Deel die artikel met jou vriende:

Titel: Onverskrokke – Bewakers van die veld

Outeur: Jan Roderigues

Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 978-1-4853-1089-1

Onverskrokke – Bewakers van die veld

deur Jan Roderigues

Skuif gerus nader indien jy ’n liefhebber is van avontuur- en spanningsverhale wat in die natuur afspeel. Ek het heerlik gelees aan hierdie kosbare versameling ware verhale wat ervare veldwagters van onder andere die Kalahari-Gemsbokpark en die Krugerwildtuin met die meesterverteller, Jan Roderigues, gedeel het. Roderigues het dié opwindende stories opgeteken toe hy nog as senior verslaggewer by die Nasionale Parkeraad werksaam was.

Die sagtebandboek van 160 bladsye is in ’n gerieflike skrifgrootte gedruk wat die leeservaring vergemaklik. Die titels van die verhale is reeds genoeg om lesers te oortuig om iewers rustig agteroor te gaan sit en hulle te verdiep in die boeiende verhale vol doodsgevaar en soms ook heerlike humor. Eintlik is hierdie boek die perfekte leesstof tydens beurtkrag, want jy kan jou inderdaad verbeel dat jy die leeus hoor brul! Die stories is ook kort genoeg dat jy die lekkerte oor ’n paar aande kan uitrek. Jy sal die stories van hierdie manne van staal en hulle wedervaringe beslis onthou en wil oorvertel aan jou vriende wanneer julle weer braai.

Hier volg ’n paar van die beskrywende titels (daar is altesaam 45 lekkerleesverhale): Die mensvreters van Mahlangeni (10); Aapgastro (47); Die kommissaris van polisie in die sop (79); Só skrik ’n mens jou melk weg (97); Olifante, buffels, leeus en luiperds (112); Die bloedspoor van ’n mensvreter (115); ’n Millimeter van die dood af (128); Die swart dood (131); Die reus van die Hoanib (137); Brandewyn het nie brieke nie! (144); Die dapperheid van ’n veldwagter (148); Blouaapkaskenades (150) en Staan stil, Broek, Baas is nie bang nie! (155). Ek het ook die wit en swart foto’s van die baasstorievertellers met belangstelling bestudeer. Ek het my veral verstom aan die foto van ’n leeumannetjie se poot vergeleke met ’n mens se hand. Dan is daar ook ’n foto van ’n onbeskadigde Mosambiekse geldnoot van 1 000 meticals wat tydens ’n nadoodse ondersoek saam met menslike oorskot uit ’n mensvreterleeu se maag gehaal is!

Dié ongelooflike veldwagterstories word in ’n ligte trant vertel en is ook uiters leersaam, hoewel nie akademies van aard nie. Enigeen met ’n lewendige belangstelling in dieregewoontes en gedrag asook veldbewaring sal, soos ek, besonder lekker hieraan lees. Dr. Douw Grobler, Ampie Espag, dr. Tol Pienaar, Joep le Riche, Elias le Riche, Ben Pretorius, Louis Olivier, Johann Oelofse, Ben Lamprecht, prof. Fritz Eloff, Rein Ernst, Sam Fourie, Riel du Toit en Flip Nel se verhale is opgeteken in die boek.

Verbeel jou jy moet ’n tamaaie ou olifant op ’n helder maanligaand uit jou vrugteboord verwilder met net ’n sweep in die hand wat darem hard kan klap! Dit is presies wat Ampie Espag moes doen. “Die adrenalien het sterk deur my are gevloei en my asem het gejaag toe ek met ’n kreet, wat enige Indiaan eer sou aandoen, op die niksvermoedende ou grootvoet afstorm. Ek het hom vinnig ’n paar harde houe op die boude gegee en met my hart in my keel in die rondaweltjie ingespring, waar ek die lendelam deurtjie toegedruk het voordat hy tot verhaal kon kom” (19).

Wilddiewery is mos wêreldwyd ’n probleem waar natuurgebiede bestaan. Die legendariese Joep le Riche se blote teenwoordigheid het in die Kalahari-dorsland “vrees en bewing onder al wat ’n wetsoortreder was, gesaai”. “Die wildstropers het alles in hul vermoë gedoen om ons ore aan te sit wanneer hulle in die park besig was met hulle onheilige bedrywighede,” vertel Joep. “Dié blikskottels het soms tydens hoëspoed-agtervolgings en met ons kort op hul hakke groot klippe of loodballe met sesduimspykers daarin vasgesweis van hul voertuie afgegooi in die hoop dat dit ons voertuig se bande só sou beskadig dat ons nie verder sou kon ry nie” (77). Hy onthou dan van ’n paar insidente waar hulle met wilddiewe slaags geraak het.

Daar steek glo groot waarheid in die veldwagtergesegde: “Sonder moeilikheid is ’n buffel nie ’n buffel nie, en as daar nie moeilikheid is nie, sal ’n buffel sorg dat daar moeilikheid kom” (131). Ben Lamprecht en Jack Newby, destydse padbouvoorman van die Krugerwildtuin, het hulle op dag te voet en onbewapen in ’n ou uitgeskopte buffelbul vasgeloop. Hulle moes hol! Lamprecht skets die gebeure só op ble. 132-133: “Ek het ook op daardie oomblik besef dat die bul met sy kop omlaag my nie meer kon sien nie en besluit om in die bakkie vas te hardloop in die hoop dat die slag die bul sou afskrik en laat wegswaai. Ek het die bakkie se deur met ’n geweldige slag getref en gevoel hoe die bul se stert my hard oor die rug slaan toe hy feitlik teenaan my skielik wegswenk om ’n botsing met die voertuig te vermy en veldin koers kry!”

Die veldwagters het vele gevaarlike insidente en noue ontkomings beleef, maar hulle respek en liefde vir ons wildlewe is duidelik in elke storie te sien. Ek is baie bly oor my kopie van Onverskrokke – Bewakers van die veld. Nie net het ek die heldhaftige verhale geniet nie, maar die brokkies geskiedenis wat tussen die paragrawe skuil het my hart verbly. Welgedaan aan Protea Boekhuis en Jan Roderigues wat dit goed gedink het om hierdie verhale te boekstaaf en aan die publiek beskikbaar te stel.

Meer oor die skrywer

Jan Roderigues is oorspronklik van Viljoenskroon, waar hy sy skoolloopbaan voltooi het. Hy het 13 jaar diens gedoen in die destydse Suid-Afikaanse Polisie. Daarna werk hy vir byna net so lank as verslaggewer by ’n Pretoriase dagblad. Hy word in 1983 aangestel as senior verslaggewer by die Nasionale Parkeraad en word later ook redakteur van hul interne publikasie. In 2019 verskyn sy eerste publikasie, Ongeslyp, by Protea Boekhuis.

Skaf Onverskrokke – Bewakers van die veld HIER aan.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes