Deel die artikel met jou vriende:

Kom luister gratis na hierdie aanbieding tydens Sakeliga KragDag 2018 op Saterdag 11 Augustus tussen 13:30 en 14:30 in die Raadsaal op die KragDagterrein.

Aanbieder:

Piet le Roux is die uitvoerende hoof van Sakeliga (voorheen bekend as AfriSake). Hy beskik oor ‘n honneursgraad in ekonomie van die Universiteit Stellenbosch, en ‘n meestersgraad in ekonomie van Unisa oor die impak van Swart Ekonomiese Bemagtiging op ekonomiese groei.

Le Roux is ‘n lid van die Raad van die Instituut vir Rasseaangeleenthede en ‘n medewerker van die Suid-Afrikaanse Ludwig von Mises Instituut. Sy navorsing en publikasies fokus op ekonomiese, politieke en kulturele aangeleenthede; en hy is ‘n gereelde openbare spreker en kommentator. Le Roux is ‘n voormalige akademiese hoof van Akademia, die privaat hoëronderwysinstituut, en ‘n voormalige hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Opsomming:

Wat was die Hanseliga? Hoe het hulle die wêreld se mees suksesvolle sakegemeenskap geword? En wat kan ons by hulle leer? In hierdie praatjie word die verhaal van ‘n merkwaardige, selfstandige sakegemeenskap vertel: Een wat vir ongekende voorspoed in Europa gesorg het. Wat bande tussen gemeenskappe gebou het. Wat nie van enige politieke heerser afhanklik was nie. En wat ongelooflike kulturele en ekonomiese infrastruktuur nagelaat het. Tussen die twaalfde eeu en sewentiende eeu het die Hanseliga as ‘n verbond van handelaars en stede in Europa ontstaan. Hul doel was om, ongeag die eksterne politieke omgewing, die belange van hul lede te beskerm, te beding vir ‘n gunstige sake-omgewing, en ‘n eie, selfregulerende sake-omgewing te skep. Die Hanseliga leer ons dat sakelui saam sterker as slegte politiek kan wees.

 


4.00 avg. rating (82% score) - 1 vote