Deel die artikel met jou vriende:

Die minister van Finansies van Suid-Afrika, mnr. Tito Mboweni, het met vanjaar se begrotingsrede twee maal uit die Bybel aangehaal (Sagaria 8:12 en Psalm 23:4). Alhoewel van konteks beroof, kan mens nie sonder ’n mate van waardering sy geïmpliseerde geloofsgetuienis gadeslaan nie, net soos baie van ons ook waardering het vir sy opmerking oor die Universiteit van Pretoria se besluit om van Afrikaans ontslae te raak. Daar is egter ook ’n ander Tweet van hom uit die Bybel, teen die einde van verlede jaar, wat kommentaar vereis. In hierdie Tweet sê hy On taxation. “Render unto Caesar what is due to Caesar”! en wat hy volgens TimesLive weer op begrotingsWoensdag herhaal het.

Op hierdie stadium wonder jy dalk “Maar wat het dit met KragDag te doen?” Wanneer die KragDag tema van Doen-jou-eie-ding, selfstandigheid en ’n lewe van vryheid nagestreef word, is dit egter essensieel dat ons begrond verantwoordend en dieper as die materiële, moet besin oor die staat se plek in ons lewe en ons plek in die samelewing. Ek sou nogtans normaalweg versigtig wees om sommer op enige platform oor ’n kontroversiële saak, soos hierdie, ’n beoordeling te deel – dit is immers selfs in ons eie familie dikwels die onderwerp van “hewige” debat, maar ek meen mnr. Mboweni se uitsprake verskaf ’n genoegsame verskoning.

Ek vind dit altyd vreemd hoe daar feitlik geen kommentaar is as die “Betaal aan die keiser wat hom toekom …” Skrifaanhaling deur politici as belastingregverdiging verskaf word nie, of selfs deur ander nagepraat of verkondig word, maar as iemand net ’n ander perspektief hieroor durf uitlig, daar onmiddellike en verwytende afkeur is. Ek verwag dus dat hierdie artikel uiteenlopende en selfs skerp reaksie kan uitlok, maar beskou dit asseblief as ’n geleentheid tot ontdekkende ondersoek en besinning.

Ek moet by aanvang seker ook waarsku dat hierdie ’n lang artikel is en dat dit dalk ’n rowwe, maar avontuurlike, rit kan wees vir die met geykte opvattings.

Kom ons begin!

Daar is drie episodes in die Nuwe Testament waar die Here Jesus met ‘n belastingkwessie gekonfronteer is. Die een was oor die tempelbelasting in Mat 17:24-27, wat ’n interessante storie van sy eie vertel, maar waarop nie hier ingegaan word nie. Die tweede is die gedeelte waar die belastingvraag aan die Here Jesus gestel word en die derde kom ter sprake in die verhoor voor Pilatus.

Ten opsigte van die tweede episode staan in Matthéüs 22:15-22: “Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik. En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie — sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.”

Ek het vir lank ’n bepaalde ongemak met hierdie gedeelte gehad, maar hoe durf mens teen die opdrag van die Here Jesus ingaan? Sy opdrag is tog duidelik: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” Die vrae het egter bly pla:

  • Wat is werklik in die Here Jesus se antwoord in hierdie stuk?
    • Is die antwoord wat Hy hier verskaf, slegs vir die Jode bedoel, of is dit ’n tydlose voorskrif vir alle Christene of dalk selfs universele wet waaraan alle mense moet voldoen?
    • As sy antwoord slegs op die Jode gerig was, het Hy hiermee gesê die Jode moet vrywillig (in gehoorsaamheid aan die Here) of selfs teensinnig (uit vrees vir die keiser), vir keiser Tiberius die belasting betaal wat hy eis. (’n Bietjie agtergrond oor keiser Tiberius: Volgens geskiedskrywers was hy ‘n pedofiel met seksuele afwykings, hy het miljoene mense onderdruk en in slawerny laat leef (insluitende die Jode), hy was ‘n moordenaar en hy het beweer dat hy god was.), of
    • Is hierdie maar net ‘n vindingryke woordkeuse van die Here Jesus om eintlik nie die vraag te antwoord nie en so nie prooi te val van die owerpriesters, skrifgeleerdes en Fariseërs wat sy dood gesoek het nie?, of
    • Maak hierdie gedeelte in die Bybel ‘n beginsel vas dat mense moreel verplig is om aan ‘n regering belasting te betaal?, of
    • Sê die Here Jesus hiermee dat jy, ter wille van ‘n sekere getuienis, aan die regering gehoorsaam moet wees en sy belasting moet betaal?, of
    • Sê dit jy moet ter wille van die vrede of jou eie veiligheid maar maak soos die keiser sê?, of
    • Kan daar dalk ‘n gans ander verklaring wees?
      • Soos byvoorbeeld dat Hy hier kon gesê het dat belasting verkeerd is?, of
      • Dat dit dalk ‘n heeltemal ander boodskap is wat die Here Jesus wou oordra wat niks met belasting te doen het nie?
  • ‘n Te-goed-om-waar-te-wees anti-klimaks einde

“En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.”

Nog ‘n ding wat pla, is die vraag na die rede waarom al die toehoorders so verwonderd was oor die Here Jesus se antwoord. Dit is duidelik dat die Fariseërs aanvanklik oortuig was dat hulle ‘n briljante waterdigte strikvraag gekry het, wat Hom gaan dwing om ‘n antwoord te gee wat Hom sonder twyfel in skaakmat sal laat beland. Uit hulle reaksie blyk dit egter dat hier iets baie dieper en wesenliker gebeur het, as dat Hy ‘n veilige “goue middeweg” antwoord van “Gee vir altwee” gegee het. Dit is ook duidelik dat hulle dit baie goed begryp het uit die feit dat die skrifgedeelte sê hulle het daarna geswyg en weggegaan. “Politici” laat hulle nie so maklik stil maak soos hier gebeur het nie – as ek die Fariseërs was sou ek vir Hom gesê het, “Jy sal nie so maklik wegkom met so ‘n brood-aan-beide-kante-gebotter antwoord nie”, maar dit is duidelik Hy het vir hulle so ‘n kishou gegee, dat hulle sonder twyfel aanvaar het dat hulle pakslae gekry het. Of sou ek iets miskyk?

  • Die klag teen die Here Jesus by Pilatus

‘n Verdere ding wat my laat wonder het (en dit is die derde episode oor die Here Jesus en belasting), is die klag wat deur die oudstes van die volk – die owerpriesters en skrifgeleerdes, net na die belastingvraag-episode by Pilatus teen Hom ingebring is: Volgens Luk 23:2 twee klagtes/beskuldigings:

“Ons het gevind dat hierdie man …”

      • “… die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, …”
      • “… terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.”

Die tweede “beskuldiging” is natuurlik geldig (sien Luk 22:67-17 en Luk 23:3), maar ons natuurlike reaksie is waarskynlik om die eerste beskuldiging summier, selfs onbedoeld-onnadenkend as vals te verwerp. Die meeste gelowiges het waarskynlik nog nooit eers ag geslaan op die eerste aanklag nie. Ons lees eintlik daar óór, want dit is vir ons so ’n onbestaanbaarheid (amper soos die Satan wat vir die Here Jesus die regeer van die koninkryke van die wêreld aangebied het), dat ons, sonder om eers twee maal daaroor te dink, aanvaar dat “die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge” (Luk. 22:52), wat die klag teen die Here Jesus inbring het, lieg. Die vraag begin egter knaag, as die tweede beskuldiging waar is, hoekom sou hulle dan oor die eerste aangeleentheid lieg? Dit is vanselfsprekend so, dat as hulle wou, kon hulle sekerlik sommer net ‘n valse getuienis hieroor opgemaak het, maar as mens meer begin delf in die gebeure wat in hierdie episode plaasvind, dan begin jy wonder. In die prent wat hier voor ons afspeel sien ek ’n klomp ouderlinge (die klaers), wat vir my (met die grootste versigtigheid gestel) in ’n sekere opsig lyk na “’n tipiese gereformeerde ouderlingeraad” (ouderlinge wat erns maak met hulle geloof, wat probeer hou by ’n suiwer uitlewing van die wet al is dit wetties en wat bereid is om enige iets wat hulle geloof bedreig met hand en tand te beveg). Natuurlik is hulle geloof misplaas, hulle oordeel verkeerd en hulle motiewe ook waarskynlik skeefgetrek, maar hulle sal juis waak om in hulle ywer nie die letter van die Wet (ingesluit die negende gebod) te oortree nie. ’n Ouderling sal, ter wille van sy eie gewete en integriteit, as Wetsonderhouer, nie ’n aantyging maak wat hy weet die ander ouderlinge en gemeente weet nie die waarheid is nie, al glo hulle almal in die meriete van die saak wat hy wil bevorder. Ons kry interessante bevestiging vir hierdie beoordeling in Luk 20:20 (die inleiding van die perikoop oor die belastingvraag-episode). Hier staan “En hulle (dit is die owerpriesters en die skrifgeleerdes) het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op ‘n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.” Hulle (die owerpriesters/skrifgeleerdes/ouderlinge) het dus baie moeite gedoen om ‘n gesubstansieerde klag te vind – as gesiene mense in die samelewing moes hulle darem “eerlik” wees, of ten minste so lyk, teenoor mekaar en die volk, wanneer hulle die klag inbring, al kon hulle dalk aangedik het, of die waarheid skeef aangebied het. Dit lei ons na twee moontlike verklarings:

      • òf hulle bewering in die klag, dat die Here Jesus “die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal”, is waar en geldig,
      • òf dit wat die Here Jesus gesê het, was sodanig dat dit moontlik was om daardie afleiding uit sy woorde te maak.

******

Om die belastingvraag-episode te ontrafel gaan ek, in dit wat verder volg, baie sterk steun op ‘n artikel hieroor van Jeffrey F. Barr[1] en ek lig twee van die dimensies van sy beoordeling uit:

  • Die historiese konteks van die episode.
  • Die retoriese struktuur van die episode.

Die historiese konteks van die episode

In die jaar 6 n.C. het die Romeinse besetters van Palestina ‘n sensusbelasting (per kop belasting) op die Jode ingestel. Sommige het dit as die begin van slawerny beskou. Die Jode het dit nie goed gevat nie en na die jaar 17 het daar twee dekades van belastingopstande gevolg wat die Romeine op brutale wyse probeer onderdruk het en waarin verskeie rebelse Jode, onder andere twee van die seuns van Judas die Galileër (van wie ons Handelinge 5:37 lees), bv. gekruisig is. Die belastingvraag-episode vind dus plaas midde in die filosofiese, politieke en teologiese stryd wat handel oor waar die oppergesag lê: Òf by die Here en sy goddelike wette, òf by die Romeinse keiser met sy heidense wette.

Die episode speel binne hierdie gelaaide politieke konteks plaas, net na die binnekoms van die Here Jesus in Jerusalem waar die skare hom as Koning verklaar het en net voor die Pasga, wat ‘n herdenking was van die Here se verlossing van sy volk van Egiptiese slawerny.

In hierdie tyd het Pontius Pilatus hom tydelik in Jerusalem gevestig met ‘n groot mag om gereed te wees om enige moontlike opstand van die massa Joodse pelgrims te onderdruk. Pontius Pilatus word in een van die geskiedenisboeke beskryf as die keiser se hoofsoldaat, hoof van die regstelsel en hoof belastinggaarder.

As nog ‘n voorbeeld van die hittige politieke klimaat kon Pilatus, enkele jare voor die Here Jesus se bediening, slegs ‘n bloedbad verhoed deur die beelde van die keiser, wat hy in die nag langs die tempel opgerig het, weer te verwyder.

Die retoriese struktuur van die episode

Die strikvraag

Die Fariseërs (volgens Lukas spioene van die owerpriesters en skrifgeleerdes) begin met:

“Meester (of leermeester of Rabbi), ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie …”

Die owerpriesters en skrifgeleerdes konfronteer die Here Jesus nie direk nie, maar gebruik Fariseërs as front, sodat dit lyk na ’n opregte vraag en sodat Hy nie dalk weier óm die vraag te antwoord nie (met as verskoning dat hulle net rede soek om hom te laat doodmaak), of dat hy dalk op sy hoede raak en hy ‘n versigtige veilige antwoord gee, waarop hulle Hom nie kan vasvat nie. So probeer hulle ontslae raak van die grootste risiko van hulle strikvraag – dat Hy weier om hulle te antwoord.

Met hierdie aanvang daag hulle ook subtiel Sy aanspraak op kerklike (Rabbi) gesag uit, want hulle meen dat hulle die enigste mense is wat met gesag die Joodse wet kan interpreteer (kwessies in die twee perikope voor die belastingvraag – Luk. 20:1-18). Met hierdie aanvang stelling dwing hulle ook die Here Jesus om twee dinge te doen:

    • Hulle forseer Hom om die vraag wat gaan volg te antwoord – indien hy weier sal Hy sy kredietwaardigheid verloor by die mense wat Hom so pas tot Koning verklaar het.
    • Hulle Forseer Hom om sy antwoord uit die Skrif te verantwoord.

Dan kom hulle met die strikvraag:

“Is dit geoorloof (Engels: “lawfull”) om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

Met ander woorde hulle vra of dit onder die Torah (Joodse heilige geskrifte) wettig is om Romeinse belasting te betaal. (Dit is interessant dat die vraag so-om gevra word: Ons sal in vandag se tyd van die vertrekpunt uitgaan dat dit normaal is om belasting te betaal en dan vra of dit dan verkeerd sou wees om nie belasting te betaal nie – hulle egter vra: Is dit reg/aanvaarbaar om belasting te betaal?)

Die strikvraag is opgestel om die Here Jesus in ’n dilemma van twee opsies te plaas:

    • As Hy sê dat dit wettig is om die belasting te betaal, sou Hy gesien word as ‘n medewerker van die Romeinse besetters en sal die Jode (ingesluit die mense wat hom pas as Koning verklaar het) hom verwerp.
    • As Hy sê dat die belasting onwettig is, loop hy die gevaar om as politieke misdadiger teen die Romeinse ryk/keiser, verhoor te word.

Met enige antwoord sou hy waarskynlik deur iemand dood gemaak word.

Die Here Jesus se eerste reaksie op hulle vraag is egter:

“Geveinsdes, waarom versoek julle My?”

Hiermee gee hy vir hulle ’n eerste haakhou, want hiermee pluk hy hulle masker en dekmantel af, bring hulle in die verleentheid en ontbloot hulle voor die toehoorders. Hy sou seker hier kon wegstap sonder om die vraag te antwoord en sonder enige verlies aan aansien of integriteit, want hulle bluf is geroep, maar anders as hulle moontlike verwagting, gaan hy nogtans voort om hulle antwoord.

Die muntstuk

“Wys My die belastingmunt.”

Het jy al ooit as daar oor belasting gedebatteer word, gehoor dat iemand vra om ’n muntstuk of ‘n noot te sien? Nee, want ons weet mos wat ons wil sê, sonder om die aandag op die muntstuk te vestig. Die Here Jesus doen egter hierdie eienaardige ding. Die feit dat Hy vra om ‘n muntstuk te sien (ook nie enige muntstuk nie, maar die belastingmunt), sê vir ons dat daar iets betekenisvol aan die betrokke muntstuk is.

Daar is twee ander dinge wat opval en dit is:

    • dat Hy oënskynlik self nie hierdie muntstuk by hom gehad het nie,
    • maar dat die Fariseërs maklik een te voorskyn kon bring.

Die penning of belastingmunt waarna die Here Jesus verwys, staan bekend as ‘n Dinarius. Dit was ‘n silwer muntstuk wat sowat 3,9 g geweeg het en wat in waarde gelykstaande was aan ‘n dagloon vir ‘n gewone werker. Die betrokke Dinarius sou deur keiser Tiiberius uitgereik gewees het, wat in hierdie tyd regeer het. (Waar sy pa, keiser Augustus, honderde Denari uitgereik het, het Tiberius slegs drie uitgereik, waarvan twee baie skaars was en hy voorkeur vir die derde een gehad het en kan ons aanvaar dat dit hierdie een is wat hier ter sprake is.)

Tiberius het hierdie geldstuk vir twintig jaar in sy munt vervaardig en dit was dus werklik sy eie geld en het dit verskil van die koper geld van die Romeinse senaat. Hy het dit gebruik om sy soldate, amptenare en verskaffers te betaal. Dit was nie volop nie en is hoofsaaklik in die besit van hierdie mense gevind sowel as Jode wat met Rome saamgewerk en handel gedryf het. Dit is dus insiggewend dat die Here Jesus nie so ‘n muntstuk besit het nie, maar ‘n Fariseër kon dadelik die muntstuk te voorskyn bring. Nog ’n interessante feit is dat Tiberius dit ‘n halsmisdaad gemaak het (met ander woorde jy kon doodgemaak word daarvoor) om ‘n geldstuk met sy kop in ‘n badkamer of in ‘n bordeel in te neem, want die Dinarius was ‘n tasbare verteenwoordiging van die keiser se mag, rykdom, onderwerping, heerskappy en vergoddeliking. Wat die te voorskyn bring van die munt deur ‘n Fariseër dus nog erger maak as die blote feit dat hy dit besit, is dat hierdie episode in die tempel afspeel en hy dus hierdie “onheilige” item in die heilige tempel ingebring het. Dit ontbloot die Fariseërs se skynheiligheid, want al probeer hulle te kenne gee dat hulle suiwer Skrifgetroue Jode is, pas hulle heel gemaklik in by die Romeinse bedeling.

Die Dinarius was ook die geldstuk waarmee van onderwerpte volke verwag is om hulle belasting te betaal en was dit dus ‘n manier waarmee die keiser mense gedwing het om sy geld te gebruik. (Sommer vir interessantheidshalwe oor wat die keiser gemeen het hom toekom: Die destydse belasting betaalbaar aan die keiser was sowat 0,38% of die waarde van een dag in die jaar se loon, teenoor die direkte inkomste belasting koers in Suid-Afrika van ongeveer 10%[2] of 37 dae in die jaar wat jy verplig is om vir die regering werk.)

Die teenvraag

Nadat die Here Jesus die geldstuk ontvang het, vra hy ‘n teenvraag:

“Wie se beeld en opskrif is dit?“

Hierdie teenvraag is vir twee redes belangrik.

Eerstens maak die Here Jesus gebruik van ‘n bekende “rabbiaanse” metodiek van redevoering, waardeur vyandige vrae weerlê word. Hierdeur vestig Hy sy gesag/outoriteit as rabbi.

Tweedens verwag die Fariseërs van die Here Jesus ‘n Skrifgegronde reaksie, wat hy dan ook doen deur die gebruik van die woorde “beeld” en “opskrif”. Hiermee handel hy met belangrike bepalings van die Joodse Torah, naamlik die eerste en tweede gebod in die wet en die Shema.

    • Beeld: Eks 20:3-5 lees: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; … Let op die beeld in die vraag en die beeld in die Wet. God eis eksklusiewe trou van sy mense en hy verbied die maak en bewondering van ‘n beeld van ‘n valse god.
    • Opskrif: Die Shema is ‘n Joodse gebed wat begin met “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” en is gebaseer op Deu 6:4-9 en Num 15:37-41. Die Here Jesus self haal blykbaar aan uit hierdie gebed net na die belastingvraag-episode en ook toe die Satan hom in die woestyn versoek het. Hier gaan dit oor die ingraveer in alles wat ons is en het dat “onse God ‘n enige Here” is. Let op die opskrif/inskripsie in die vraag teenoor die ingraveer bedoeling in Bybelteks.

Die antwoord op die teenvraag

Die antwoord op die teenvraag is ‘n kort:

“Die keiser s’n.”

Ons sien elke dag die koppe van politici op geldmunte – miskien die dat ons nie veel waarde aan hierdie antwoord skenk nie – ons sou die antwoord eintlik amper kon voorspel. Maar die wesenlike lê meer in hoe die muntstuk (Dinarius) lyk, as net in die antwoord self.

Die voorkant het ‘n afbeelding van die kop van Tiberius met die inskripsie “TI CAESAR DIVI AUG F AUGUSTUS”, wat staan vir “Tiberius Caesar Divi August Fili Augustus” wat vertaal na “Tiberius Caesar, die Aanbiddelike Seun van die God Augustus.”

Die teenkant van die munt vertoon die inskripsie “PONTIF MAXIM” wat staan vir “Pontifex Maximus” wat beteken “Hoë Priester” en die beeld wat hier vertoon is die van die keiser se ma, Julia Augusta (Livia), wat sit op die troon van die gode. Sy hou die Olimpiese septer in haar regterhand en in haar linkerhand ’n olyftak, met die implikasie dat sy die aardse inkarnasie is van Pax, die Romeinse godin van Vrede.

Hierdie munt verkondig dus die kultus van keiseraanbidding en sy soewereine heerskappy oor almal wat daarmee handel dryf.

Die Here gebruik die keiser se munt en die Fariseërs se eie getuienis om self te spreek oor die kontraste wat hierdeur vir ons ontvou word:

 

    • Tiberius Caesar, die Aanbiddelike Seun van die God Augustus

versus

Jesus Christus, die seun van die Almagtige Lewende God.

 

    • Pax, die goddelike hoë priester van vrede

versus

Jesus Christus die Nuwe Testamentiese Hoëpriester (Hebreërs is vol hiervan) van die “God van vrede”.

 

    • ’n Koning van die wêreldse Romeinse ryk

versus

’n Koning van die heelal en Heerser van die ewige Koninkryk.

 

Hierdie is ‘n ironiese prentjie: Hier staan die Koning van die heelal, die Seun van God, self God, en hou ‘n klein metaal muntjie vas waarop ‘n mens vir homself goddelikheid toe-eien.

‘n Tweede rede waarom die antwoord belangrik is, is omdat die Here Jesus Hom hierdeur bewys as die opper Rabbi en waar die Fariseërs oortuig was dat hulle met hulle vraag Hom in sy woorde gaan verstrik, swaai Hy dit behendig om en word die Fariseërs verstrik in húlle eie antwoord. Die indruk wat Hy maak is so verpletterend dat sy vyande waarskynlik by hulle self moes wonder of Hy nie dalk werklik die Seun van God is nie.

Antwoord op die oorspronklike vraag

Tot hier het die Here Jesus nog glad nie aandag gegee aan die oorspronklike vraag nie en hoef ook eintlik nie meer nie, want vir al die omstanders is die verpletterende nederlaag van die Fariseërs en die wat agter hulle sit, onbetwisbaar. Die veldslag is reeds gewen, maar Hy keer nogtans terug met ’n finale “doodsteek” antwoord op die vraag:

“Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”

Waar hierdie antwoord in ’n ander scenario so maklik ’n lafhartige niksseggende polities neutrale antwoord sou wees, verander dieselfde woorde nou in ’n onbeskryflik indrukwekkende bevestiging van die Here Jesus se goddelike alverhewendheid en so word die Fariseërs en die keiser in eie munt (die keiser s’n) terugbetaal.

Dit raak dus nou ook duidelik waarom die Skrifgeleerdes, op grond van hierdie episode, in hulle klag by Pilatus kon aanvoer dat die Here Jesus hom teen belasting aan die keiser uitgespreek (dit “verbied”) het.

Ten slotte

So wat kom die keiser toe en wat kom God toe? Na bogenoemde uiteensetting waarin die Here Jesus sy gans andere verhewendheid getoon het, voel dit eintlik erg onvanpas om na hierdie wêreldse perspektief terug te keer, maar omdat die algemene opvatting van hierdie Skrifgedeelte gebruik word om regeringbelasting goed te praat, word nog eens vinnig daarmee gehandel. Alles behoort aan die Here en alles is ondergeskik aan die Here (ook regerings) – ons weet dit. Hy sê self so in Haggai 2:8 “Aan My behoort die silwer en aan My die goud… .” Gesien teenoor God, kom dus niks die keiser toe nie (ten spyte daarvan dat hy meen hy verdien die aansien van ‘n god) … alles kom vir God toe. Die keiser (en regerings vandag) gee voor dat hulle die eienaar in laaste instansie van alles is en indoktrineer mense om te dink dat ekonomiese lewe, vrede en voorspoed van hulle afhanklik is en steel so die eer van die Here, die Gewer van alle goeie gawes, wat versorg sonder dwang en sonder die insamel van belasting.

Hoe dit ook al sy, dit behoort ten minste op hierdie stadium klinkklaar te wees dat niemand spesifiek die belastingvraag-episode kan interpreteer as dat die Here Jesus Hom hiermee ten gunste van regeringbelasting uitgespreek het nie. Natuurlik is daar ook ander gedeeltes in die Bybel wat met belasting handel. Tekste soos die in Romeine 13 is van die eerste gedeeltes wat in mens se gedagtes opspring en daaroor kan, soortgelyk as met die belastingvraag-episode, openbarende eksegese gedoen word, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel wat bloot wil aandui dat die belastingvraag-episode opsigself nie as regverdiging vir belasting aangevoer kan word nie.

Maar hier is egter die mees belangrike: Die essensie van die boodskap wat die Here Jesus hier oordra, blyk glad nie oor belasting te gaan nie. Wat die Here Jesus vir die toehoorders (ook ons) en sy antagoniste blyk te sê, is dat mense moet kant kies (“Hy wat nie met My is nie, is teen My…”; “Niemand kan twee here dien nie…”) – dus sê Hy vir hulle (ons), kies vir wie jy wil dien. Glo jy die keiser of glo jy vir God? Glo jy in die keiser of glo jy in God?

Die Here Jesus dryf met sy antwoord nie net die punt tuis dat hy die botoon gevoer het nie, maar dit is ook waarskynlik ’n genade aanbod vir sy teenstanders om ná die perspektief wat hulle uit die episode ontvang het, vir die Here kant te kies – nou ingelig, kies die Fariseërs en die mense wat agter hulle geskuil het, tragies genoeg egter steeds teen Hom met die klag wat hulle teen Hom by Pilatus indien.

Die (misdadige) dwaling, deur woorde in die mond van die Here Jesus lê, deur te beweer dat Hy in hierdie episode vir ons ’n opdrag gee om belasting te betaal, is egter nie net tot politici soos mnr. Mboweni beperk nie – meeste van ons het met hierdie uitleg groot geword. Dit strek egter, met respek gesê, ons leraars nie tot eer dat hulle oor ’n saak soos hierdie, wat ’n wesenlike invloed op die mensdom se lewens- en wêreldbeskouing het, nie die Woord oopbreek tot beter perspektief nie.

(Let daarop dat hierdie artikel nie ten doel het om mense aan te moedig om nie belasting te betaal nie, maar om ’n paradigmaskuif in perspektief aan te moedig vir wanneer jy weer iemand hoor sê “Gee aan die keiser wat die keiser toekom …”.)

[1] Barr, JF. 2013-03-17. Render Unto Caesar: A Most Misunderstood New Testament Passagehttps://www.lewrockwell.com/2010/03/jeffrey-f-barr/render-unto-caesar-amostmisunderstood-newtestamentpassage/

[2] BusinessTech. 2018-03-22. The highest income tax rates in the world – including South Africa – https://businesstech.co.za/news/finance/233199/the-highest-income-tax-rates-in-the-world-including-south-africa/

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.93 avg. rating (97% score) - 14 votes