Deel die artikel met jou vriende:

In Suid-Afrika word daar ongeveer 1,25 miljoen hektaar besproei, sowat 0,4% van die wêreld se totale area onder besproeiing. Besproeiingswatergebruik in Suid-Afrika beloop sowat 60% van die totale volume oppervlakte afloopwater wat jaarliks deur al die verskillende watergebruiksektore (soos munisipaliteite, myne, kragopwekking, bosbou, ens.) benut word.

Om ons skaars hulpbron, water, so goed as moontlik te bestuur maar ook winsgewend te kan boer, is dit nodig dat ons kyk na ons watertoedieningspraktyke en hoe bestuur toegepas kan word om die beskikbare water meer doeltreffend te gebruik.

Die gebruik van grondkaarte vorm die basis van enige besproeiingstelsel in die landbou. Behalwe as daar in ‘n kunsmatige medium geplant word (soos in tonnels), is die grond noodsaaklik om die plant te anker, sowel as om water en voedingstowwe te stoor en beskikbaar te stel. By die ontwikkeling van ‘n nuwe besproeiingstelsel is dit noodsaaklik om ‘n grondondersoek te laat doen sodat ‘n grondkaart opgestel kan word waarvolgens die benutting van die grond beplan kan word en ‘n toepaslike besproeiingstelsel ontwerp kan word. Dit is belangrik om te onthou dat nie alle gronde geskik is vir besproeiing nie.

Saam met die grond is die water se kwaliteit ook baie belangrik, aangesien die water se eienskappe die grond, plante en besproeiingstelsel kan beïnvloed. Waterkwaliteit kan gemoniteer word deur watermonsters te neem en te laat ontleed. As die waterkwaliteit verander deur die jaar (soos byvoorbeeld as water uit ‘n rivier onttrek word waarvan die watervlak en sediment-inhoud baie varieer), moet monster geneem word wanneer die water se kwaliteit op sy swakste is.

‘n Ander bestuurshulpmiddel wat ondersoek kan word, is die gebruik van ‘n skeduleringstelsel.  Indien water skaars is, is dit absoluut noodsaaklik om die water-inhoud van die grond te moniteer en die besproeiingstoedienings daarvolgens aan te pas.  Daar is ‘n verskeidenheid van oplossings beskikbaar – van eenvoudige dog doeltreffende self-doen tegnologie soos grondwatersensors wat fisies in die veld gelees moet word, tot skeduleringskonsultasie dienste wat gebruik maak van elektroniese grondwatersensors wat water-inhoud op verskillende dieptes in die grond meet, data outomaties versend en ‘n aanbeveling aan die besproeiier stuur oor wanneer en hoeveel besproei moet word, dikwels per sms.  Kostes wissel maar oplossings kan gevind word vir minder as R1000 per meet punt, terwyl konsultasie dienste en meer gesofistikeerde hulpmiddels natuurlik meer kos, maar ook meer waarde toevoeg.

Moderne tegnologie word ook vandag grootskaals in besproeiing toegepas, en gebruik van afstandwaarneming bied baie voordele vir die besproeiingsprodusent. Vanaf satellietbeelde kan watertekorte, lekkasies, voedingsprobleme en ander moeilik bespeurbare probleme in ‘n besproeiingsland vroegtydig waargeneem word. Selfs hommeltuie (“drones”) vind al toepassing in besproeiing.

Ander tegnologie wat wyd gebruik word is die afstandsbeheer van besproeiingstelsels, of “outomatisering”. Hier word radio en selfoon tegnologie gebruik om stelsel aan en af te skakel, damvlakke te moniteer of foutboodskappe te ontvang. Dit maak dit moontlik of potensiële gevaarlike situasies te vermy, soos om in die nag rond te ry om stelsel na te gaan.

Laastens kan daar vandag ook nie meer effektief of wettig geboer word sonder die gebruik van watermeters nie. Volgens die Nasionale Water Hulpbron Strategie van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) is daar in die meerderheid van die opvangsgebiede in Suid Afrika meer water toegeken aan gebruikers as wat beskikbaar is.  Alle haalbare opsies om volhoubare en regverdige waterverskaffing aan elke wettige watergebruiker te verseker, word tans ondersoek.  Een van die opsies is die direkte meting van watergebruik. Watermeters op sigself sal nie die uitdagings wat waterskaarsheid in Suid Afrika teweeg bring oplos nie, maar is ‘n noodsaaklike komponent van ‘n waterbestuurstelsel wat gebruik kan word om water regverdig toe te ken. Onlangse wetgewing vereis dat besproeiingswatergebruikers watermeters moet installeer, en onvoorspelbare droogtes maak dit net goeie praktyk om jou water meer sorgvuldig te meet sodat dit beter bestuur kan word. Verskeie watermeters is beskikbaar, maar die mees geskikste tipe moet gekies word vir die kwaliteit van die water wat deur die meter gemeet moet word.

Isobel van der Stoep

Vir meer inligting oor die doeltreffende gebruik van besproeiingswater, vir kontakbesonderhede van SABI Goedgekeurde Besproeiingsontwerpslede in u gebied, of vir ‘n gratis kopie van die SABI Tydskrif, kontak SABI se algemene bestuurder, Riana Lombard, by 021 8 555 412, of besoek die webwerf www.sabi.co.za.

 


Kom luister gratis na Isobel van der Stoep se aanbieding tydens Sakeliga KragDag 2018 op Vrydag 10 Augustus tussen 13:30 en 14:30 in die Raadsaal op die KragDagterrein. Die titel van die aanbieding is: “Beste waterbestuurspraktyke vir besproeiingstelsels”

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes