Deel die artikel met jou vriende:

Sedert vroegste tye kom mense bymekaar rondom vure vir hitte, kos, lig en ‘n gevoel van veiligheid en gemeensaamheid. Aanvanklik was die oop houtvure buite, maar later ook in binne-areas, hoewel rook en roet ‘n probleem was. Kosmaak op ‘n oop vuurherd binnenshuis het egter ‘n beter opsie geword toe die uitvloei van die warm lug deur ‘n opening in die dak en later ‘n skoorsteen,  bewerkstellig is. So ‘n vuurherd was oorspronklik in die middel van ‘n vertrek,  sodat die mense daar rondom kon sit en eet en drink, en dan sommer slaap ook.

Die woord stoof kom van ‘n ou Engelse woord ‘stofa’ wat beteken ‘any individual and enclosed space such as a small room (kamertjie)’. Die eerste ‘stofa’ op rekord is in 1490 in Alsace, Frankryk gebou van stene en teëls. In hierdie gebied se hoofstad, Strassburg, is in 1557 die eerste houtbrandstoof gepatenteer. ‘n ‘Kamertjie’ is in die groter vertrek gebou om die vuur in te maak en dit is aan ‘n skoorsteen verbind om lugvloei te veroorsaak wat vars lug beheerd deur die brandende hout trek. So styg die temperatuur en vind beter verbranding plaas. Vir bykans die volgende 2 eeue sou die stoof ‘n konstruksie van messelwerk en teëls wees.

In 1707 het Abraham Derby van Shropshire in Engeland yster gesmelt met kooks, en volgens sommige het dit die Eerste Industriële rewolusie ingelui. Yster het toe ook met die  bou van stowe in die prentjie gekom en sedert 1728  is sg. vyfplaatstowe of Jambstowe kommersieel van yster vervaardig volgens ‘n Duitse ontwerp. ‘n Fransman, Francois Cuvilliés, het in 1735 ‘n stoof ontwerp wat aan 3 kante toegebou was, maar met ‘n ysterplaat met gate bo-op vir potte, bekend as die bredie (stew)- of kastrolstoof. In Amerika het Benjamin Franklin  in 1742 weens ‘n houttekort, ook ‘n stoof van metaal ontwerp, maar dit was vir huisverwarming en nie vir kosmaak nie. Dit was net aan 3 kante toe en het glo ‘n kwart van die hout gebruik van ‘n gewone kaggel. Op hierdie stadium is daar ook begin om ysterstowe op pote en stowe met 6 plate te vervaardig. In die tweede helfte van die 18de eeu het Benjamin Thompson, Graaf Rumford,  die plat kookoppervlakte gekombineer met ‘n oond.

Die Eerste Industriële rewolusie van omtrent 1760-1840 het gelei tot meer ystersmelterye en die beskikbaarheid van tegnologie en masjiengereedskap. Stowe is toe meer dekoratief en ligter gemaak met allerhande patrone op die yster. Die tipiese Shakerstowe, wat op eenvoud gekonsentreer het, was ‘n uitsondering.

Hout was tot op daardie stadium nog die algemene brandstof, maar steenkool het toe goedkoper geword. Steenkool brand warmer as hout en so ‘n stoof moes baie hoër temperature kon hanteer. Die eerste praktiese koolstoof is in 1833 deur Jordan Mott ontwerp. Sedertdien was steenkool ‘n belangrike komponent vir verhitting vir die volgende 150 jaar.

Antrasiet brand teen nóg hoër temperature as steenkool en in 1929 is begin met die produksie van die bekende AGA-antrasietstowe. Hierdie groot gietysterstowe het ‘n kenmerkende ontwerp gehad met twee massiewe plate en twee oonde. Dit het ‘n bekende in menige Suid-Afrikaanse kombuis geword.

‘n Ander bekende stoof is die Welcome Dover wat sedert 1923 in Suid-Afrika in Durban en later New Castle, in samewerking met die Falkirk-maatskappy van Skotland, vervaardig is. Hierdie gewilde stofies word vandag nog deur ander vervaardigers gemaak, maar steeds volgens dieselfde ontwerp. Oorspronklik ingevoerde name wat  by veral ons ouer lesers nostalgie sal wek is, Jewel, Union, Ellis Delux, Ruby en die dekoratiewe Queen Anne-stofie. Party net van gietyster, ander deftig verchroom en met groen en roomkleurige of wit enamel versier – staatmakers in ons ouers en grootouers se kombuise met ‘n hout-of stronkekas langsaan. Dit was geassosieer met gesellige saamsit saans voor die stoof met koffie of sop wat prut en kole wat gloei deur die oop klappie voor.

As gevolg van die toenemende gewildheid van gas- en elektriese stowe het die laaste geslag of twee nie soveel blootstelling aan die sg. koolstoof gehad nie. Terloops, koolstoof is die naam in die volksmond, en koolstowe vandag kán met steenkool brand, maar dit verkort blykbaar die lewe van die stoof. Hout bly steeds die aangewese brandstof. Hout verwarm drie maal sê hulle: wanneer jy dit kap, wanneer jy dit opstapel en wanneer dit brand! Dit lyk egter of daar ‘n hernude belangstelling in koolstowe is, moontlik as gevolg van die uitdagings wat ons ter plaatse ervaar op die gebied van kragvoorsiening. Veral nou in die winter is dit darem lekker om, soos ons voorsate van toentertyd, gesellig saam om hierdie snoesige hittebron te verkeer.

Jy het dan ook nou die geleentheid om, voor die winterkoue heeltemal gewyk het, ‘n Welcome Dover stoof nr 6 te wen in deur in te skryf vir die kompetisie wat deur KragDag, Maroela-media en Ndebele Stowe aangebied word. Die maatskappy wat oorspronklik die Dover- en Jewelstowe in Suid-Afrika gemaak het, bestaan nie meer nie, maar daar is nog van hul produkte, asook ander koolstowe in omloop. Ndebele Stowe verkoop tweedehandse koolstowe nadat hulle nagesien is en vernielde of gebreekte onderdele herstel of met selfvervaardigde nuwes vervang is. Daarvolgens gee hulle die produk wat hulle verkoop ‘n gradering van A of B. Die stofie wat gewen kan word, is egter ‘n splinternuwe een, want Ndebele Stowe maak die Dover-stofies self in hul eie fabriek buite Bronkhorstspruit in drie grootes, nrs. 6, 7 en 8, waarvan die kleinste die gewildste is. Hierdie nuwe stofies word op die oorspronklke patroon vervaardig, maar met ekstra verchroming en ‘n stoofrak daarby om dit nog mooier en meer gebruikersvriendelik te maak.

Skryf in vir ‘n kans om die koue hierdie winter die hoof te bied en sommer krag te spaar deur op die stofie kos en koffiewater te maak!

4.50 avg. rating (88% score) - 4 votes