Deel die artikel met jou vriende:

Die geskiedenis van meeste oorspronklike beesrasse in die wêreld is in geheimsinnigheid gehul. Mense van ‘n duisend jaar en meer gelede het dit nie nodig geag om enige aantekeninge oor hulle diere te maak nie, want die diere was net eenvoudig daar en is gebruik om in hulle basiese behoeftes van vleis en melk te voorsien. Uiteenlopende en onbevestigde aannames word daarom deur geskiedskrywers gemaak oor ‘waar’ en ‘hoe’ die verskillende rasse, soos ons hulle vandag ken, ontstaan en ontwikkel het. Sekere geheime vanuit die verre verlede sal daarom altyd onbeantwoord bly.

Die Drakensberger-beesras het ‘n uiters merkwaardige geskiedenis en word in drie tydvakke behandel.

Historiese tydvak tot en met die Van der Stels – 1500 tot 1700

Vasco da Gama, c.1460-1524 (foto National; Maritime Museum – skildery deur António Manuel da Fonseca)

In hierdie tydperk het die beesras ontwikkel van die “Hottentotsche”-bees tot die “Vaderlandsche”-bees of die Vaderlander. Die eerste keer waar daar na die inheemse swart beeste van Suider-Afrika verwys word, is in skrywes van die bekende Portugese seevaarder Vasco da Gama wat reeds in 1479 met die Hottentotte, tydens sy seereise om die suidpunt van Afrika, handel gedryf het. Dit was bykans 200 jaar voordat Jan van Riebeeck aan die Kaap gekom het.

Alhoewel Vasco da Gama na die inheemse swart beeste verwys, bestaan daar egter ook ‘n teorie dat Portugese seevaarders soos Vasco da Gama aan die Hottentotte bulle van die Spaanse inheemse stiervegrasse soos die Navara, en moontlik ook die Brava geskenk het. Hy het daarom geweet waar om aan te doen tydens sy togte om die Suidpunt van Afrika. Die teorie word verder versterk deur die feit dat die Drakensberger van vandag steeds baie sterk fenotipiese ooreenkomste met genoemde Spaanse rasse toon. Nog ‘n belangrike feit is dat die inheemse swart beeste van daardie tyd net in die Kaap teenwoordig was en het nie, soos die Nguni vanuit die noorde, na die suide gemigreer nie.

Simon van der Stel (foto Wikipedia)

Dit was dan ook hierdie beesras wat Jan van Riebeeck met sy koms aan die Kaap in 1652 aangetref het en waarmee die eerste waens getrek en die eerste sooie grond bewerk was. Jan van Riebeeck het dan ook geskryf dat hierdie swart osse swaarder en sterker was as enige van die ander beeste en dat die koeie meer melk geproduseer het. Sy voorkeur vir hierdie diere het tot gevolg gehad dat hulle in so ‘n mate vermeerder het dat Simon van der Stel, wat in 1679 goewerneur geword het, hierdie diere as basis vir belasting gebruik het om ‘n jaarlikse heffing per swart bees in te vorder. Simon van der Stel het aanvanklik na hierdie diere as die swart “vlakhoring” bees verwys. Dit het onteenseglik ‘n spesifieke identifikasie aan die diere gegee, wat hulle van diere met ander fenotipiese eienskappe soos die “langhoring” onderskei het. Simon van der Stel en sy seun Adriaan was veeboere in murg en been en kan beskou word as die eerste mense wat diereverbetering in hierdie land gedoen het. Hulle het drie swart Groninginbulle, ‘n dubbeldoel ras, vanuit Holland ingevoer om die inheemse swart “Hottentotche” of vlakhoring beeste mee te verbeter. Die invloed wat daardie drie bulle op die totale bevolking van swart vroulike diere gehad het, was egter baie gering omdat daar reeds etlike duisende van hierdie swart koeie tot in die Kaapse middellande was. Maar, die Groningin-ras het wel ‘n invloed op die geskiedenis van hierdie beesras gehad. Die Van der Stels was daarvan oortuig dat hierdie oefening suksesvol was en het om twee redes aan hierdie beeste die naam “Vaderlander” gegee. Die eerste rede was dat die Groningin-beesras van Holland, hulle vaderland, ingevoer was. Die tweede rede was dat hulle ‘n nuwe beesras vir hulle nuwe vaderland geskep of dan geteel het.

Die Van der Stels was dus nie net verantwoordelik vir die vestiging van die Drakensberger wat ons vandag ken nie, maar hulle kan ook as die grondleggers van die Afrikaner-beesras van vandag beskou word. Hulle het die sogenaamde inheemse “Langhoring” met die rooibont Fries en die Noord Devon kombineer en vir die lang horing en die rooi kleur geselekteer wat hulle die “Afrikaansche” bees genoem het – die Afrikaner-beesras van vandag – aldus die Afrikaner Geskiedenisboek. Hierdie belangrike stukkie geskiedenis weerlê dan ook enige bewering dat die Drakensberger uit ‘n Afrikaner-Frieskruising ontstaan het. Inderwaarheid het die Drakensberger van vandag reeds basies as ‘n beesras bestaan toe daar begin is om die Afrikaner-beesras te ontwikkel.

Die tweede tydvak, die Groot Trek, die Oorlogsjare tot die erkenning van hierdie beesras – 1700 tot 1947

Gedurende die volgende 100 jaar, nadat die Van der Stels beslag gegee het aan “Vaderlandche” sowel as die “Afrikaansche” -beesrasse, het meer en meer blanke baanbrekers stelselmatig vanuit die tradisionele Kaapse distrikte ooswaarts getrek. Daarmee saam het die diere se getalle ook groter geword.

Groot Trek (foto – Wikipedia)

In 1837 het onenigheid oor belasting, besitreg en die okkupasie van grond tot ‘n uitbarsting gekom, waarna ‘n groot klomp boere die Kaapse grensdistrikte met hulle swart spanne osse verlaat en die Groot Trek na die onbekende binneland begin het. Hierdie Trekkers het deur die Oos-Kaap en Natal die binneland in getrek tot by Memel in die Vrystaat en Wakkerstroom in die Oos-Transvaal. Soos wat hulle dieper die binneland ingetrek het, het boere hulle gevestig op plekke soos Grahamstad, Kokstad, Kranskop, Utrecht, Vryheid, Ladysmith, Newcastle, Melmoth, Memel in die Oos Vrystaat en Wakkerstroom in Oos Transvaal.

Trekkers met die vanne van Breytenbach, Brink, Du Pusani, Maritz, Smuts, Potgieter, Prinsloo, Retief, Spies, Van Rooyen, du Plessis, Engelbrecht, Jordaan, Kemp, Klopper, van Niekerk en Uys het net met “Vaderlanders” getrek. Hierdie tyd het dan ook ‘n baie belangrike rol gespeel in die aanpasbaarheid en oorlewingsvermoë van hierdie ras. Omdat daar tydens die Trek nie dipstowwe of antibiotika’s beskikbaar was nie, het diere wat siek geword het aan bosluisoordraagbare siektes, óf gevrek óf op ‘n natuurlike wyse oorleef. ‘n Groot aantal Vaderlanders het in daardie tye in die slag gebly, maar díe wat oorleef het, het hulle genetiese immuniteit aan hulle nageslag oorgedra en dit vorm vandag nog deel van die unieke oorlewingsvermoë van die Drakensberger. Dit is dan ook een van die redes waarom jaloers gewaak moet word oor die behoud van die suiwerheid van hierdie beesras.

Hierdie natuurlike weerstand teen bosluisoordraagbare siektes, was dan ook die rede waarom die Vaderlander-beesras se getalle, gedurende die tydperk 1840 tot 1898, ver meer was, as ander rasse s’n. Inderwaarheid het die ander beesrasse gedurende hierdie tyd heeltemal onttrek van die hoë siekte-risiko gebiede. Gedurende 1899 tot 1902, tydens die Anglo-Boereoorlog,  word ‘n groot aantal diere van die Vaderlander-beesras uitgewis toe die Engelse soldate eenvoudig troppe diere doodskiet het in hulle strewe om die Boere op hulle knieë te dwing. Gelukkig het verskeie boere hulle diere in die byna onbegaanbare bos en bergagtige dele van Natal, Oos Vrystaat en Transvaal versteek en kon die ras weer stelselmatig vermeerder na die oorlog.

Die grootste enkele terugslag wat die ras seker tydens sy stryd om oorlewing getref het was die Beesverbeteringswet van 1934. Hierdie wet het nie die Vaderlander as ‘n beesras erken nie en net bulle van erkende Europese Rasse was toegelaat. Boere het ook ‘n subsidie van die staat gekry vir die aankoop van daardie vreemde bulle en Vaderlander-bulle, wat toe ook as Uys-beeste bekend was, is summier gekastreer. Duisende swart koeie is met uitheemse bulle gepaar en die nageslag was eenvoudig kruisings wat nie meer die eienskappe van die ras gedra het nie.Weereens was daar die pionierboere wat verseg het om hulle diere te laat kastreer. Hulle het vir die skyn Europese bulle ter wille van die Vee-inspekteurs aangehou, maar hulle suiwer Vaderlander-bulle in die berge weggesteek en so die ras suiwer gehou. Op 7 Februarie 1947 konfronteer meneer M.J. (Joey) Uys die Departement se Vee-inspekteur van Ermelo ene meneer J.P. van der Merwe om ‘n Vaderlander-bul ingevolge die voorskrifte van die wet te kom inspekteer. Hy het geweet dat dit eintlik onwettig was om so ‘n bul te besit en sy voorwaarde was dat as sy bul swakker as die Europese bul sou wees, sou hy self sy Vaderlander-bul kastreer. As sy bul egter beter sou wees, moes sy bul goedgekeur word. Vandag weet ons dat Joey Uys se bul, Gryshoek Konfoes, loshande geslaag het. Dit het ‘n paar ander boere wat dieselfde moed aan die dag gelê het om hulle diere suiwer te hou, aangespoor om ook húlle bulle aan keuring bloot te stel. Gedurende April van 1947 word ‘n Departementele kommissie deur die Minister van Landbou, advokaat J.G. Strauss, aangestel om die ras te ondersoek en in Oktober 1947 word die ras amptelik erken. Dit is ook toegelaat dat diere gekeur kon word volgens standaarde wat telers self gestel het. ‘n Totaal van 621 diere, waarvan 13 bulle was, word gevolglik op 9 November 1949 gekeur en die Drakensberger Beestelersvereniging word te midde van groot onmin,  gestig. Oom Joey Uys word as eerste Voorsitter van die Vereniging aangewys.

Die derde Tydvak – 1949 tot vandag

Die rede vir die onmin in die geledere van die nuutgestigte Drakensberger-beestelersvereniging was dat so baie van die boere wat oorspronklik telers van die Vaderlandse bees was, maar wel Europese bulle gebruik het, nie toegelaat is om as lede aan te sluit en hulle diere te laat keur nie. Daar was toe besluit om die boeke oop te hou tot 1951 om telers van ander distrikte, wat ook hulle diere in die berge versteek en suiwer gehou het, die  geleentheid te gee om diere na vore te bring vir keuring en om só deel te word van die Vereniging. ‘n Uiters streng keuringstandaard was egter van meet af gestel. Dit het meegebring dat meeste diere nie gekeur kon word nie. Hierdie standaarde het veroorsaak dat diere wat later bekend gestaan het as die Tin Tin Blacks en Kemp-beeste, nie die keuring kon slaag om deel te word van die ras nie.

Foto – Drakensberger Handleiding

Ten einde ‘n hoë standaard te vestig en te handhaaf het die lede van die Vereniging besluit om ook die diere, wat aanvanklik gekeur was, weer te inspekteer. Weereens was daar diere uitgeskot. In 1956, aan die einde van hierdie suiweringsproses, was daar 1650 vroulike diere asook 73 bulle op die boeke van die Vereniging. Daar was egter steeds ontevredenheid, selfs tussen lede van die Vereniging wat daarop aanspraak kon maak dat hulle diere suiwerder van oorsprong was as die ander lede s’n. Gevolglik het enkele telers hulle kuddes geslote gehou en net bulle uit eie teling gebruik. Hierdie was moontlik voordelig aangesien verskillende bloedlyne sekere eienskappe geneties gevestig het waaruit ons vandag nog steeds kan selekteer en op kan voortbou. So was daar die Gryshoek-lyn van Joey Uys, wat deel was van die Vereniging asook die Tai Tai (Uys) en Thys (Uys) Goedgenoeg-lyne wat nie deel van die Vereniging was nie. Beide hierdie lyne asook ander lyne kon egter op suiwerheid aanspraak maak. Telers wat in later jare van die Vereniging deel geword het, het diere vanuit hierdie lyne aangekoop en vir keuring na vore gebring. Die genetika vanuit daardie kuddes het dus behoue gebly en speel vandag steeds ‘n groot rol weens die verbreding van die totale genepoel van die ras.

Foto – Drakensberger Handleiding

In 1958 word die boeke weer vir twee jaar ge-open om telers met diere wat voldoen aan die Vereniging se vereistes geleentheid te gee om aansoek vir keuring te doen. Op ‘n belangrike vergadering in 1961 word die strydbyle uiteindelik begrawe toe die sogenaamde Uys-beesgroepering deel geword het van die Drakensberger-beestelersvereniging. Die Genootskap het nou 68 lede met 4752 aangetekende diere gehad. Daar was die Kranspoort-lyn van John de Jager, die Dwarsspruit-lyn van Dirk van Niekerk, die Meulstroom-lyn van Beukes Willemse, die Jagkop-lyn van Cornelius Uys en ook vele ánder lyne wat gevolg het.

In die tydperk 1955 tot 1966 word daar onverpoos gewerk aan ‘n Grondwet met ‘n Standaard van Voortreflikheid asook Skedules en Verordeninge vir die ras. Vandag is die Vereniging in besit van seker van die mees volledige dokumentasie in die Stoetbedryf. In hierdie verband word reuse werk deur menere Niel Reinecke en Kit Vickery gedoen. Gedurende 1960 word sommige kuddes uitgenooi om deel te neem aan die Nageslag- en Produksietoetse van die afdeling Veeteelt van die Departement Landbou. In dieselfde jaar neem die Drakensberger-beesras vir die eerste keer deel aan openbare skoue naamlik die Bloemfontein- en Royalskou in Pietermaritzburg. Gedurende die daaropvolgende jare word groot getalle diere landwyd geskou. Die volgende mylpale is belangrik:

  • In 1961 word die eerste vier-dag Keurder-/Beoordelaarskursus vir telers en beamptes gehou.
  • Sedert 1962 word ‘n unieke keuringstelsel geïmplimenteer wat vandag nog funksioneer.
  • In 1963 word besluit om ‘n jaarlikse bulveiling op Ermelo te hou.
  • In 1967 word die Grondwet van die Drakensberger-beestelersgenootskap hersien om te voldoen aan die vereistes van die Suid Afrikaanse Stamboekvereniging en word ‘n Genootskapslid van Stamboek en die Vereniging se diere word in die stamboekstelsel opgeneem.
  • Tydens die 1967 Algemene Jaarvergadering (AJV) van die Vereniging word besluit dat gekeurde diere onthoring mag word.
  • Gedurende 1968 word daar weer ‘n kursus aangebied wat deur 35 persone bygewoon word. Vanweë die hoë standaard is daar net 6 kursusgangers wat geslaag het.
  • In 1981 besluit die AJV om prestasietoetsing verpligtend vir al sy lede te maak.
  • Gedurende 1995 besluit die AJV om natuurlike poenskop diere toe te laat.

Ek is daarvan oortuig dat ons vandag kan terugkyk op ‘n ryk geskiedenis van die Drakenberger-beesras wat oor eeue strek en ons kan die wonderlike vrugte pluk van ‘n klein groepie manne met durf wat hierdie erfenis vir ons bewaar en gegrondves het. Ek is verder ook seker dat die Drakensberger, vir dieselfde toestande, op elke terrein van reproduksie, geen gelyke in Suid-Afrika het nie!

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————-

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.46 avg. rating (88% score) - 13 votes