Deel die artikel met jou vriende:

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n artikel oor klimaatsverandering vir ‘n koerant geskryf en hoe klimaatsverandering tot die uiteindelike ineenstorting van die beskawing kan lei en hoe belangrik selfonderhouding en volhoubare ontwikkeling is.  Op versoek van die koerant het ek ‘n foto van my groentetuin saam met die artikel gestuur.  Nee, sê die koerant, dit moet verkieslik ‘n aksiefoto wees – iets met ‘n mens op wat iets doen.  Ek stuur toe vir hulle ‘n foto van my vrou wat weef.  Nee, sê hulle, dis nie dramaties genoeg nie.  Ek stuur toe ‘n foto van my wat ‘n mes smee en dit was toe by die artikel geplaas.

‘n Week of so nadat die artikel in die koerant verskyn het, kry ek ‘n uitnodiging om aan ‘n TV program oor klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling deel te neem.  Net na die aangekondiging draai die aanbieder na my en sê: “maar Francois Durand is reeds besig om vir die apokalips voor te berei deur om wapens te maak”.  Gelukkig kon ek hierdie steekhou ontduik en antwoord dat ons alles in ons vermoë moet doen om selfonderhoudend te word en dat dit alles vanaf metaalwerk, houtwerk, kosproduksie, kospreservering, tekstielvervaardiging, kleremakery, bouwerk, energieopwekking, onderwys ens. insluit.  Ons het geheel van industrieë afhanklik geword om ons te voed, klee, huisves – trouens omtrent vir alles.

Ek vra die aanbieder of hy al ooit gedink het daaraan hoeveel petrol alleen gebruik is om die aartappel op sy bord te plaas.  Die boer moes die landery ploeg, arbeiders aanry, die aartappel-oes met ‘n vragmotor na die mark neem, die groothandelaar het met ‘n vragmotor die aartappels opgelaai, die omroeper se vrou moes heen en weer na die winkel ry.  En dis nou net die petrol – ek kon net sowel na die staal wat gebruik was om die trekker, vragmotors, motor, waterpompe en sproeiers te vervaardig verwys het, of die olie wat gebruik was om die besproeiingspype, petrolpype, voertuigsitplekke, toonbanke, stuurwiele, bande, verpakking, of die steenkool wat vir elektrisiteit gebruik was, ens. verwys het.  Mens moet eintlik alles saamtel en tot die gevolgtrekking kom dat nie net die aartappel nie, maar alles op jou bord en in jou yskas en in jou koskaste en in jou huis ‘n klomp geld en hulpbronne gekos het om te vervaardig.

‘n Kostuin is egter iets heeltemal anders.  Hier kan jy genoeg kos vir jou en jou gesin met die kleinste omgewingsimpak en op die goedkoopste vervaardig mits jy dit reg beplan.  Mens het nie trekkers, vragmotors, petrol, gifstowwe, kunsmis of arbeiders in ‘n kostuin nodig nie.

Die beginsel van die kostuin:

Tot nog onlangs het dorpsmense kos in hulle tuine verbou.  Dit was oorspronklik die doel van die tuin.  Natuurlik het mense dikwels in die verlede ‘n fyntuin langs die huis of in die voortuin gehad maar die agtertuin was gebruik om tamaties, pampoen, boontjies en kool te verbou.  Mense het selfs vrugteboorde en wingerde gehad.  Die oorspronklike huisies in Villieria, waar ek bly, het nes HOP huisies vandag maar vier vertrekke en ‘n klein badkamertjie met net ‘n bad en wasbak gehad, terwyl die toilet in die buitegebou was.  Die doel van hierdie huise was om goedkoop behuising vir die soldate met families, wat na die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika teruggekeer het, te verskaf.  Die lang, smal erwe was daarvoor bedoel om mense in staat te stel om hulle eie kos te produseer.  Soos ons lewens meer gejaagd geraak het, en mense finansieël meer vermoeënd geraak het en kos kon koop, het hierdie beginsel vervaag en sien mens deesdae selde groentetuine en vrugtebome in die stad.

Maar dink bietjie hieraan: as mens voogdyskap van die aarde gekry het – bedoel dit nie dat mens verantwoordelik daarmee moet omgaan nie?  Te dikwels ontmoet ek mense wat glo dat aangesien hulle ‘n stuk grond besit, hulle daarmee kan doen wat hulle wil.  Dit is soos om te glo dat jy jou blomtuin kan natspuit of jou kar met ‘n tuinslang kan was, terwyl ander mense nie water het nie, bloot omdat jy daarvoor betaal het.  Ek sien oral om my heen tuine met kikoejoe gras (afkomstig van Kenia), katteklou-rankers, “yellowbells” en lantanas – ongeag dat dit Kategorie 1 en 2 indringerplante is.  Blomtuine staan geil van die uitheemse en oneetbare plante.

Ek dink dat dit mens se morele plig is om die beste uit jou grond te kry as jy bevoorreg genoeg is om grond te besit.  Deur om jou eie kos te kweek benut jy juis daardie grond ten beste.

Twee tipe kostuine:

Die groentetuin

Daar is al baie geskryf oor die groentetuin maar, daar is ‘n paar aspekte wat ek wil beklemtoon.

Die gebruik van gifstowwe en kunsmis is ongewens en is skadelik vir die omgewing en hou gesondheidsgevare vir die mens in.  Daar is nie genoeg ruimte om dit hier te bespreek nie, maar lees gerus op die internet hoe endokriene versteurders mense se gesondheid benadeel (gebruik die sleutelwoorde: “endocrine disruptors” en “xeno estrogens”).  Gifstowwe gee jou miskien ‘n pragtige produk maar die effek daarvan op mens en omgewing is skrikwekkend.  Dit alleen behoort mens te noop om jou eie kos te produseer.

Begin jou eie komposhoop.  ‘n Paar jaar gelede was ek bevoorreg genoeg om die ZZ2 tamatieplaas te besoek.  Daar het ek gesien hoe hulle groot hoeveelhede kompos vir die tamatieplaas vervaardig.  Op een plaas wat oorspronlik aan ‘n buurman gehoort het, het die grond so verbrak, weens die jare-lange gebruik van kunsmis, dat bykans niks daar verbou kan word nie.  Hierdie plaas is omskep in ‘n komposvervaardigings-aanleg waar tonne kompos vervaardig word.  As die grootste tamatieplaas ter wêreld met behulp van kompos kan boer – hoekom kan jy nie?  Vandat hulle van kunsmis na kompos oorgeskakel het, smaak die tamaties nog lekkerder, is die produksie en gehalte van die tamaties beter en die grondekologie het genormaliseer.

Tuin-tamaties

Kweek jou groente in hout, baksteen of sementsteen bakke sodat jy die toediening van water en voedingstowwe vanuit kompos of erdwurm-tee kan beheer sonder dat dit dieper in die grond in verdwyn.  Met die regte mengsel van veen, kompos en vermikuliet vermy mens baie probleme wat met aalwurm en onkruid gepaard gaan en kan mens die groente nader aanmekaar plant as wat normaalweg die geval in gewone grond is.  Die groeimedium maak dit ook baie maklik om groente soos wortels, uie, rape en beet te oes.

Oes die reënwater wat op die dak val deur jou geute aan watertenks te koppel.  Van jou watertenk kan jy die groentetuin met drupbesproeiing natlei.

Kruietuin

Een van die wonderlike aspekte van die groentetuin is dat dit ‘n familieaktiwiteit kan word waaraan die hele gesin kan deelneem.  Die emosionele waarde wat mens daaruit put om in die namiddag na werk huis toe te kom en in die koel na-middag / vroegaand kaalvoet in die tuin te werk met jou kinders om jou, kan nie onderskat word nie.  Daar is iets diep bevredigend daarin om letterlik met die sweet in jou aangesig die kos op die tafel te kan sit wat jy self gekweek het.  Wanneer julle vanaand smul aan die tuinslaai wat uit die blaarslaai, tamaties, komkommers en groenpepers wat uit jou tuin kom, weet jy dat jy jou familie nou die varsste kos moontlik eet en dat hulle aan geen gifstowwe of ander endokrien-versteurders blootgestel is nie.

Pakkies met sg. erfenissade (“heritage seeds”) is by winkels beskikbaar – begin jou groentetuin daarmee.  Dit is die saad van die oorspronklike gewasse wat bestaan het voordat geneties-gemodifiseerde gewasse gekweek is (meer daaroor anderdag).  Mens kan dan ook jou eie saad oes en dit tot die volgende plant-tyd hou.

Die natuurtuin

Natuurlik wil mens nog steeds koeltebome, struike en blomme in die tuin hê, maar hoekom moet jy uitheemse plante daarvoor aanplant?  Daar is ‘n hele verskeidenheid inheemse plante wat geskik is vir die huistuin maar meer nog – talle van hierdie plante dra ook eetbare vrugte.

Kei-appels

Bome soos maroelas, mispels, waterbessies, moepels en die wildepruim aard in Pretoria en alhoewel dit nie so groot soos hulle eweknieë verder noord word nie (die waterbessies op die oewers van die Limpopo kan bv. maklik 18 m hoog word) kan hulle steeds as skadubome in die tuin aangeplant word, waar hulle maklik 6 – 10 m hoog kan word.  Keiappels met hulle skerp 2 – 6 cm lange dorings vorm ‘n gedugte randstruik wat dit moeilik vir boewe maak om oor jou muur te klim.  Dan is daar ook die  rosyntjiebos en kruisbessie wat groot struike met eetbare vruggies vorm.

Daar is verskeie ander voordele daaraan om eetbare inheemse plante in jou tuin te hê.  Inheemse plante het ‘n natuurlike weerstand teen peste en dus hoef mens nie die plante met gifstowwe te bespuit nie.  Tweedens – as mens ‘n verskeidenheid inheemse plante in jou tuin het, vestig mens ‘n ekologiese balans wat ‘n verskeidenheid diere kan huisves.  Voëls, nagapies, vlêrmuise, akkedisse, skurwepaddas, spinnekoppe, hotnotsgotte en perdebye vreet insekte, insluitende peste.  Dit is ook een van die belangrikste redes hoekom mens nie gif in die tuin moet gebruik nie want dan vernietig mens die boonste deel van die voedselpiramiede wat juis daartoe lei dat die peste sonder teenstand die volgende seisoen vermeerder.  Die roofdiertjies versamel die gifstowwe van die talle prooidiere wat aan nie-dodelike konsentrasies van die gifstof blootgestel is.  Die meer gif-weerstandige insekte word geselekteer terwyl die roofdier daarvan doodgaan.

Die ekologie wat saam met inheemse plante in jou tuin gevestig word bied dan ook sommer ekstra beskerming vir die groenteplante (wat meestal uitheems is).  Dieselfde wespe en spinnekoppe, akkedisse en voëls wat na die inheemse plantegroei aangelok word, patroleer dan ook sommer jou groentetuin.

Waterbessies

Inheemse vrugte soos maroelas, stamvrug, noem-noems, wildepruim en kei-appels is suur, terwyl mispels, kruisbessies en waterbessies soeter is.  Mens moet onthou dat die oorspronklike appels, pere, perskes, kersies ens. nie so soet soos die moderne kultivars van vandag was nie.  Oor duisende jare heen het die mens soeter en soeter en sapperiger en sapperiger kultivars gekweek totdat ons die suikerbomme het wat ons as vrugte vandag ken.  Hoe soeter hoe beter?  Ongelukkig toe nou nie.  Diabetes of suikersiekte word ‘n al hoe groter wordende probleem in die Westerse wêreld.  Ons kry eenvoudig te veel suiker in.  Nou hoe gemaak wanneer dit by vrugte kom?  Mens moet tog vitamines inkry.  Inheemse vrugte bied die antwoord – dit bevat minder suiker, is veselryk en geweldig hoog in vitamine C.

Nog ‘n voordeel van inheemse plante is dat benewens die moontlikheid dat mens hulle soms moet saag en snoei om hulle in toom te hou, hulle werklik onderhoudvry is.  Dit is gewis nie iets wat mens van ander vrugtebome kan sê nie.  Omdat inheemse plante by die klimaat van die spesifieke streek waar hulle voorkom aangepas is, hoef mens nie hulle in die winter toe te maak nie, mens hoef hulle nie kunsmis of selfs kompos te gee nie, mens hoef, soos ek genoem het, hulle nie met gif te spuit nie en mens hoef hulle, nadat hulle posgevat het, nie meer water te gee nie.

Hou in gedagte dat Boesmans nie tuine het nie, tog is hulle springlewendig en gesond.  Hulle het oorspronklik regoor suider Afrika voorgekom en het oral waar hulle gebly het, die vrugte van daardie streek geëet.  Met inheemse vrugtebome en -struike het jy en jou gesin toegang tot vars, vitamienryke, giflose vrugte regdeur die jaar – en dit is gratis op die koop toe.

Tel jou seëninge

Wanneer jy selfonderhoudend raak en jou eie kos kan vervaardig, spaar jy uit die aard honderde rande per maand.  Benewens uitgawes soos tuingereedskap, boumateriaal  vir groentebakke, groeimedium, saad, pype en ‘n watertenk, is daar weinig ander kostes daaraan verbonde.  Kospryse gaan die hoogte inskiet weems klimaatsverandering, die herverdeling van grond, die dramatiese afname van die getal vermoeënde kommersiële boere en die sukkelende ekonomie.  As jy so geseënd is om in ‘n goeie reënvalstreek te bly, inheemse kosplante wat in daardie streek aard in die hande kan kry en as jy toegang tot ‘n lappie grond het – is dit nie dan baie beter om dit vir jou eie kossekuriteit aan te wend nie?

Mens hoef nie van die begin groot te gaan nie – dit is beter om stuk-stuk en projek na projek uit te brei.   Maar dit is belangrik om iewers te begin – dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n boom te plant.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.77 avg. rating (94% score) - 13 votes