Deel die artikel met jou vriende:

Ons het in ‘n vorige artikel kommentaar gelewer op Nersa se raadplegende voorstel ten aansien van  “Rules for Registration of Small-Scale Embedded Generation”, ook genoem die Reëls.  Hierdie Reëls het hulle oorsprong gehad in die Wet op Elektrisiteitsregulering, Wet nr 4 van 2006, wat ‘n nasionale reguleringsraamwerk vir die elektrisiteitsvoorsieningsnywerheid daarstel en waarin die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) as opsigter (custodian) en handhawer (enforcer) aangestel word. In die Wet op Elektrisiteitsregulering word daar in Skedule 2 melding gemaak van gevalle van vrystelling van die verpligting om aansoek te doen vir ‘n lisensie vir kragopwekking, asook vrystelling van die verpligting om ‘n lisensie te hê. ‘n Wetswysigingskennisgewing ten aansien van Skedule 2 is op 10 November 2017 gepubliseer waar daar aan Skedule 2 se bepalings meer inhoud gegee is.

Nersa het, in terme van die opdrag wat by wyse van wetgewing aan hulle gegee is, voortgegaan en genoemde Reëls opgestel, maar van die 10 genoemde Opwekkingsaktiwiteite in die wet is net 5 van toepassing gemaak as opwekkingsfasiliteite waar registrasie verpligtend is. By wyse van ‘n media aankondiging en by wyse van ‘n Nersa skrywe gedateer 10 Mei 2018 het NERSA die Reëls teruggetrek en aangedui dat die Skedule 2 Wetswysiging van 10 November 2017 herroep gaan word, en dat dit weer gevolg sal word deur ‘n regulatoriese proses wat konsultasie met belanghebbendes sal insluit. ‘n Opvolgende Wetswysigingskennisgewing het intussen op 8 Junie 2018 die lig gesien en persone en organisasies is genooi om binne 30 dae geskrewe kommentaar op die voorgestelde wetswysiging te doen. KragDag beoog om hierdie artikel as kommentaar op die Wetswysiging aan die Departement van Energie voor te lê.

Omdat Nersa se Reëls net voorsiening gemaak het dat slegs 5 Opwekkingsaktiwiteite gereguleer word, terwyl die aanvanklike Wetswysiging 10 Opwekkingsaktiwiteite geïdentifiseer het, was Nersa se Reëls in spanning met die Wet. Vermoedelik is die Reëls vir hierdie rede teruggetrek en is die opvolgende Wetswysiging gepubliseer waarin genoemde 10 Opwekkingsaktiwiteite in twee groepe verdeel is.

Die eerste groep van Opwekkingsakiwiteite, volgens paragraaf 2 van die Wetswysiging, is aktiwiteite wat vrygestel is van die vereiste om vir ‘n lisensie onder die Wet aansoek te doen of om ‘n lisensie te hê, maar wat by die Nersa geregistreer moet wees. Hierdie eerste groep van aktiwiteite is die volgende:

  • Opwekkingsfasiliteite met ‘n drywingsvermoë kleiner as 1MW, wat aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel is, maar nie elektrisiteit aan die netwerk lewer nie. (paragraaf 2.1)
  • Opwekkingsfasiliteite met ‘n drywingsvermoë kleiner as 1MW, wat aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel is, en wel elektrisiteit aan die netwerk lewer. (paragraaf 2.2)
  • Opwekkingsfasiliteite met ‘n drywingsvermoë kleiner as 1MW, wat nie aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel is nie. (paragraaf 2.3) Hierdie bepaling het betrekking op opwekkingsfasiliteite wat uitsluitlik elektrisiteit aan die eienaar van die opwekkingsfasiliteit lewer; opwekkingsfasiliteite wat elektrisiteit aan ‘n klant lewer wat in ‘n verhouding met die eienaar van die opwekkingsfasiliteit staan óf waar elektisiteit gelewer word aan ‘n klant wat dieselfde perseel met die opwekkingsfasiliteit deel.
  • ‘n Opwekkingsfasiliteit, ongeag vermoë, wat vir demonstrasiedoeleindes gebruik word. (paragraaf 2.4)
  • ‘n Opwekkingsfasiliteit, ongeag vermoë, waar ko-generasie as opwekkingsmetode gebruik word. (paragraaf 2.5)
  • Omstandighede waar elektrisiteit herverkoop word . (paragraaf 2.6)

Die tweede groep van Opwekkingsakiwiteite, volgens paragraaf 3 van die Wetswysiging, is aktiwiteite wat vrygestel is van die vereiste om vir ‘n lisensie onder die Wet aansoek te doen of om ‘n lisensie te hê, en wat nie by die Nersa geregistreer hoef te wees nie. Hierdie tweede groep van Aktiwiteite sluit die volgende in:

  • Opwekkingsfasiliteite met die uitsluitlike doel om bystands- of rugsteun-elektrisiteitsvoorsiening te doen in die geval van, en vir die duur van, ‘n elektrisiteitsonderbreking. (paragraaf 3.1)
  • ‘n Bestaande opwekkingsfasiliteit wat voorheen, volgens die vereistes van die Wet, vrygestel was om aansoek te doen vir ‘n lisensie of om ‘n lisensie te hê. (paragraaf 3.2)
  • ‘n Bestaande opwekkingsfasiliteit wat na 3 maande na die inwerkingtreding van die vereistes van die Wetswysiging nie aan die vereistes voldoen nie en wat ‘n ooreenkoms met Nersa het om binne ‘n vasgestelde tyd wel aan die vereistes te voldoen. (paragraaf 3.3)
  • Fasiliteite om elektrisiteit te versprei, wat aan opwekkingsfasiliteite gekoppel is, soos bedoel in bogenoemde paragrawe 2.1 tot 2.5. (paragraaf 3.4)

Dit is dus duidelik dat ons KragDag-gemeenskap wat elektriese opwekkingsfasiliteite bedryf, wat nie as ‘n rugsteun- of bystands-kragopwekker kwalifiseer nie,  onderhewig daaraan is om hulle opwekkingsfasiliteit te registreer – al is hulle nie op enige wyse aan die nasionale netwerk gekoppel nie.

Die wyse waarop die owerheid dus elektriese opwekkingsfasiteite, soos in die eerste groep genoem, reguleer is dus by wyse van registrasie. Dit dui daarop dat Nersa ‘n register van sulke opwekkingsfasiliteite sal byhou. Die belangrike vraag wat by ons opgekom het, is: Waarom op deeske aarde is dit nodig om elektriese opwekkingsfasiliteite te registreer wat op geen wyse aan die elektrisiteitsnetwerk gekoppel is nie? Ons het dit daarom nodig geag om weer na die doel van die Elektrisiteitsreguleringswet, wat 7 oogmerke het, te gaan kyk. (paragraaf 2 van die Reguleringswet)

Oogmerke van die Wet

Die eerste oogmerk is ‘n algemene stelling om (a) ‘n doeltreffende, effektiewe, volhoubare en ordelike ontwikkeling en bedryf van die elektrisiteitsvoorsienings-infrastuktuur te bewerkstellig. Met hierdie stelling kan ‘n mens sekerlik nie fout vind nie.

Die tweede oogmerk (b) is om te verseker dat die belange en behoeftes van huidige en toekomstige elektrisiteitsklante en -gebruikers beskerm sal word met die inagneming van korporatiewe bestuur (governance), doeltreffendheid, effektiwiteit en langtermyn volhoubaarheid van die elektrisiteitsvoorsieningsnywerheid. Word hier nie alreeds gesuggereer dat die belange en behoeftes van elektrisiteitsklante en -gebruikers ondergeskik is aan volhoubaarheid van die elektrisiteitsnywerheid nie? Is dit dalk die eerste rede vir die vereiste om netlos-opwekkers te registreer?

Oogmerk (c) stel dat die doel van die wet is om belegging in die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf te fasiliteer.

Die vierde oogmerk (d) stel ten doel dat “universele toegang” tot elektrisiteit gefasiliteer moet word. Die vraag wat, veral vanweë die ideologiese beklemtonings van die owerheid, gevra moet word, is of dit nie dalk die tweede rede is waarom netlos-opwekkers geregistreer moet word nie? Sou dit wys wees om hierdie wetgewing los te sien van die beoogde wet op onteiening van eiendom sonder vergoeding asook die voorstelle rondom Nasionale Gesondheidsversekering?

Oogmerk (e) stel dat die wet ten doel het om die gebruik van ‘n verskeidenheid van energiebronne te bevorder. Die sesde oogmerk (f) is om te poog om konkurrensie (of kompetisie) en die vermoë van klante om keuses te kan maak te bevorder. Hieroor is ons positief, maar ons meen dat hierdie oogmerke deur die wetswysiging teëgewerk en verhinder sal word.

Die laaste oogmerk (g) is om ‘n regverdige balans te handhaaf tussen die belange van klante, eindgebruikers, lisensiehouers, beleggers in die elektrisiteitsvoorsienersbedryf en die publiek. Die eienaar van ‘n netlos-opwekker wat moet registreer sal waarskynlik verantwoordelik wees vir ‘n aanvanklike asook ‘n jaarlikse registrasiefooi. Verder terwyl ons weet dat batterye, sonpanele en generators gesogte items vir kriminele is, sal ‘n register van eienaars met hierdie gesogte items tot voordeel van kriminele wees. Ons kan dus vra: gegewe die nadele en die kostes van registrasie, watter voordele hou registrasie van opwekkers vir eienaars van netlos-opwekkers in sodat daar dárem, volgens die laaste oogmerk,  sprake van ‘n regverdige balans van belange kan wees?

Ons is werklik bekommerd, soos wat ons al hoe meer hoor van reguleringsvereistes aldus Karel Marx se ideologiese gedagtes oor ‘n gereguleerde ekonomie. In hoe ‘n mate is ‘n ten volle gereguleerde ekonomie besig om stadig nader te kruip ten koste van selfversorging, selfstandigheid, vryheid en onafhanklikheid?

Die byl is inderdaad ná aan die bome. Miskien moet ons weer besin oor die fabel van die byl en die bome soos gemeld in ons vorige artikel oor Nersa regulering.

Ons moet egter nie ophou om ons met kennis te bemagtig sodat ons selfstandig, onafhanklik en selfversorgend kan wees nie.

KragDag bied weer op 30 Junie 2018 ‘n kursus in samewerking van Carel Ballack van PQRS aan met die onderwerp Verstaan, beplan en installeer jou eie sonkragstelsel

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.