die landbouer en die besigheidsman van vandag is elektrisiteit en brandstof risikofaktore. Praktiese navorsing en ontwikkelinge op hierdie terreine is steeds besig om geweldig toe te neem en in bedryf te kom. Hierdie kennis moet nagevors en aan die verbruiker daarvan deurgegee word.

Elektrisiteit is geredelik beskikbaar, maar teen ‘n prys wat al duurder word. Diefstal, onvoldoende elektrisiteitsverskaffing en kragonderbrekings veroorsaak dat hierdie belangrike insetproduk ‘n al groter risiko word waarop nie vertrou kan word nie. Alternatiewe energie word egter goedkoper en meer bekostigbaar, wat hierdie risiko uitskakel en verminder.

Die benutting van fotovoltaïese selle, konkawe paraboliese konsentreerders (CPCs) en eksterne CPCs (XCPCs) asook windkrag- en waterkragtegnologie moet bestudeer, ekonomies oorweeg en ingespan word om die verbruiker onafhanklik van energieverskaffers te maak.

Bo en behalwe sonkrag, wat verniet beskikbaar is en nog nie na behore benut word nie, is windkrag ook ‘n geweldige bron van gratis energie wat benut kán en móét word. Moderne verbeterde windlaaiers verskyn op die mark wat met sukses gebruik kan word om windkrag in elektrisiteit om te sit.

‘n Ander bron van potensiële energie wat ook ondersoek en benut behoort te word, is waterkrag, indien ‘n sterk vloeiende rivier beskikbaar is.

Die tegnologieë om elektrisiteit te stoor verbeter geweldig vinnig en word meer effektief.

Hernubare energie-tegnologie wat deel uitmaak van die Vierde Industriële Revolusie (4IR),  asook die benutting daarvan, word toenemend in die RSA gebruik.

Water as ‘n risikofaktor

Water is vandag in dié land seker die belangrikste risikofaktor – veral nou dat aardverwarming al intenser na vore kom, gaan almal daaronder lei.

Lewe sonder water is nie moontlik nie!!!!

Die moontlike beskikbaarheid van water vir die stad, op die plaas of grondgebied moet duidelik bepaal en bestuur word. Veral die volgende gegewens moet verkry word:

  • die moontlike en verwagte reënval op die plaas vir ‘n bepaalde seisoen,
  • die beskikbaarheid en hoeveelheid van rivierwater,
  • die beskikbaarheid en hoeveelheid van boorgatwater en
  • die moontlikheid van damwater op die plaas moet bepaal word.

Hierdie gegewens moet gebruik word om beplanning op die plaas te doen. Die neiging om net maar meer en meer boorgate te boor en daarop staat te maak dat dit oneindig sal hou, is kommerwekkend.

Deeglike beplanning om hierdie geweldige belangrike bron optimaal aan te wend, moet dringend verskaf word. Die riglyn vir die landbouer is dat daar met die minimum water die mees duursame gewas of gewasse, wat die hoogste inkomste kan verseker, geproduseer moet word. Spesialiskennis van buite moet in die verband sterk oorweeg word.

So byvoorbeeld word waterkulture – hidroponika, aëroponika, bioponika, akwaponika of vermiponika – as tegnologieë gebruik om die minimum water aan te wend ten einde duursame gewasse te verbou. In hierdie prosesse speel humussuur (humic acid) en fulvinesuur (fulvic acid) ’n baie belangrike rol om optimale plantvoeding te bewerkstellig.  Hierdie waterkultuur-prosesse, wat deel vorm van 4IR, en word alreeds ekonomies suksesvol in die RSA toegepas op verskeie gewasse en produkte op ‘n fabrieksgrondslag.

Soos wat die landbouer meer en meer konsentreer op die opbouing en verbetering van die grond, moet ook besef word dat die beskikbaarheid van hoë kwaliteit water die belangrikste is. Landbou-aktiwiteite moet primêr daar rondom beplan word.

In hierdie land sal ons meer en meer, soos in Israel, waternetwerke moet beplan om watertekorte aan te vul waar dit benodig word. Staatsbestandheid, met ander woorde onafhanklikheid van die staat se beperkende reëls en regulasies, moet sterk oorweeg word en onderlinge onafhanklikheid moet sover moontlik beplan en bestuur word.

Landbouers moet ook seker maak dat reën wat op sy plaas val nie “by die hek uitloop” nie, maar sover moontlik behoue bly. Landbouers sal ook in die verband moet saamwerk om hierdie baie belangrike kommoditeit gesamentlik te bewaar en te benut.

Waterkwaliteit is ewe belangrik! Die skoonmaak van grys-, swartrioolwater, besoedelde fabriekswater, suur mynwater, brakwater en selfs seewater kan en word al gesuiwer vir huishoudelike gebruik. Google gerus sundropfarms, dessert forest project, ens.

Alge (varswater en seewater) word wêreldwyd beskou as die gewas waaruit voedsel, veevoer, medisinale produkte, biodiesel en ander duursame produkte in die toekoms vervaardig kan word. Alge is juis dié gewas wat COշ en sonenergie in sellulose en ander stowwe kan omsit, vinniger en meer effektief as enige ander plant op aarde.

Neigings in boerdery, soos om minder water te verbruik, is besig om na onder andere fabrieke te verskuif, soos blyk uit verslae rondom die Vierde Industriële Revolusie.

Tradisioneel produseer die landbouer sekere produkte op sy plaas. Die landbouer sal in die toekoms aanhoudend die tipe gewas of produk wat op sy plaas verbou word, moet onderwerp aan ‘n SWOT-analise in die lig van veranderende risikofaktore soos waar byvoorbeeld suikerboere oorslaan na makadamianeutverbouing. So ‘n SWOT-analise behels die ondersoek na Sterkpunte (strengths), Swakpunte (weaknesses), Geleenthede (opportunities) en Bedreiginge (threats) in die bedryf.

In die SWOT-analise sal die landbouer ook gereeld moet kyk na diversifikasie om die risikofaktore tot ‘n minimum te beperk. Soos wat die landbouer in ‘n tyd van droogte pyltrek op die veefaktor sal hy ook moet kyk na die boomfaktor (pekaneute, olywe, appels, kersies, maroelas, ens.) en die struikfaktor (bessies, essensiële olie gewasse, medisinale gewasse, ens.). Die landbouer sal les bes moet kyk na die produksie van duursame gewasse met die minimum water. Tegnieke soos veral waterkultuur – hidroponika, akwaponika, aëroponika en ander, soos hierbo genoem, moet ernstig oorweeg word in tye van ‘n watertekort.

Die skrywer, Louis Verhoef, nooi die KragDag-gemeenskap uit om in die artikel se kommentaarblok:

  • Vrae te vra oor enige van bogenoemde onderwerpe.

  • Vrae te vra oor behoefte aan opleiding.

  • Vrae te vra oor enige tegnologiese inligting van toepassing op die landbou.

  • Kommentaar te lewer en ‘n bydrae te lewer.

  • Voorstelle te maak oor hoe ons hierdie land gesamentlik kan opbou.

 

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote