Deel die artikel met jou vriende:

Titel: Kinders wat moor

Outeur: André le Roux

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

ISBN: 978-0-62408-942-1

Kinders wat moor

deur André le Roux

Die gedagte dat kinders kan moor is ontstellend om die minste te sê! Reeds met die optel van hierdie boek het daar ’n ysige rilling langs my ruggraat afgegly. Suid-Afrikaners word daagliks met soveel geweld gebombardeer dat ons in ’n mate afgestomp geraak het. Jy lees soggens aan die ontbyttafel oor dié of dáái wat wreed vermoor is, skud jou kop oor die wetteloosheid wat aan die orde van die dag is, brom oor hoe ’n mens se lewe niks werd is nie, en ry dan werk toe en gaan aan met jou daaglikse take. Hulle sê mos vandag se koerant is môre se vis en tjips papier. Jy is maar net te bly dat jý die misdaad vrygespring het en nog ’n dag het om te leef. Maar kinders wat moor?! Kinders! Dié vreemde gedagte wil maar nie lekker vatplek kry in ’n mens se binneste nie. Tog is kinders wat moor geensins ’n vreemde verskynsel nie en gebeur dit baie meer dikwels as wat ons dink. André le Roux het na antwoorde gaan soek “aan die hand van gevallestudies en die jongste navorsing”. Sy boek, Kinders wat moor, is pas vrygestel en beslaan 350 bladsye.

“Dit lyk asof kinders nog altyd ander kinders doodgemaak het” (26), skryf Le Roux. “Kinders wat moor, het deur die eeue heen so algemeen geword, hul name is meestal vergete. Dis net die opspraakwekkendste moorde wat vandag nog, vaagweg, onthou word, die detail lankal verlore (28). In die middel 1600’s is ’n 14-jarige seun gehang omdat hy ’n baba in ’n wiegie aan die brand gesteek het (28). Die tienjarige William York het in 1748 ’n 5-jarige dogtertjie met ’n mes doodgemaak (27).

Moet ook nie dink dat net ouer kinders en tieners moorde pleeg nie. Selfs voorskolers moor. Le Roux gee voorbeelde van vyfjarige moordenaars. In die een geval in Kansas City in 2011 het ’n 5-jarige dogtertjie ’n babaseuntjie na die badkamer gesleep en hom in die bad verdrink omdat hy “net te veel gehuil” het (27). Die joernalis Jana van der Merwe haal Chané van Heerden wat saam met Maartens van der Merwe aangekla is op die moord van ’n jong elektrisiën, Michael van Eck, aan: “Dit was iets wat ek wou doen sedert ek 3 jaar oud was” (44).

Die maniere waarop kinders moor is ook afgryslik. Hulle verdrink, verwurg, verbrand, skiet of slaan en skop onder meer hulle slagoffers (ook diere) dood. Hulle moor ook nie altyd alleen nie, maar soms in groepe. En hulle kan meer as een keer moor. Ene Jesse Pomeroy van Boston, Massachusettes, was glo nie net uiters aggressief nie, hy was ook sadisties. Hy het op 11 jaar die eerste keer gemoor – hy het kinders opgehang, gemartel en doodgemaak. Volgens sy eie bekentenis het hy 28 moorde gepleeg. Messe was sy voorkeurwapen (145). Kinders vermoor ook nie net ander kinders nie, maar ook volwassenes – selfs hulle ouers en sibbe. “Maar meisies kan ewe gevoelloos wees. Trouens, wanneer meisies moor terwyl hulle by ’n ander misdaad soos roof betrokke is, is hulle gevoelloser as seuns” (172).

Le Roux merk op: “Maar telkens, met elke nuwe moord, duik dieselfde vrae op. Wat het verkeerd geloop? Dit kan tog nie wees nie. Nie hý nie … Dis wanneer ouers sê, nee, ek het nie my kind so grootgemaak nie. Nie mý kind nie. Ek kén my kind” (28). Die vrae hou nie op nie. Is dit die ouers se skuld? Lê die probleem by die kind se gene? Kom kinders wat moor uit gebroke, onstabiele of armoedige huise? Is hulle mishandel of seksueel misbruik? Het hulle spirituele probleme of geestesprobleme soos skisofrenie of psigopatie? Is hulle betrokke by satanisme of heksery? Gebruik hulle dwelms? Moor hulle weens groepsdruk of portuurdruk? “Maar dink ook aan Don Steenkamp, wie se huislike lewe volgens alle aanduidings gelukkig was, die Waterkloof-4 en Henry van Breda, wat oënskynlik bevoorregte rykmansseuns was” (63). Aangaande Henri van Breda skryf Le Roux: “Daar was sprake van dagga en daar was obseniteite, wat op gedragsprobleme kon dui. Maar andersins was Henri van Breda ’n intelligente, opgevoede jong fisika-student, ’n ywerige kosmaker wat ook aan ’n sjefskool in die Kaap gestudeer het. Al probleem: Hy’t gehakkel” (66).

Le Roux se intensiewe navorsing strek wyd (loer gerus na sy indrukwekkende bronnelys), en hy verwys na dosyne plaaslike en internasionale gevalle waar kinders gemoor het. Hy kom tot ’n verrassende slotsom wat ek nie hier sal uitblaker nie maar vir die leser sal los om self uit te vind. Kinders wat moor is inderdaad ’n uiters onthutsende maar boeiende boek om te lees. Ek voorsien dat die feitelike inligting vervat daarin nog lank by my sal spook.

Beveel ek die boek aan? Beslis! Le Roux is nie daarop uit om sensasie op ’n makabere wyse te ontlok met dié boek nie. Ek het dit uiters leersaam en fassinerend gevind en wil amper sê dat dit onontbeerlike leesstof is vir enigeen wat graag wonder oor waarom mense doen wat hulle doen. (Dis net jammer dat die skrifgrootte so klein is!)

Oor die skrywer:

André le Roux, ’n gewilde rubriekskrywer en gesoute joernalis, het onder meer al by Beeld, Huisgenoot en Die Burger gewerk. Hy was voorheen ook eindredakteur by Sarie. Daar het al baie topverkopers uit sy pen verskyn, soos Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, Op die man af, Nou ja toe en Op die vrou af. Hy skryf deesdae hoofsaaklik niefiksie en stel baie belang in neurowetenskap en geestesgesondheid.

Skaf Kinders wat moor HIER aan.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes