Deel die artikel met jou vriende:

In ‘n vorige artikel is gekyk na omgekrapte weerpatrone as ‘n werklike of bydraende oorsaak en gevolg van die stofstorms.

Die herstel van grondgesondheid, grondagteruitgang, aardverwarming, produktiwiteit en volhoubaarheid is alles onlosmaaklik gekoppel aan mekaar en die oplossing kom eenvoudig neer op die balansering van koolstofvlakke in die atmosfeer en die grond. Die enigste manier hoe dit in die praktyk kan plaasvind is deur bewaringslandbou (BL). Elke hektaar waar die GOM  (grondorganiese materiaal) met net 0.1% verhoog word, word 8.9 ton CO2 vasgelê. Dit is ‘n ongelooflike waarde, maar in die praktyk is dit nie net moontlik nie, maar word alreeds deur verskeie goeie bewaringsboere oortref. BL is die toepassing van die volgende praktyke, wat aan die hand van voorbeelde verduidelik word:

Minimale meganiese grondversteuring

Foto 4 – Geenbewerkingsplanters wat direk in oesreste plant Noordwes (Foto-Hannes Otto)

Soos reeds in die vorige artikel genoem is, moet grondversteuring so ver as moontlik vermy word om die afwaartse spiraal van grondagteruitgang te stop. Die idee is dus om direk in onversteurde, maar goed bedekte grond te plant sonder meganiese grondvoorbereiding deur middel van sogenaamde minimum- of geenbewerkingspraktyke. Spesiale geenbewerkingsplanters is hiervoor nodig (sien Foto 4). Dit hou ook ander voordele in soos aansienlike verlagings in energieverbruik en kweekhuisgasvrystelling.

Permanente organiese grondbedekking

Grondbedekking is die grond se pantser teen enige vorm van erosie. Soos wat grondbedekking verminder vanaf 100% na 1%, verhoog die erosietempo met ongeveer 200% (Pimentel, 2006). ‘n Grondbedekking van ten minste 30% word verlang. Foto 5 wys hoe ‘n goeie bedekking van oesreste winderosie in die westelike graanstreke se sandgronde drasties verminder, terwyl tonne grond vanaf ontblote grond verloor word in Foto 6. Die praktyk van kaal braaklande is ‘n “selfvernietigende oefening” wat ten alle koste vermy moet word, volgens Jones (2007). Tydens droë periodes rig winderosie groot skade aan, wat opgevolg word deur watererosie tydens donderstorms en wat al hoe hewiger gaan word. Grondbedekking kan deur oesreste en/of gewasse voorsien word.

Foto 5 – ‘n Goeie bedekking van oesreste onder bewaringslandbou op sandgronde in die Noordwes-Vrystaat (Foto – Hendrik Smith)

Foto 6-‘n Swak grondbedekking of kaal-braakland maak grond uiters kwesbaar vir winderosie (Foto-Volksblad)

 

 

 

 

 

 

 

Foto 7 -‘n Somerdekgewasmengsel met Lablab Sonhennop en voersorghum Ottosdal Noordwes (Foto-Hendrik Smith)

Gewasdiversiteit, insluitend die gebruik van dekgewasse

Plante is natuurlik die belangrike skakel tussen die son se energie en grond. Hoe meer en hoe langer plante in die grond groei (oftewel om lewende wortels in die grond te hê), hoe vinniger vind die opbou van koolstof in die grond plaas (deur die oplosbare koolstofbrug). Daar moet ten minste drie gewasse in die rotasie/assosiasie wees en die gebruik van multi-spesie dekgewasstelsels om hierdie biologiese proses te versnel neem baie vinnig toe (sien Foto’s 7 tot 9).

Foto 8 – ‘n Winter dekgewasmengsel wat verkieslik voor middel Maart geplant word bestaande uit Swarthawer (30 kg per ha), Weiwieke (15 kg per ha) en Radyse (3 kg per ha)

Foto 9 -‘n Somergewas wat direk in dooie winterdekgras geplant is Noordwes-Vrystaat (Foto-Hendrik Smith)

Dekgewasse bied natuurlik ook ‘n ideale oplossing vir produsente wat as gevolg van die droogte nie betyds kontantgewasse kon plant nie; ‘n geskikte dekgewas of -mengsel kan enige tyd van Januarie tot Maart gevestig word om die grond te beskerm en te verbeter, maar ook om kwaliteit voer vir vee te voorsien (sien Foto 8 onderskrif vir ‘n ideale dekgewasmengsel vir die winter).

Die produsent as primêre innoveerder

Foto 10 – Grondprofielondersoek by bewaringslandbouproewe Ottosdal Noordwes (Foto-Hendrik Smith)

Die sukses van BL hang direk af van die kwaliteit van BL-toepassing. Dit impliseer onmiddellik die boer as die primêre innoveerder in die stelsel, want BL ‘gebeur’ of word aangepas in elke boer se unieke situasie. Dit is dus ‘n sosiale konstruk wat deur veral sosiale (met ander woorde die waardes, doelwitte en oortuigings van mense), maar ook ekonomiese en bio-fisiese faktore bepaal word. Die innoveringsvermoë en die intensie/motivering van ‘n boer (die ‘jockey’) speel dus ‘n groot rol in die sukses hiervan. Die BL-innoveringsproses is ‘op-plaas’ en is lewenslank; dit word ook versterk deur die ondersteuning van ‘n groep boere, soos ‘n studiegroep. Hoe meer hierdie boeregroepe, -strukture of innoveringsplatforms deur ander rolspelers, soos navorsers, agri-besigheid, ensovoorts, gebruik en ondersteun word, hoe vinniger en van beter kwaliteit is die proses en die stelsel. Op-plaas proewe is een van die belangrikste instrumente in hierdie leer- of innoveringsproses (sien Foto 10 by die Ottosdal No-till Klub proewe, een van die Graan SA / Mielietrust projekte wat BL in die westelike graangebiede bevorder).

Gevolgtrekking

Die boodskap behoort duidelik te wees: die manier hoe ons gaan boer gaan òf meer koolstof in die lug plaas en verder bydra tot aardverwarming, stofstorms en grondagteruitgang, òf dit gaan koolstof terug in die grond plaas, reg onder ons voetsole waar dit hoort, en so deel word van die langtermyn oplossing. Die heropbou van grond deur regenererende bewaringslandbou is ‘n prakties haalbare sleutel tot die volhoubaarheid van graanverbouing in Suid-Afrika en die wêreld en is die verantwoordelikheid van ons generasie.

Verwysings:

  • Department of Environmental Affairs (DEA), 2015. Strategic Climate Policy Fund: Improvement of the Greenhouse Gas Emissions Inventory for the Agricultural Sector. Document 1 of SCPF003.
  • Du Preez, C.C., 2003. Volhoubare landgebruik en grondkwaliteit: organiese materiaal as indikator. SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 22, no. 4. ISSN 0254-3486
  • Du Preez, C.C., Van Huyssteen, C.W. and Mnkeni, P.N.S., 2011. Land use and soil organic matter in South Africa 2: A review on the influence of arable crop production. S Afr J Sci. 107(5/6), Art. #358, 8 pages. doi:10.4102/sajs. v107i5/6.358.
  • Griffin, D.W., Kellogg, C.A., Shinn, E.A., 2001. Dust in the wind: Long range transport of dust in the atmosphere and its implications for global public and ecosystem health. Glob. Change Hum. Health 2, 20–33.
  • Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC), 2014. Fifth assessment report: climate change 2014 synthetic report. Available at: https://www.ipcc.ch/report/ar5/ (accessed 20 August 2015).
  • Jones, C., 2007. Building soil carbon with Yearlong Green Farming. Evergreen Farming Newsletter 08.
  • Lal, R., Negassa, W. and Lorenz, K., 2015. Carbon sequestration in soil. Current Opinion in Environmental Sustainability 15, 79–86.
  • Lobe, I., Amelung, W. and Du Preez, C.C., 2001. Losses of carbon and nitrogen with prolonged arable cropping from sandy soils of the South African Highveld. European Journal of Soil Science 52, 93-101.
  • Pimentel, D., 2006. Soil Erosion: A Food and Environmental Threat. Environment, Development and Sustainability 8, 119-137.
  • Swanepoel C.M., Van der Laan, M., Weepener, H.L., Du Preez, C.C. and Annandale, J.G., 2015. Review and meta-analysis of organic matter dynamics and associated greenhouse gas emissions in cultivated soils in southern Africa. Presentation at the Sustainable Soil Management Symposium 5-6 November 2015, Stellenbosch, South Africa
  • Wiggs, G. and Holmes, P., 2011. Dynamic controls on wind erosion and dust generation on west-central Free State agricultural land, South Africa. Earth Surf. Process. Landforms 36, 827–838.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

1.00 avg. rating (52% score) - 1 vote