Deel die artikel met jou vriende:

Elke nou en dan verval ons in ‘n valse gerustheid dat Eskom in staat gaan wees om die ligte aan die brand te hou, want die regering sal hulle mos aan die gang hou.

Besluitnemers en regerings- sowel as Eskomleiers het reeds in die laat 1990’s voorspel dat Eskom uit kragreserwes sou hardloop teen 2007, tensy aksie geneem sou word om dit te verhoed. In Desember 2007 tref die spreekwoordelike papaja egter wel die waaier met die eerste rondte van beurtkrag wat eers in 2008, dieselfde jaar as wat die eerste KragDag ekspo plaasvind, tydelik tot ‘n stilstand gebring word. Die oënskynlike einde van stukke vlieënde papaja, was egter bloot die gevolg van die waaier wat kragloos gaan staan het weens die sny van elektrisiteitsgebruik deur groot industrieë – natuurlik teen geweldige ekonomiese skade vir die land.

Einde 2014 maak beurtkrag ‘n opspraakwekkende hertoetrede tot die toneel met dreigende groter katastrofale proporsie as die vorige rondte. Nog meer skade, met talle energiehonger industrieë, soos smelterye, wat die land uit gedryf word, met nog groter skade aan die ekonomie. Rapportering oor Eskom probleme blyk in hierdie tyd nimmereindigend te wees – onvoldoende elektrisiteitleweringskapasiteit, gebrekkige onderhoud, verouderde infrastruktuur, steenkool probleme, diesel tekort, water tekort, korrupsie, onbevoegdheid en talle verskonings. Eskom gaan terselfdertyd uit sy pad om mense te ontmoedig om sy eie produk te gebruik – so anders as wat ‘n privaat onderneming in ‘n vrye mark dit sou doen. Soos een van my vriende sou sê: “Sonder die regering sou beurtkrag nie moontlik wees nie!”

In 2016, net twee jaar gelede, verklaar Eskom, via sy hoof uitvoerende beampte, Brian Molefe, dat beurtkrag geskiedenis is, danksy verhoogde kapasiteit as gevolg van hoofsaaklik die byvoeging van die kontroversiële twee nuwe kragstasies (en veral vernietiging van baie van ons energie-afhanklike industrieë, waardeur die vraag drasties gekrimp het).

Teen 2017 het toenemende skuldvlakke en korrupsie skandale daartoe gelei dat die beleggingsbank, Goldman Sachs, verklaar dat Eskom die grootste bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie is. Eskom het R413 miljard skuld en beplan om ‘n addisionele R340 miljard teen 2022 te leen (sowat 8% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk).

En toe onlangs is beurtkrag weer terug soos ‘n wafferse die-kat-kom-weer om maar net weer te kom spook. Hierdie keer met ‘n onverwagse oorsaak – arbeidsonlus. Tydens hierdie gebeure rapporteer die Eskom segsman Khulu Phasiwe ”So far, the centre is still holding but things are falling apart around our systems …” Die ironie is dat dit juis die “centre” (die bestuur) is wat verantwoordelik is vir die in duie stort van hierdie dinosourusagtige organisasie.

In 2018 rapporteer Eskom ‘n reuse wins-afname wat Eskom laat stoei om by te hou met renteverpligtinge op sy skuld. Stygende koste en onbetroubare dienslewering, maak alternatiewe energie wat ook al hoe meer bekostig raak, ‘n meer aantreklike opsie vir energieverbruikers. Met sneeubal effek maak mense uit die poel van betalende Eskom kraggebruikers, wat vir die poel van nie-betalendes moet instaan, hulle toenemend los van Eskom. Dit lei tot inkomstedruk vir Eskom wat gevolglik lei tot verhoogde tariewe. Op sy beurt sit dit weer die kringloop aan die gang vir die volgende ronde van gebruikers vir wie dit die moeite werd raak om Eskom vaarwel te roep. Die regering besef dit ook en dit is dus geen wonder dat hulle nou weer wetgewing en regulasies van stapel wil stuur om mense se moontlike gebruik van alternatiewe energie te inhibeer en te beheer nie.

In die lig van bogenoemde (en terwyl daar nog lig is), sal dit dus naïef en dwaas wees om hierdie risiko nie ernstig op te neem nie.

Aan die positiewe kant het die prentjie en potensiaal van alternatiewe energie gelukkig oor die laaste dekade geweldig verbeter, met tegnologiese vordering en ‘n drastiese daling van pryse, wat in talle gevalle die waarde van Eskomkrag verby gesteek het.

Dit is teen hierdie agtergrond dat AfriSake KragDag 2018 vanjaar weer prominent fokus op die uitstal van alternatiewe energie oplossings, maar nie net reaksionêr teen die bedreiging van Eskom faling nie. Om die waarheid te sê is dit eerder ‘n inisiatief om mense met oplossings toe te rus om selfstandig te raak – op energie gebied, maar ook op verskeie ander lewensterreine, soos Opvoedkunde, Veiligheid, Tegnologie, Water, Voedselproduksie, Gesondheid, Konstruksie, Ontspanning, Vervoer, Ekonomie, Finansies, Doen-dit-self planne, die bevordering van ‘n Makersbeweging en Entrepreneurskap en selfs in lewensbeskoulikheid.

Loer gerus by www.kragdag.co.za vir meer besonderhede oor hierdie jaar se ekspo.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.62 avg. rating (73% score) - 8 votes