Deel die artikel met jou vriende:

‘n Beknopte opsomming van die eerste deel van ‘n onderhoud met Prof. Matt Walker, professor in Neuro-wetenskap en Sielkunde aan die Universiteit van Kalifornië   

Navorsers beveel aan dat ‘n volwassene 7-8 ure per nag slaap en dat 6 ure of minder ‘n agterstand veroorsaak. Hoekom?

Ons gaan die terme NREM en REM vir die verskillende fases van slaap gebruik. Kortliks staan REM vir rapid eye movement en NREM vir non-rapid eye movement. REM-slaap word altyd eers voorafgegaan deur NREM-slaap en dit wissel mekaar af gedurende die slaapsiklus. NREM-slaap is ook in verskillende stadia ingedeel volgens die diepte van slaap. ‘n Baba van 6 maande slaap omtrent 14 ure uit 24 uur waarvan die verhouding van NREM tot REM 50/50 is. Teen 5 jaar ouderdom het hierdie verhouding aangepas na 70/30 soos slaappatrone verander tydens ontwikkeling.

Slaap en die leerproses

Ons dink hier nie net aan studeer nie maar ENIGE inligting waarmee ons elke dag te doen kry, reeds tydens babadae. Slaap help met aanleer van nuwe inligting op 3 maniere:

  • Eerstens word die brein gereed gekry om nuwe inligting te absorbeer. Ná ‘n volwasse persoon geslaap het, is hierdie vermoë vir maksimum 16 ure effektief. Nuwe inligting word gestoor in die deel van die brein wat die hippokampus genoem word – die “inbox” – wat beperkte storingskapasiteit het.
  • Tweedens, hierná word hierdie inligting tydens NREM-slaap verplaas na die korteks of sg. grysstof van die brein, wat onbeperkte kapasiteit het. Dit behels dan die leegmaak van die “inbox” sodat daar weer plek is vir nuwe inligting! Hierdie proses vind nie plaas met deurnagstudie nie en die inligting bly dus net in die korttermyngeheue vir beperkte tyd en is nie stewig vasgelê

Beide bg prosesse kan as elektriese aktiwiteit waargeneem word en laasgenoemde is die een wat met veroudering verswak. Indien jongmense aan slaapontneming of -deprivasie blootgestel word, kan die afname in elektriese aktiwiteit, net soos by veroudering, sigbaar gedemonstreer word. Daar is ook gevind dat die ‘herspeel’ van aangeleerde inligting gedurende slaap plaasvind teen ‘n spoed 10 – 20 keer vinniger as wat dit oorspronklik ingeneem is. Hierdie herhaling dien as stewiger vaslegging van sowel feite asook nuutaangeleerde bewegings bv in sport, of by babas wat leer loop op ongeveer 12 maande. Dit lei tot verbeterde spoed, akkuraatheid en outomatisiteit van die bewegings. Hierdie proses vind hoofsaaklik plaas tydens stadium 2 NREM-slaap en is blykbaar maksimaal sigbaar tydens die laaste 2 ure van ‘n 8 ure slaapsiklus. Die maksimale vaslegging gaan dus verlore as mens net 6 ure of minder slaap.

Die vaslegging tydens diep NREM-slaap kan nog verder versterk word indien die oorspronlike inligting wat gegee is met klanke binne konteks geassosieer word, bv. die prentjie van ‘n kat saam met katgeluide. Indien hierdie geluide dan tydens diep NREM-slaap gespeel word teen ‘n volume wat nie die wakkerword-drempel oorskry nie, vind daar verdere heraktivering van die herinnering plaas. Dit kan selfs ook met reuke gebeur.

  • Die derde manier waarop slaap ‘n rol speel in ons leerproses vind plaas tydens REM-slaap, dus wanneer die EEG lyk of ons wakker is, maar die liggaam is slap, met lae spiertonus. Hierdie fase is krities vir die ontwikkeling van taal, nie net ten opsigte van feite nie, maar ook vir die vermoë om die kennis te integreer en assosieer, om grammatika-reëls te kan toepas. Dit gebeur tot in die volwasse lewe en die konsolidasie van bestaande kennis wat plaasvind inspireer ook kreatiwiteit. In hierdie slaapfase word nuutgestoorde en bestaande inligting geïntegreer dmv skynbaar bizarre soekassosiasies, in teenstelling met die opsigtelike en logiese assosiasies tydens die wakker toestand. Só kan kreatiewe insig tot stand kom, bv. op die gebied van die kunste soos musiek, maar ook in die wetenskap, bv. die konsep van die periodieke tabel wat so geïnspireer is.

Slaap en fisiese en geestesgesondheid

Drome: REM-slaap is ook die fase waarin ons droom en dan word ‘n virtuele realiteit geskep vir die verwerking van pynlike herinneringe. Tydens hierdie slaapfase vind neurochemiese veranderinge in die brein plaas met een van die breinoordragstowwe (asetielcholien) wat 4 maal verhoog en skynbaar ‘n positiewe invloed op die emosionele geheue het. Die slaapsiklus moet dus voldoende tyd bied vir REM-slaap ná NREM-slaapstadia.

Eensaamheid: Verlies aan slaap (slaapdeprivasie) kan eensaamheid (‘n sosiale skeiding- en onttrekkingsiklus) inisieer, wat met onbewuste liggaamshouding en verandering in stemtoonhoogte deur ander persone waargeneem kan word. Dit verminder dan ook die gemeenskap se pogings tot sosiale toenadering. ‘n Moontlike meganisme kan wees dat die emosionele brein (amigdala) 60% meer aktief raak met slaapdeprivasie, terwyl die deel van die brein (pre-frontaal) wat hierdie emosionele inset moet inhibeer of temper, heeltemal afgesluit raak. Dit het tot gevolg dat die persoon se persoonlike ruimte vergroot en ‘n afname in begrip van ander persone se intensies plaasvind. ‘n Asosiale profiel ontwikkel selfs met klein variasies in slaap. Kontakpersone ervaar dan ook self ‘n sensasie van alleenheid agterna, amper soos ‘n virus wat oorgedra is. Eensaamheid word erken as ‘n gesondheidsprobleem met 45% verhoogde mortaliteit. Dit word geassosieer met verskillende toestande: depressie, alkoholisme, hart- en bloedvatsiektes, veranderinge in immunologie en Alzheimers. Fisiese en geestesgesondheid is dus hier ter sprake. Daar is ook geen psigiatriese toestand waar die slaappatroon normaal is nie.

Depressie en angstigheid: Die neiging om te tob en te kommer en die ergste te verwag kan moontlik die oorspronklike oorsaak van verlies aan slaap wees, maar slaapverlies kan ook lei tot verdere angstigheid en vreesagtige optrede, soos gedemonstreer in diere. Dit gaan dan gepaard met verhoging van kortisolvlakke wat kan lei tot verandering in insulien- en glukoseregulering. (Metaboliese sindroom, vetsug en diabetes)

Kortisol (streshormoon) en Slaapversteuring: Slaapversteuring kan behels probleme met aan die slaap raak (inslaap) en/of volhou van slaap. Hierdie persone kan ‘n hiperaktiewe veg/vlugreaksie hê agv die simpatiese senuweestelsel wat kortisol en adrenalien afskeiding verhoog. Stres kan hier ‘n rol speel maar daar is ook ander faktore wat ‘n rol mag speel. Kortisolvlakke het normaalweg ‘n siklus van vroegoggendstyging wat begin voor ons wakker word en dan ‘n paar ure later begin daal tot dit baie laag is in die nag met diep slaap. Dan verminder die hartspoed en die bloedvate ontspan.(Dink bloeddrukverlaging) By mense met inslaapprobleme of wakkerword in die middelnag, is daar weer ‘n piek in die aand of laatnag. Die feit dat ons nie meer die normale dag-nag sonligblootstellingspatroon volg nie kan hiertoe bydra. Die ideaal is helderlig-blootstelling op die retina (nie deur ‘n sonbril), in die oggend tydens die stygende fase van kortisol. In die middag kan mens wel ‘n donkerbril dra wanneer die kortisol moet daal en melatonienafskeiding verkieslik gestimuleer moet word. Melatonien word normaalweg deur die brein afgeskei wanneer die ligintensiteit begin afneem om ons voor te berei om te gaan slaap. Die moderne mens het egter ‘n afgeplatte helderlig-blootstelling omdat ons in die dag baie binnenshuis is en in die aand wanneer dit donker behoort te wees elektriese lig, veral TV en rekenaarskerms, in die oë het. In veldomstandighede tydens ‘n eksperiment het jong mense se slaapure geleidelik aangepas van minder as 7 ure tot 9 ure. Ons behoort outomaties slaperig te raak wanneer die son ondergaan.

Alzheimers: Daar is gevind dat slaapprobleme en slaapapnee (episodes van asemhalingstaking wat inmeng tydens slaap) prominent is in Alzheimers en ook ander matige tipes demensie. Indien die slaapprobleem aangespreek word, kan dit die aanvang van funksionele inkorting vertraag en selfs funksies verbeter. Die brein se eie unieke opruimingstelsel van toksiene soos amiloïed (wat ‘n sondebok by Alzheimers is), is aktief tydens slaap, veral NREM-slaap. Indien NREM-slaap te min of onderbroke is, is die opruiming nie effektief nie en word produksie van amiloïed verhoog soos in die wakker staat.

Die boodskap wat ons probeer oordra is: Daar is ongekende krag en voordele in die handhawing van ‘n gesonde slaappatroon. Korter slaapure en onderbroke slaap kan chaos veroorsaak in ‘n persoon se lewe op die fisiese, geestesgesondheids- en sosiale vlakke. ‘n Algemene reël volgens kenners is: Korter slaap, korter lewe.

 

5.00 avg. rating (96% score) - 3 votes