Deel die artikel met jou vriende:

Dermmikrobioom is ‘n versamelnaam vir die genetiese materiaal van al die bakterieë, virusse, fungi en ander eensellige diertjies, wat in ons spysverteringskanaal gehuisves is. ‘n Meer algemene term is dermflora en elke mens het ‘n unieke kombinasie. Hulle leef in simbiose met ons saam, dus voordelig vir albei, en is eintlik noodsaaklik vir normale gesondheid!

Daar is tien keer meer mikro-organismes in die menslike liggaam as wat daar selle is en word geskat op 100 triljoen. Hulle kom wel ook op die liggaam se buitenste oppervlaktes voor, maar die meeste is in die dermkanaal en weeg omtrent 2 kg in totaal. Op hierdie stadium is reeds 3 miljoen verskillende gene gedemonstreer wat 150 maal meer variasie verteenwoordig as dié van menslike liggaamselle.

Reeds in 1996 het Dr Rodney Berg die rol van die dermflora beskryf as belangrik vir die anatomiese, fisiologiese en immunologiese ontwikkeling van die gasheer – die mens in hierdie geval. Hy het bevind dit stimuleer die immuunstelsel om vinnig te reageer en onderdruk die groei van siekteveroorsakende organismes in die derm. Skadelike organismes wat óórgroei kan voedselvergiftiging of ander toestande met diarree en braking veroorsaak.

Die dermmikrobioom is belangrik vir voeding, immuniteit, effekte op die brein en gedrag asook verskillende siektes. Dit is al bewys dat versteuring van die dermflora verband hou met ‘n hele klomp siektes: asma, outisme, kanker, seliaksiekte, dikdermontsteking, diabetes, ekseem, hartsiektes, wanvoeding,  veelvuldige sklerose en vetsug. Navorsing word steeds gedoen in verband met die invloed op energiebalans, breinontwikkeling en kognitiewe funksie.

Voeding

Dermflora help die mens om komplekse molekules in vleis en groente af te breek. Sonder hul hulp sou plantsellulose onverteerbaar gewees het. Hulle help ook om voedingstowwe en energie op te neem. In laboratoriummuise met verskillende bekende kombinasies dermflora teenwoordig, was daar voorspelbare verskille in hul hantering van ‘n hoë-vet dieet en of hulle gewigstoename en diabetes ontwikkel het. Ons sou dit ook na die mens toe kon ekstrapoleer. Gewigsverlies is ook beter in die teenwoordigheid van ‘n spesifieke bakterie. Die verskille in mense se hantering van suikers in hul dieet kan blykbaar toegeskryf word aan verskille in hul mikrobioom, en dit mag verklaar waarom dieselfde dieet verskillende effekte in verskillende mense het. Of die voedsel gaar of rou ingeneem word speel ook ‘n rol en dit lyk asof gaar voedsel in die algemeen minder verandering in die mikrobioom veroorsaak, byvoorbeeld rou patat het ‘n nadelige invloed op die mikrobioom.

Gedrag

Die derm word ‘n tweede brein genoem. Hoekom? Dermbakterieë beïnvloed die brein deur afskeiding van hormone en neuro-oordagstowwe, toksiene en molekules wat ook immuniteit beïnvloed. Omgekeerd het die brein egter ook ‘n invloed op dermbakterieë, byvoorbeeld in stres. Streshormone kan hul groei beïnvloed en die voering van die spysverteringskanaal in só ‘n mate beskadig dat bakterieë en toksiene in die bloedstroom beland. Dit lei dan tot inflammasie wat ook met psigiatriese toestande geassosieer word. Hoë inflammasiemerkers in die bloed, ná emosionele trauma, kan voorspel wie post-traumatiese stressimptome (PTSD) gaan ontwikkel. Trauma in die kinderjare is gevind om te lei tot vermindering van 2 spesifieke dermbakterieë wat bekend is om belangrik te wees in immuniteit.

Die model is dus as volg:- Emosionele trauma → streshormone → verandering in dermflora → immuun-disregulasie met inflammasie → simptome van PTSD.

Navorsing vind ook ‘n verband tussen die dermflora en ander psigologiese toestande soos depressie en outismespektrum-toestande. Sosiale stres lei ook tot laer diversiteit in dermflora van hamsters.

Immuniteit

Die individu se eie mikrobioom word gebou vanaf geboorte wanneer die  baba deur die moeder se geboortekanaal beweeg. Hierdie vroeë blootstelling is belangrik vir immuniteitsaanpassing en vinnige en effektiewe respons op siekteveroorsakende organismes. Babas wat met keisersnit gebore word het daarom dadelik ‘n moontlike agterstand. ‘n Versteuring in die normale vroeë blootstelling aan mikrobes hou ook moontlik verband met outo-immuun siektes en allergieë.

Siektetoestande

Sommige dermbakterieë skei anti-inflammatoriese stowwe af wat ‘n onderdrukkende effek op inflammatoriese toestande soos artritis, asma, ekseem en allergieë het. Prikkelbare derm-sindroom (spastiese kolon), oorgewig en tipe 2 diabetes word verbind met ‘n lae diversiteit in dermflora. Afwykings word ook gevind met metaboliese sindroom wat ‘n risikofaktor vir tipe 2 diabetes is. Toevoeging van prebiotika, probiotika en ander aanvullings verminder die risiko vir al bogenoemde. Gebruik van antibiotika, wat die individu se eie mikrobioom verander, kan dus lei tot siektes en weerstandige organismes. Dit is redes waarom antibiotika met groot omsigtigheid gebruik moet word! Die onderdrukking van die normale mikrobioom kan verder die oorgroei van eksterne siekteveroorsakende organismes veroorsaak.

Ander Interessante Navorsingsresultate:

In 2018 was daar wêreldwyd 2400 kliniese proewe gedoen oor terapieë wat op mikrobioomwetenskap gebaseer was. Hier volg enkele gedagtes daaroor.

  • Dit lyk asof die hormoon, progesteroon, tydens swangerskap die ma se dermmikrobioom verbeter en voorberei vir die baba. Hierdie effek kan ook veroorsaak dat vroue wat aan prikkelbare dermsindroom (PDS) ly, tydens swangerskap verbetering van hul simptome ondervind, aangesien dermflora geoptimiseer word. PDS is dikwels geassosieer met angstige gedrag. Elf persent van mense, meestal vroue, is gediagnoseer met hierdie toestand en dit kan ‘n negatiewe effek op hul produktiwiteit en welsyn hê. Die oorsaak hiervan is onbekend en daar is geen diagnostiese bloedtoetse beskikbaar nie. Dus word die diagnose op simptome gemaak wanneer ander oorsake uitgeskakel is, en net die simptome word behandel. Muise wat stoelgangoorplantings van mense met PDS en angstigheid gekry het, het daarna soortgelyke simptome as die skenkers ontwikkel. Dit dui op die invloed van die mikrobioom lokaal op die derm, asook op die brein en gedrag, maar ook op die moontlikheid van die behandeling van PDS met behulp van mikro-organismes.
  • Beide die dermkanaal en die bloedbrein-skans word meer deurlaatbaar met ouderdom en dit is ‘n moontlike verklaring waarom sekere skadelike stowwe dan meer in die brein opeindig, soos amiloïed by Alzheimerstipe demensie. Dermflora by Alzheimerpasiënte verskil ook baie van dié van kontroles van dieselfde ouderdom. In een navorsingsprojek is vier spesifieke probiotika naamlik 3 lactobacillusspesies en 1 bifidobacterium, vir 12 weke vir mense met Alzheimers gegee. Dit het ‘n meetbare positiewe invloed op Alzheimerspasiënte se kognitiewe funksie gehad, asook ‘n verlaging in inflammatoriese merkers,  slegte cholesterol en insulienweerstandigheid.
  • Chroniese moegheidsindroom het geen biomerker nie en die bestaan van so ‘n diagnose word bevraagteken deur sommiges, of selfs gesê dat dit ‘n suiwer psigosomatiese toestand is. ‘n Studie het wel gevind dat hierdie mense ’n veranderde mikrobioom het. Weereens was daar verminderde diversiteit en minder anti-inflammatoriese en meer pro-inflammatoriese bakterieë. Dieselfde tipe veranderinge word gevind by mense met Crohn se siekte en ulceratiewe colitis.
  • Nuwe navorsing toon dat muise met verminderde dermmikrobe veranderinge in die immuunselle in die brein vertoon, wat dan die vorming van nuwe verbindings tussen die senuwees negatief beïnvloed. Hierdie muise se leervermoë is dan ingekort en hulle toon chemiese veranderinge in die brein wat ooreenstem met verskillende neuropsigiatriese toestande in die mens, soos schizofrenie.
  • Daar is ook gevind dat ultravioletB (UVB) -blootstelling, wat voldoende was om vitamien D tekorte by andersins gesonde mense te normaliseer, ook hul dermmikrobes aangevul en gestabiliseer het. Dit laat die vraag ontstaan of UVB-blootstelling as behandeling gebruik kan word in inflammatoriese toestande waar die dermflora verminder is.
  • Aan die negatiewe kant is gevind dat vele medikasies wat algemeen gebruik word ‘n merkbare invloed op die dermmikrobioom het. ‘n Groep van maagulcusmedikasies, antibiotika, ‘n spesifieke anti-diabetiese medikasie, lakseermiddels, sekere anti-depressante en mondelinge kortisoon was onder die grootste sondebokke. Let wel, as medikasie vir ‘n toestand gemotiveerd is, moet dit gebruik word, maar wees net bewus van moontlike gevolge en bespreek dit met jou geneesheer.

Uit al die voorafgaande kan ons aflei dat die instandhouding en normalisering van ons mikrobioom ‘n rol kan speel in voorkomende medisyne.

Hoe vul ek my dermmikrobioom aan?

Die lewende organismes kan as probiotika ingeneem word in die vorm van aanvullings, met die spesifieke organismes gelys op die houer. Die bekendstes is verskillende Lactobacillus-spesies, Bifidobacterium en Saccharomyces boulardii, ‘n tipe gis.

Probiotiese voedsel kan bewustelik ingesluit word in die dieet met behulp van joghurt, verouderde kase, tradisionele karringmelk, kefir, suurkool en kombucha. Let wel dat die houer moet aandui dat daar lewende organismes teenwoordig is, want sommige van die voorbereidingsprosesse vernietig die organismes. As ‘n item op die rak en nie in ‘n yskas is nie, is daar waarskynlik nie meer lewendige organismes teenwoordig nie, want dan is dit gepreserveer vir ‘n lang raklewe. Onthou ook dat alle gefermenteerde kos nie probiotika bevat nie byvoorbeeld bier, suurdeegbrood en wyn.

Indien mens begin om probiotiese voedsel in te neem, moet mens verkieslik stadig begin met een item op ‘n slag en versprei oor ‘n tydperk anders kan dit lei tot buikopsetting en naarheid. Swanger vroue, mense met immuniteitprobleme en chroniese siektes moet dit in konsultasie met hul geneesheer of ‘n voedingkundige doen.

Navorsers het gevind dat die sogenaamde Meditereense dieet goeie ondersteuning bied aan ‘n gesonde mikrobioom. Dit is plantgebaseerd, met meer neute, groente, peulgewasse en vrugte en matige hoeveelhede vis, maer vleis, hoender, suiwel en rooi wyn. Rooi vleis, geprosesseerde vleis en suikers word beperk. Hoe meer variasie in die dieet,  hoe meer kans is daar op variasie in die dermflora.

Samevatting:

Nuwe gesofistikeerde tegnologieë stel die mens in staat om hierdie grootliks onbekende maar uiters belangrike veld verder te ontgin en ons sal sien wat nog in die toekoms bekend word. Daar word reeds gekyk na geïndividualiseerde diëte wat volgens ‘n mens se eie mikrobioom saamgestel word vir behandeling sowel as voorkoming van verskillende siektetoestande.

Erkennings:

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote