Deel die artikel met jou vriende:

Geelhoutbome

Dekades gelede het ek die Nasionale Boswet bestudeer en as ‘n kweker van inheemse bome tot die gevolgtrekking gekom dat privaat aanplanting van bome vir houtproduksie nie maklik en moontlik is nie. Die belangrikste ekonomiese spesies word wetlik streng beskerm weens vroeëre onoordeelkundige  oorbenutting,  byvoorbeeld Geelhout en Stinkhout.  Die wetgewing is nog van toepassing, en ek stel nie onwettige aktiwiteite voor nie,  maar soos tyd aanstap en die omgewing verander kom daar nuwe insigte. Tot redelik onlangs was dit volgens Johannesburgse bywette, onwettig om reënwater in tenks te stoor. Vandag word huiseienaars aangemoedig om water in tenks op te gaar. Gegewe hierdie wetlike verslapping, is dit nie dalk moontlik om ‘n houtverskaffer te word nie? Ek begin tog so dink, maar werklik min mense oorweeg die opsie.

Die mees algemene gebruik van inheemse hout is brandhout. Ons brand alles. Dit is nie vandag moontlik om op ‘n kareehoutstoel te sit nie, laat staan nog, op ‘n boekenhoutriempiesbank, want ons houtsoorte is eenvoudig nie reguit genoeg nie, nie groot genoeg nie en mees belangrikste, nie beskikbaar genoeg nie.

As ‘n grondeienaar kan jy dit oorweeg om hout te produseer. Min inligting is beskikbaar oor inheemse plantasies, aanplantdigthede of die klonale seleksie van aanplantingsmateriaal. Nou en dan word hout in klein hoeveelhede (>5m3) te koop aangebied deur middel van die internet. In die meeste gevalle het ek met navraag uitgevind dat die nodige wetlike aspekte gevolg is, wat op goeie besigheidspraktyk dui asook ‘n vermoë om ‘n geleentheid raak te sien. Die enigste uitsondering  was ‘n dame wat Kameeldoringhout verkoop het (ja, natuurlik vir brandhout) sonder kennis van die toepaslike wetgewing. My goedbedoelde advies hieroor was afgeskiet. Onkunde is natuurlik nooit ‘n verskoning in die hof nie.

Met die verskyning van die boek deur Briza uitgewers: Suider-Afrikaanse Hout (Dyer et al, 2016) is dit ooglopend dat die meeste persone wat met inheemse houtsoorte werk, die draaiers is van penne en pepermeulens. Hierdie besondere, wonderlike groep mense het nog kennis van ons houtsoorte, alhoewel die hout waarmee hul werk klein en min is.

Windskerm van Geelhoutbome

Die aanplant van lanings, windskerms en heinings op die plase van vroeër is vandag vervang deur die verwydering van bome. Die hoofrede is dat hierdie aangeplante bome gewoonlik uitheems was, en/of as verklaarde indringer plante geklassifiseer is. Windskerms en lanings het egter voordele. Die koste om grond op te offer vir die aanplant van lanings en windskerms word vergoed met ‘n verhoging in produktiwiteit van grond soos verduidelik deur die begrippe “agro-bosbou” en tot ‘n mindere mate “stedelike bosbou”. ‘n Verdere voordeel van die vestiging van lanings en windskerms is dan ook dat sulke aanplantings vir houtproduksie gebruik kan word.

Die verbouing van hout is nie eenvoudig nie, en kan nie aangepak word sonder om die nodige navorsing en opleeswerk te doen nie. ‘n Goeie dosis van blindelingse optimisme en ‘n baie, baie langtermyn visie is ook nodig. Daar is egter drie belangrike sake wat ingedagte gehou moet word as jy besluit om self hout te verbou:

Gevolge van snoeiverwaarlosing

Eerstens, vanuit ‘n houtverbouingsoogpunt is die mees opvallende probleem dat snoeiwerk nagelaat is. Ons plant met liefde geelhoutbome omdat hulle met ‘n gematigde tempo groei. Snoei van die bome in ‘n enkelstamgroeiwyse word egter verwaarloos. In woude sorg kompetisie vir die “korrekte” groei vorm, die soeke na sonskyn en lig. Die grootste geelhout wat ek tot dusvêr gemeet het is 2 200 mm in omtrek op heuphoogte, maar vertak dan ongelukkig in sewe vertikale stamme. Nie een van die vertakkings het egter ‘n deursnit van groter as 300 mm nie. Die beste geelhoutbome wat ek al teëgekom het, is ‘n aanplanting van 7 bome, redelik naby aan mekaar, met pragtige enkel stamme van 400 mm in deursnee. Hier word hout gegroei vir die toekoms. Die hoogste digtheid van geelhoutbome (4 bome per vierkante meter, glo dit of nie) wat ek self aangeplant het, 12 jaar gelede om ‘n heining te groei het sonder enige snoeiwerk gegroei tot 7 meter hoë bome, sommige met n deursnee van tot 120 mm.

Tweedens is die klonale produksie van inheemse bome nog in “saailing skoene”. Kommersiële plantasies van denne en ander spesies is almal homogeen. Daarom vertoon die plantasie netjies en is die bome almal ewe groot. Daarteenoor lei die aanplanting van saadgegroeide bome tot ‘n geweldige variasie in  groeitempo, vorm en andere faktore.

Geelhoutsaad

In die derde plek moet die spesie wat aangeplant gaan word oordeelkundig oorweeg word. Klimaat is die oorwegende aspek. Sekere spesies, byvoorbeeld die Wildesering en Stinkhout is onder huidige omstandighede haas onmoontlik om op groot skaal te te kweek. Daarenteen is wydverspreide spesies soos byvoorbeeld Olienhout, Karee, Rooistinkhout, Without, Anaboom, Boekenhout, Witstinkhout, Huilboerboon en  Geelhout meer aanpasbaar en beskikbaar.

Intussen is my 2017/8 projek om vroulike (dink in terme van saad) geelhoutbome in die Pretoria-omgewing te dokumenteer op Google Maps.

As jy dus nie ‘n bosbouer wil of kan word nie, hoekom word jy nie ‘n houtboer nie? Die plesier om bome te sien groot word, die gesprekke met bure oor hul aanplantings se ouderdom, spesie, waar gekoop of self gegroei, is wat die lewe interessant maak. Die feit dat weinig aandag geskenk word aan die verbouing van inheemse hout dui vir my op ‘n goue geleentheid, nie net vir jouself nie, maar dalk ook vir jou eie nageslag.

Ate Berga (083 459 5115)

 

 

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes