Deel die artikel met jou vriende:

Die heuningby is die wondelike klein diertjie wat die planteryk en die diereryk verbind. Die magneet wat die natuurlike wêreld bymekaar hou. Kyk om jou na die pragtige blomme en bome. Ongeveer twee derdes daarvan is die gevolg van bye se onverpoosde daagelikse harde werk.

Plantbestuiwer-tweesydigheid is ‘n verhouding tussen plant en bestuiwer waaruit elk van die partye voordele trek. Die plant word kruisbestuif met plante van dieselfde spesie – ‘n stelsel wat genetiese materiaal meng en sterk lewendige saad voortbring.

Interessant is dat die heuningby slegs een soort blom sal besoek tydens ‘n vlug. Een bytjie besoek tot soveel as 100 blomme per dag. So kan een sterk kolonie bye tot ongeveer 3 miljoen blomme per dag bestuif. Om hierdie taak op die mees doeltreffende en  effektiewe manier te verrig is die heuningby hiervoor perfek ontwikkel.

In Suid-Afrika word twee soorte heuningbye aangetref naamlik die Kaapse Heuningby (Apis Mellifera Capensis) en die Afrika-heuningby (Apis Mellifera Scutellata). Hulle verspreiding word deur ‘n natuurlike lyn as gevolg van reënval geskei, naamlik die winterreënvalgebied waar die Kaapse Heuningby voorkom, en die somerreënvalgebied waar die Afrika-Heuningby voorkom.Daar is ongeveer nog 16 ander soorte heuningbye in die res van Afrika.

Die werkerby wat ‘n vroulike bytjie is, begin haar eerste dag as ‘n eiertjie wat regop staan in ‘n heksagonale of seskantige sel. Op die vierde dag broei die larwe uit wat dan deur verpleegsterbye tot die negende dag gevoer word met ‘n proteïenryke werkerjellie. Vanaf die negende dag tot die veertiende dag word die sel geseël. In hierdie tyd verander die larwe na ‘n papie en dan tot ‘n volwaardige werker, wat oplaas die wasseël oopbyt en so deel word van die werkerskolonie. Binne ‘n paar uur nadat sy haar verskyning gemaak het, begin sy as ‘n verpleegsterby werk.

In haar kort lewe van ongeveer 30 dae verrig sy verskeie take, eers binne die korf en daarna buite die korf. Binne die korf maak sy eers skoon, dan voer sy larwes. Sy skei ook was af vir die bou van selle en die seël van larwesselle. Vele ander take soos byvoorbeeld regulering van die korftemperatuur tussen 33⁰ en 36⁰ celsius asook die beskerming van die kolonie word gedoen, soos en wanneer omstandighede dit vereis.

Die laaste agt tot tien dae van haar lewe is sy ‘n veldbytjie wat nektar, water en stuifmeel inbring na gelang van die behoefte van die korf. Om haar taak as veldby optimaal funksioneel te vervul, het sy die perfekte anatomie.

Met twee groot saamgestelde oë, elk met 3000 lense, kan sy stuifmeelpatrone op plante sien en hoef sy nie tyd te mors om plante sonder stuifmeel te besoek nie. Verder vorm drie klein ogies ‘n driehoek wat sorg vir haar “GPS”-navigasie, wat binne ‘n halwe meter akkuraat is!

Haar twee agterpote het haartjies wat so gevorm is dat dit twee stuifmeelmandjies vorm waarin stuifmeel gepak word. Fyn haartjies op haar lyf wat soos pluime lyk, vibreer wanneer sy vlieg en bou so ‘n statiese lading op.  Die elektries gelaaide haartjies veroorsaak dat, as die by op ‘n blom land, “spring” die stuifmeel as’t ware op haar, vanwaar sy dit met haar voorpote afvee en in die stuifmeelmandjies pak. Haar reuksintuig is ook ‘n honderdmaal meer sensitief as ‘n hond s’n en is geleë in haartjies op die voelers.

Van alle insekte het die heuningby die mees digte brein, ongeveer 1 kubieke mm groot, met bykans ‘n miljoen neurons teenoor ‘n vrugtevlieg wat sowat 250 000 neurons het. Die breinkrag is nodig vir kommunikasie in die hoogs sosiale ontwikkeling van ‘n swerm. Belangrike inligting met betrekking tot toestande buite die korf en toestande binne die korf word onderling tussen die werkers uitgeruil, wat dan die optrede van die hele swerm bepaal. Hierdie kommunikasie geskied by wyse van kontak-feromone wanneer nektar van die veldby na ‘n kaswerker oorgedra word. Afstand en rigting van die voedselbron word ook deur middel van die wiggeldans (waggle dance) oorgedra.

‘n Byekolonie is in wese ‘n super-organisme, waar ‘n dubbele voortplantingstelsel ter sprake is. In die een opsig kan dit vergelyk word met ‘n meersellige organisme waar die deurlopende vervanging van selle vergelykbaar is met die aanwas van die bye. In ‘n ander opsig plant die hele byekolonie voort wanneer, onder sekere gunstige omstandighede, ‘n primêre swerm van die moederkolonie afswerm om ‘n nuwe kolonie te vorm. ‘n Moederkolonie van die Apis Mellifere Scutellata kan só tot 16 keer per jaar afswerm!

‘n Interessante feit is dat ons Scutellata bytjie kleiner is as die Europese bytjie, genoem die Italiaanse Heuningby (Apis Mellifera Ligustica). Die selgroote is ook kleiner sodat 15 000 meer eiers in ‘n standaard byekorf gelê kan word. Die gevolg hiervan is dat die Scutellata bye baie gouer van ‘n handvol bytjies tot ‘n sterk swerm kan ontwikkel.

Die bestuiwingseisoen in Suid-Afrika begin met die blom van die aalwyne In die Rust de Winter omgewing gedurende die eerste twee weke van Julie. Hierdie blomtydperk word die Aalwynvloei genoem wat die Bosvloei inlei. Verskillende ander vloeie soos die Lemoen-/Sitrusvloei, Sonneblomvloei, Makadamia-vloei en lietsjievloei gee vir ons ‘n heerlike verskeidenheid heunings. Hierdie vloeie het dan ook die gevolg dat swerms van een vloei na ‘n ander trek. Gevallestudies het getoon dat swerms sover as 100km agter kos sal aantrek.

Omdat bytjies so hardwerkend is, het hulle ‘n “supervoedsel” nodig om optimaal te kan funksioneer. Met bye se heuningsak, ook genoem hulle tweede maag, word nektar, wat uit sukrose bestaan, na fruktose en glukose omgeskakel deur die ensiem invertase in die heuningsak toe te voeg. Hierdie stroop word deur werkers oorgedra deur middel van die Proboscus of tromp. Die werkers van die korf plaas met hierdie tromp die stroop in ‘n sel waar dit bywyse van verdamping gekonsentreer word tot minder as 18% water en meer as 82% suiker. Sodra die optimale suikervlakke bereik word, word die sel deur was verseël. En daar is jou heuning – netjies verpak in ‘n waskapsule – superkos vir besige bytjies en ook ander soettande.

Net soos Suid-Afrika nie sonder ons boere kan klaarkom nie, kan die boere ook nie sonder bye klaarkom nie. So kom ons pas hulle op!

Yochanan Smith

Honey & Hives  

Die skrywer van hierdie artikel, Yochanan Smith is een van die aanbieders van ‘n Byekursus wat op Saterdag 3 November 2018 op die Diamantvallei landgoed aangebied word. Yochanan sal byekorwe met bye en beskermingspakke voorsien wat die kursus baie prakties sal maak. Omdat daar gewoonlik in die aand met bye gewerk word sal die kursus eers die middag begin. Na die teoretiese gedeelte van die kursus sal die kursusgangers met ‘n vleisbraai getrakteer word waarna die praktiese gedeelte van die kursus sal volg. Ongelukkig kan ons net voorsiening maak vir 20 kursusgangers op hierdie – wat beloof om ‘n baie gewilde kursus te wees. 

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.60 avg. rating (90% score) - 5 votes