Biogas in die huidige Suid Afrika

Deel die artikel met jou vriende:

Die opwekking van energie deur middel van biogas is een van die mees volhoubare en omgewingsvriendelike vorms van hernubare energie beskikbaar.  Tydens ‘n anaërobiese verteringsproses word organiese afval, wat meestal skadelik vir die omgewing is, in organiese bemesting omgeskakel. Terselfdertyd word hernubare energie in die vorm van biogas opgewek.  Vanuit ‘n volhoubare oogpunt is daar nie ‘n beter oplossing as dit nie!

Biogas kan aangewend word as ‘n direkte energiebron vir gasstowe en -geisers, of dit kan omgeskakel word na elektriese krag. Dit kan ook opgegradeer word na bio-metaan wat as ‘n plaasvervanger vir LPG of natuurlike gas gebruik kan word.  By die meerderheid biogasaanlegte is die mees lewensvatbare aanwending van biogas die opwekking van krag, terwyl daar van ‘n sogenaamde CHP- (combined heat and power) kragopwekkingseenheid gebruik gemaak word.  So ‘n opwekkingseenheid sluit ‘n hitte-uitruilingstelsel in wat hitte opvang, wat deur die kragopwekker opgewek word. Hierdie hitte word gebruik om water te verhit – gewoonlik tot so 85° celsius.  Díe warm water kan dan as sulks gebruik word, óf dit kan aangewend word tydens stoomopwekking, deur koue water se temperatuur te verhoog alvorens dit in stoom omgeskakel word.  Warm water kan ook ingespan word as energiebron vir verkoeling deur die sogenaamde absorpsie-verkoelingseffek.  Indien die hitte wat deur die kragopwekker opgewek word nie aangewend word nie, gaan dit eenvoudig verlore.  Die gebruik van ‘n CHP-eenheid lewer dus hitte wat feitlik verniet is en dit kan potensieel ‘n wesenlike bydrae maak tot die finansiële lewensvatbaarheid van ‘n projek, indien daar ‘n behoefte aan hitte in die projek sou bestaan.  Hoe duurder die koste van die hitte wat deur die CHP vervang word is, (LPG is die hoogste, gevolg deur diesel, elektrisiteit en daarna steenkool) hoe beter lyk die finansiële syfers.

Bo-en-behalwe die opwekking van energie, lewer ‘n biogas-aanleg addisionele voordele.  Soos reeds genoem, word biogasverteerders met organiese afval gevoer, wat in die meeste gevalle as skadelike materiaal direk in die omgewing sou beland het.  Omdat hierdie organiese materiaal nie op stortingsterreine beland nie, dit nie begrawe word óf direk in die natuur gestort word nie, word daar nie skade aan ons grond, grondwater of riviere aangerig nie.  Verder beland die metaangas wat in die aanleg verbrand word nie in die atmosfeer nie, en dít dra sodoende by tot die vermindering van koolstofdioksied-besoedeling. Dit is bekend dat 1 ton metaangas die ekwivalente skade aanrig van 22 ton koolstofdioksied, indien dit toegelaat sou word om in die atmosfeer te beland.

Die toepaslikheid van biogas strek van baie eenvoudige huishoudelike stelsels tot enorme kommersiële aanlegte wat elektriese krag in megawatt (MW) hoeveelhede kan opwek.  Die grootste aanleg in Afrika staan juis net buite Bronkhorstspruit en wek ongeveer 4,4 MW krag op, wat dan aan die BMW-motor aanleg in Pretoria verkoop word.  Daar is ook al oor die 500 huishoudelike grootte biogasaanlegte gebou en geïnstalleer regoor Suid-Afrika.

Alhoewel daar oënskynlik soveel voordele verbonde is aan die installering van biogas aanlegte, bly hierdie tegnologie steeds traag om in Suid-Afrika behoorlik pos te vat.  Daar is verskeie redes hiervoor waarvan die grootste steeds toegeskryf kan word aan die relatiewe onbekendheid van die tegnologie.  Mense is oor die algemeen traag om ‘n nuwigheid aan te pak, veral as so ‘n projek jou ‘n redelike klomp geld uit die sak gaan jaag.  In die nywerheid is daar egter al hoe meer aanlegte wat op dreef kom aangesien biogas-tegnologie stadig maar seker besig is om aanklank te vind by veral groot instansies met wesenlike organiese afvalprobleme.  Die grootste uitdaging bly egter nog steeds dat die ontwikkeling van ‘n biogasaanleg nog nie die vlak van opbrengste kan toon wat beleggers en finansiers opgewonde maak nie. In die meeste lande waar groot biogas-industrieë bestaan, is ontwikkeling gestimuleer as gevolg van die beskikbaarheid van gunstige terugkooptariewe. Opgewekte krag kan teen ‘n aansienlike premie weer aan die elektrisiteitsnetwerk terugverkoop word.  Ongelukkig is sulke tariewe nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Verder bestaan daar ook geen addisionele toegifte, belastingstoegawes of ander vorm van staatshulp nie.  Daar is egter goeie nuus in die verband deurdat die Biogas-industrie Vereniging (SABIA) tans besig is met die ontwikkeling van ‘n subsidie-skema, spesifiek gerig op die biogas-industrie, wat hopelik binnekort aan die owerheid voorgelê sal word.

Daar is al oor die 35 kommersiële aanlegte oor die afgelope 5 jaar in Suid-Afrika ontwikkel, terwyl talle biogasaanlegte reeds op die ontwerpstafel is. Deur die jare het Suid-Afrikaners baie planne gemaak om nuwe produkte te ontwikkel of om toerusting aan te pas, ten einde plaaslike uitdagings aan te spreek.  Die meeste biogasontwikkelaars in Suid-Afrika het dan ook al hulle rug gedraai op die peperduur oorsese tegnologië en toerusting deur ontwerpe aan te pas wat dit meer prakties en veral ook goedkoper maak. Sodoende word kostes verlaag en word beter projek-opbrengste verseker.

Die grootste behoefte en gevolglik ook die grootste potensiaal wat bestaan, is vir middelslag-grootte biogasaanlegte wat lê tussen ‘n huishoudelike aanleg en ‘n groot kommersiële aanleg.  Daar is verskeie ontwikkelaars wat produkte aanbied wat self deur die boer of kliënt geïnstalleer kan word, of waar ten minste ‘n gedeelte van die werk self gedoen kan word om sodoende kostes te verlaag.  Dit is dan ook in hierdie kategorie waar daar die grootste groei oor die volgende paar jaar gesien sal word.

Indien hierdie artikel jou geprikkel het, sal dit vir jou sekerlik goeie nuus wees dat ‘n biogaskursus, “Produseer jou eie Biogas-energie”, op 24 November 2018 deur die skrywer aangebied word. Onthou om jou plek voor 21 November te bespreek!

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

About the Author:

Mark Tiepelt is ‘n gekwalifiseerde siviele ingenieur met 26 jaar ondervinding in konstruksie, alternatiewe boumetodes en volhoubare energie-tegnologieë. Mark het sy maatskappy BiogasSA in 2009 gevestig en sederdien meer as 150 huishoudelike grootte verteerders gebou, sowel as ‘n 400kW kommersiële biogas-aanleg by ‘n abattoir in Springs. Mark het verskeie biogasverwante verslae opgestel en uitvoerbaarheidstudies gedoen. Hy doen ook raadgewende werk in die biogasbedryf, plaaslik sowel as internasionaal. Vir jare reeds is Mark aktief betrokke met die ontwikkeling van die biogasbedryf in Suid-Afrika en was gemoeid om die eerste biogas-werkswinkel in November 2012 te organiseer. Hy was instrumenteel in die daarstelling van die Southern African Biogas Industry Assosiation (SABIA) waar hy vir 3 jaar as voorsitter gedien het. Hy het ‘n sleutelrol gespeel in die vestiging van die National Biogas Platform en is in Julie 2017 aangewys as biogas-konsultant by die United Nations Industrial Development Organization (UNIDO).

Leave A Comment

*

code