Deel die artikel met jou vriende:

In 1986 het die tydskrif, The Economist, die eerste keer die sogenaamde Big Mac® Indeks gepubliseer wat ‘n tong-in-die-kies poging was om die Koopkragpariteit (PPP) tussen die wêreld se geldeenhede te bepaal. Teoreties is PPP ‘n manier waarop verskillende lande se geldeenhede met mekaar vergelyk word, in terme van die onderskeie pryse van ‘n mandjie goedere met in agneming van die amptelike wisselkoers tussen die lande.  PPP is ‘n maatstaf om ekonomiese produktiwiteit en lewensstandaard tussen nasies te bepaal. “Burgernomics” doen hierdie vergelyking deur die sogenaamde Big Mac® burger te gebruik. Deur na die interaktiewe Big Mac Index te kyk en die plekaanduier op Suid-Afrika te hou, word die volgende inligting verkry: Die prys van ‘n Big Mac burger is R30,00 wat in dollarterme $2,45 is. Die werklike wisselkoers is R12,26 vir een Amerikaanse dollar. Die implisiete waarde van die rand in terme van die indeks is R5,68 per dollar wat beteken dat die rand in terme van die Big Mac Indeks 53,6% ondergewaardeer is.

Maar wat is ‘n Big Mac?  Die Big Mac is ‘n hamburger wat deur die internasionale kitskos kettingrestaurantgroep McDonalds verkoop word.  Die hamburger bestaan uit ‘n sesamsaad hamburgerbroodjie van 82 gram, twee maalvleis frikadelle wat 90,8 gram weeg, ‘n kaasskyf van 14g asook ‘n slaaiblaar, suurkomkommers, uie en ‘n spesiale sous. In Suid-Afrika kos hierdie hamburger R29,50 terwyl dit in die VSA $5,30 kos.

Mens sou graag wou dink dat die hamburger ‘n baie moderne uitvindsel is, ‘n simbool van die Westerse wêreld se kitskultuur – inteendeel! Dit is reeds bekend dat die antieke Romeine die eerste kitskos afsetpunte, of thermopolia, meer as 1500 jaar gelede in Brittanje gevesig het. In groot dorpe kon mense kos soos, hoenderboudjies, skaaptjops en skulpvis tydens etenstye koop. Hulle sou waarskynlik oor die voorganger van die hamburger kon koop. In ‘n antieke Romeinse kookboek, die Apicius, wat in die 4de of 5de eeu AD uitgegee is, word ‘n gereg, die Isicia Omentata, beskryf. Hierdie gereg het bestaan uit gemaalde vleis, peper, wyn, dennepitte en ‘n ryk sous met ‘n visbasis (Garum) wat tot ‘n frikkadel gevorm is, en wat tussen twee geroosterde broodjies bedien is. Dit het aanleiding gegee tot die vraag, hoe vergelyk vandag se ekonomieë met die antieke Romeinse ekonomie en wat kan ons uit só ‘n vergelyking aflei?    

Geskiedenis van Romeinse geld

Om bogenoemde vraag te kan antwoord is dit egter nodig om iets van die Romeinse geldstelsels te weet. Die geskiedenis van antieke Rome word breedweg in twee duidelike tydperke verdeel. Die eerste tydperk staan bekend as die Republikeinse tydperk en het geduur van ongeveer 509 tot 27 BC.  In 27 BC het die Romeinse leier Octavianus die naam en titel Keiser Augustus aangeneem. Alhoewel Rome ‘n keiserlike staat sedert 146 voor Christus was, word hierdie gebeurtenis deur geskiedskrywers as die begin van die Romeinse Ryk (27BC – 476AD) beskou.

Die geldeenhede wat in die Romeinse geskiedenis gebruik is, het bestaan uit munte van goud, silwer, brons, geelkoper en koper. Verskillende muntstelsels kan egter geïdentifiseer word. Na die Republikeinse periode, met die koms van Augustus, is aansienlike veranderings aan die Republikeinse geldstelsel gedoen toe die Augustiaanse geldstelsel ingestel is. Nuwe muntstukke is gedefinieer en die onderlinge ruilwaardes tussen muntstukke is vasgestel. In hiérdie tyd is tot die besef gekom dat daar ‘n baie duidelike verband was tussen die keiser se soewereine mag en die vermoë om munte te vervaardig. Om hierdie rede is die beeld wat op die munte gedruk was so belangrik. ‘n Verdere gevolg hiervan was dat die waarde van die munte geërodeer het omdat die beeld van die keiser belangriker geword het as die intrinsieke waarde van die munte. In ongeveer 301 AD het keiser Diocletianus vanweë die waarde-erosie van geld besluit om prysbeheer in te stel by wyse van die sogenaamde Edik op Maksimum Pryse.  Terselfdertyd is die geldstelsel ook aangepas – die sogenaamde Diocletiaanse geldstelsel. Hierdie prysvasstelling het dit moontlik gemaak dat dit vandag bekend is wat die pryse van items in daardie tyd was. Ten einde ‘n paar interessante afleidings te kan maak, is ‘n Big Mac vergelyking in terme van die Augustiaanse geldstelsel sowel as die Diocletiaanse geldstelsel gedoen.

Gedurende die Augustiaanse tydperk het die geldstelsel uit ‘n aantal denominasies bestaan onder andere die aureus, denarius, sestertius, dupondius en assarius. Die aureus was ‘n suiwer goue munt van amper 24 karaat -dus 99% suiwer – wat aanvanklik ongeveer 8,18g geweeg het. As gevolg van waarde-manipulasie het die die gewig van die aureus met verdrag kleiner geword tot in Diocletianus se tyd toe dit ongeveer 5,45g geweeg het. Wat belangrik is is dat, alhoewel die gewig en grootte van die goue muntstuk afgeneem het, het die keisers nie aan die suiwerheid van die muntstuk getorring nie. ‘n Verdere belangrike feit is dat daar nie baie aureus-munte geslaan is nie en daar was relatief baie min in die algemene omloop. Slegs die baie rykes het toegang tot die goue munte gehad. ‘n Ander belangrike Augustiaanse munt was die denarius. Die denarius was ‘n silwermuntstuk en het uit die Romeinse Republikeinse era gekom. Keiser Augustus het denarius se gewig op 3,9g vasgestel met die silwerinhoud  tussen 97,5% en 98% van die munt se gewig. Waarde-erosie het hierdie muntstuk nie gespaar nie en stelselmatig is die silwerinhoud verminder totdat dit vervang was met die sg dubbeldenarius wat ‘n bronsmunt was met ‘n silwerinhoud van minder as 5%. Met die koms van keiser Diocletianus is die Augustiaanse geldstelsel hervorm. Die belangrikste veranderinge is dat die aureus vervang is met die solidus wat ‘n gewig van 4,5g gehad het. Waarde-inflasie het dus ‘n invloed op die goue munte se afgeleide denominasies gehad deur by die aanvanklike silwermunte koperlegerings te voeg. Verder het die gewig van hierdie munte self ook minder geword.

Wat ons hieruit kan aflei is:

  • Weens inflasie het die goue munte se gewig verminder, maar hulle suiwerheidswaarde is behou, gegewe die beskikbare tegnologie om goud te louter.
  • Silwermunte se silwerinhoud is algaande verminder en groter inhoud is gegee aan koperlegerings soos brons en geelkoper. Die gewig van die munt het ook kleiner geword.
  • Afgeleide munte soos die denarii se waarde is verder ook verminder deur die ruilkoers tussen die afgeleide munte in die goue munte te vergroot. Aanvanklik kon 25 denarii vir ‘n aurius verruil word terwyl die laaste aureus se waarde tussen 600 tot ‘n 1000 denarii was.
  • Daar is min aureus– en van die latere solidus-munte vervaardig en gesirkuleer. Min mense kon die goue munte besit. Goue munte het ‘n soort van ‘n verwysingswaarde ten opsige van die afgeleide denominasies gehad.

Wat sou ‘n Romeinse Big Mac burger kos?

Met in agname van bogenoemde inligting is die waarde van Romeinse Big Mac burgers bepaal. ‘n Aanname wat gemaak is, is dat die Big Mac hamburgers wat Augustus en Diocletianus sou geniet, met goud betaal sou word teen vandag se goudprys in rand en dollar.

Eerstens was dit nodig om die kostes van ‘n Suid-Afrikaanse hamburger in vandag se tyd te bepaal. Omdat pryse van bestanddele van die hamburger plaaslik in rand meer geredelik beskikbaar is, is die koste-ontleding met behulp van plaaslike produkte gedoen. ‘n Beperking wat geld is dat verskeie uitgawes rondom die hamburger, soos oorhoofse koste, arbeidskoste, winsgrense en belastings nie bekend is nie. Terloops, ons moet nie dink dat belastings ‘n moderne ding is nie. Romeinse belastings het ingesluit grond-, handels-, verkoops- en persoonlike belastings. Pryse van al die bestanddele in die genoemde Romeinse periodes kon ook nie opgespoor word nie. Om hierdie probleme te oorkom is besluit om ‘n faktor te bepaal wat, indien dit met die koste van ‘n bepaalde basis van bestanddele (die broodjie, die vleis en die kaas) vermenigvuldig word, gelykstaande is aan die prys van die Suid-Afrikaanse Big Mac, dws R29,50. Plaaslike kleinhandelspryse is as koste-inset vir die broodjie, frikadelle en kaaskywe gebruik. Hiervolgens het die basisbestanddele R14,25 gekos en was die vermenigvuldigingsfaktor 2,07. Hierdie verwerkingmetode, toegegee – wat baie leemtes het, is vervolgens gebruik om die hamburgerpryse in die genoemde Romeinse periodes te bepaal.

Inligting oor die Diocletiaanse hamburger is geredelik beskikbaar, weens historiese gegewens oor die Edik rakende maksimum pryse. Die meeste pryse in die Edik is beskikbaar in, soos daardie tyd genoem die denarii communes – of die gewone denarii.  Deur ‘n ruilkoers van 1000 denarii per solidus te gebruik, en waar die solidus wat bestaan het uit 4,5g suiwer goud, is vasgestel dat die Big Macburger wat Diocletianus sou eet R14,84 of $1,23 sou gekos het.

Om die Big Mac hamburgerprys vir die Augustiaanse periode te bepaal, was ietwat moeiliker omdat prysinligting nie so geredelik beskikbaar was nie. Na baie soek kon die prys van ‘n brood opgespoor word, wat een libra (een Romeinse pond = 328,9g) geweeg het en wat 1 dupontius of te wel 0,5 sestertius gekos het. Een dupontius was gelykstaande aan 0,409 gram suiwer goud – ongeveer 5 maal duurder as dieselfde broodjie in Diocletianus se tyd. Wat wel ook beskikbaar was, is die salarisse wat vir sekere beroepe in beide periodes gegeld het. So kon salarisse vir ‘n boodskapper, sekretaris en ‘n fortuinverteller opspoor word. Aanvanklik is gedink dat die kostes van die basisbestanddele vir die Augustiaanse periode bepaal kon word deur die salarisse wat in die Diocletiaanse periode gegeld het in ooreenstemming met salarisveranderings aan te pas. Salarisse het in goudterme  in hierdie tyd egter tot 89,97% van die Augustiaanse waarde gedaal teenoor die broodprys wat afgeneem het tot 22% in die ooreenstemmende tyd. Wat opgeval het is dat die salaris van fortuinvertellers die minste van die 3 beroepe afgeneem het naamlik tot 92,83% van die Augustus-era salaris. Hierdie verskynsel het nie sin gemaak nie, tensy dit beoordeel word in die lig van die gesegde dat brood en spele die mense gelukkig hou. Ten einde hulle posisies te verskans het die keisers gepoog om hulle onderdane gelukkig te hou deur aan die mense te gee wat hulle wou hê – brood en spele. Daarom het kospryse, gemeet teen die salarisafname van sekere beroepe, so buitegewoon afgeneem. Mens kan dalk spekuleer waarom die salaris van fortuinvertellers eintlik duurder geword het in vergelyking met die ander twee beroepe. Kon dit dalk wees dat hierdie beleid van die keisers om mense in terme van brood en spele te paai, soveel onsekerhede op ander terreine veroorsaak het?

Dit blyk dus dat dit sinvol sou wees om dieselfde verminderingsfaktor op vleis en kaas toe te pas as wat vir brood gegeld het – dit wil sê 22%. Volgens hierdie berekeninge was die koste van die basisbestanddele 62,33mg suiwer goud, gedagtig daaraan dat die gewig van die goue aurius 8,18g was met ‘n dupondius-ruilkoers van 200 per aureus. Met die vermenigvuldigingsfaktor ingereken, was die koste van die Augustiaanse Big Mac 129,04 mg suiwer goud. Omgereken na rand en dollar was dit R67,45 of $5,58, wat baie na aan die huidige prys vir ‘n Big Mac in die Verenigde State is.

Die gevolgtrekking waartoe ons uit hierdie berekeninge kom, is dat die ordegroote van die pryse van hamburgers in daardie twee tydperke vergelykbaar is met die hamburgerpryse van vandag! Min of meer dieselfde hoeveelheid goud kan vandag en kon in Augustus en Diocletianus se tyd ‘n Big Mac burger koop. Vergelyk dit met die Suid-Afrikaanse rand se waarde-erosie waar 28 sent ‘n Wimpy kaasburger in 1972 kon koop, maar vandag is R57,90 nodig (200 maal meer!) Keisers en ryke het gekom en gegaan, maar goud se waarde het bly staan.

‘n Hamburger, is nie net ‘n hamburger nie. ‘n Hamburger is ook nie net  lekker nie, dit kan baie interessant ook wees! Dit was dalk ‘n klomp nuttelose inligting en berekenings. Ek hoop egter ons lesers het dit darem geniet – amper soos mens gemorskos geniet! Vir ‘n paar Romeinse resepte en geregte besoek gerus die volgende skakels:

Erkennings:

 Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.33 avg. rating (86% score) - 3 votes