Deel die artikel met jou vriende:

Titel: South Africa’s Survival Guide to Climate Change

Outeurs: Sipho Kings en Sarah Wild

Uitgewer: Pan MacMillan

ISBN: 978-1-77010-669-7

South Africa’s Survival Guide to Climate Change

deur Sipho Kings en Sarah Wild

Essie Bester skryf in haar artikel, Globale klimaatverandering – wetenskaplike feit of fiksie?, die volgende: “Wetenskaplikes het onlangs, na vrystelling van die nuutste verslag van die Internasionale Paneel oor Klimaatsverandering (IPPC), ’n dringende beroep op wêreldregerings gedoen om hulle lande se kweekhuisgasvrystellings te verminder en sodoende aardverwarming te probeer teëwerk.” Sy noem verder dat skeptici nie noodwendig saamstem dat aardverwarming plaasvind as gevolg van die mens se toedoen nie.

Sy haal dan vir prof. Francois Engelbrecht, ’n klimaatveranderingkenner en hoof van die navorsingsgroep oor klimaatstudies, modellering en omgewingsgesondheid by die WNNR, wat ook bydraes gelewer het vir die bogenoemde IPPC-verslag, aan: “Indien klimaatverandering nie gekeer kan word nie, kyk ons na die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse mieliebedryf en ’n vleisbeesbedryf wat nie lewensvatbaar is nie.”

Bester se artikel en prof. Engelbrecht se kommentaar het my diep laat nadink. Klimaatverandering is meer as net ’n hedendaagse gonswoord wat as politieke speelbal deur politici, geldmagnate en omgewingsaktiviste rondgegooi word. Dit raak elke mens op die planeet. Ja, ook vir ons hier aan die suidpunt van Afrika. My nuuskierigheid oor die onderwerp het daartoe gelei dat ek Sipho Kings en Sarah Wild se South Africa’s Survival Guide to Climate Change gelees het. Ek wou graag weet wat ek as ’n gewone mens kan doen om klimaatverandering teen te werk.

Hierdie praktiese handboek, ’n oorlewingsgids, kyk spesifiek na hoe klimaatverandering die lewens van Suid-Afrikaners kan raak, hoe ons daarop voorbereid kan wees, en hoe ons, in ons alledaagse wandel, die impak daarvan kan help verminder. Soos daar tereg op die boek se keersy geskryf staan: “Omstandighede gaan binnekort baie moeiliker raak, en ons het ’n plan nodig.” Dit word opgevolg met: “Soos met enige noodgeval is daar geen waarborge nie, maar pleks daarvan om apaties en ontmagtig te voel, is dit beter om ingelig en gereed te wees.” Die boek gaan van die veronderstelling uit dat dit moontlik is om ’n klimaatverandering te oorleef.

South Africa’s Survival Guide to Climate Change, ’n sagtebandboek, beslaan 222 bladsye of te wel 24 hoofstukke. Dit is opgedeel in drie baie interessante dele, nl. “Survey The Terrain”, “Real and Present Dangers”, en “Maak ’n plan”.

Deel een bied onder meer ’n blik op hoe klimaatverandering ons toekoms raak – drie moontlike scenarios word geskets. Ek het veral die gedeelte vanaf bladsy 38 oor hoe Suid-Afrika reeds deur klimaatverandering geraak is, uiters soberend gevind. Die kort geskiedenis oor internasionale klimaatonderhandelinge is ook baie interessant, en op bladsy 62 kan jy selfs leer hoe om jou eie koolstofvoetspoor te bereken en te verminder.

Deel twee handel oor die invloed wat erosie en ontwikkelings op ons sowat 3 000 km lange kuslyn het. Dit kyk ook na die effek wat klimaatverandering op ons geestelike gesondheid het. Die outeurs noem bv. depressie, aggressie a.g.v. die belewing van hittetoestande, trauma weens natuurlike rampe, en ook boere wat selfdood pleeg oor die langdurige en verlammende droogtes. Ek het die dele oor indringers (plante, diere en organismes), die vermorsing van voedsel, vervoer, en ons oseane veral baie insiggewend gevind.

Deel drie lig die leser in oor veranderinge wat kollektief óf individueel toegepas kan word ten einde klimaatverandering teen te werk. Jy kan bv. ’n verskil maak deur jou geld die praatwerk te laat doen deur die manier waarop jy inkopies doen en beleggings maak. Tegnologie, plastiek en afval, boerdery, en maatskappye is maar enkele van die belangrike onderwerpe wat aangespreek word.

Die outeurs het gaan kers opsteek by wetenskaplikes, staatsamptenare en aktiviste oor presies hóé lesers hulle koolstofvoetspoor kan verminder, hulle huise meer energiedoeltreffend kan maak, en sommer in die algemeen meer omgewingsvriendelik kan leef. Robert Dersley het gesorg vir treffende illustrasies en infografika wat die inligting op ’n maklik verstaanbare en prettige wyse aanbied.

Die inhoud is deeglik nagevors en beslis leersaam. Die boek eindig met die volgende sin: “Soos reeds aan die begin genoem, is hierdie ’n oorlewingsgids. En om te oorleef, moet ons optree – selfs al is die eerste stap klein.” Kom ons neem hierdie uitdaging ter harte en begin elk in ons eie leefwêreld ’n verskil maak. Gebruik energiebesparende elektriese toestelle, vang reënwater op, gebruik gryswater in die tuin, plant inheemse struike en bome en hersirkuleer afval. Elke bietjie help. Die boek gee omvattende raad oor ’n wye verskeidenheid maniere waarop jy jóú deel vir die omgewing kan doen.

Meer oor die outeurs

Sipho Kings is die nuusredakteur van die Mail & Guardian. Voorheen, as omgewingsverslaggewer, het hy ’n dosyn toekennings verower vir sy werk wat gefokus het op die stryd van die mens en sy omgewing om saam te bestaan.

Sarah Wild is ’n vryskutwetenskapjoernalis met ’n wye belangstellingsveld. Sy het onder meer wetenskap, elektronika en Engelse letterkunde studeer. Daarna het sy haar MSc verwerf in bio-etiek en gesondheidswetgewing.

Skaf gerus jou kopie van South Africa’s Survival Guide to Climate Change HIER aan.