Deel die artikel met jou vriende:

 

Soos die meeste Suid-Afrikaners geniet my huisgesin ook ‘n bietjie stywe mieliepap en sous saam met braaivleis. Moet seker die Transvaalse kultuur wees, want klaarblyklik verskil Transvalers van die “Kolonialers” – soos die ou mense gepraat het – wat klaarblyklik krummelpap of poetoe-pap met melk en suiker verkies het. ‘n Hele aantal jare gelede, in ‘n vorige bedeling, is droogtes en die gevolge van droogtes anders bestuur. Ek kan onthou dat gedurende droogtetye, tydens ‘n tekort aan witmielies, was mieliemeel ‘n mengsel van geelmielies en witmielies. Was daardie stywe pap darem maar vir ons lekker! Dit het anders gelyk en geruik as die gewone mieliemeel. Sedertdien kan ek nie onthou dat ons ooit weer ‘n geel-wit mieliemeel-mengsel gesien het nie.

So voor Kersfees koop ons toe weer ‘n pakkie mieliemeel. Groot was ons opgewondenheid toe ons die meel sien – ‘n geel-witmieliemengsel! Ons almal het uitgesien om weer stywepap, wat van hierdie mengsel gemaak is, te eet.

Maar, o weë! Toe die pap begin gaar word het ons ‘n baie duidelike ammoniakreuk waargeneem. As die pap omgeroer word tref ‘n ammoniak-walm jou. Ons het aan die pakkie meel geruik en kon duidelik die ammoniak ook daarin ruik.  Onmiddellik het my agterdogtige self vrae rondom die redes vir die reuk en die veiligheid van hierdie meel vir menslike gebruik begin vra. Hoekom het die meel ‘n ammoniak reuk? Is ammoniak veilig om in te neem en hoeveel ammoniak kan mens veilig inneem? Om hierdie vraag te beantwoord het ons gaan “Google-loer” waarom mielies met ammoniak behandel word. Só het ons op baie interessante inligting afgekom.

Wanneer plantaardige materiaal begin vergaan vorm muf of swamme op hierdie plantreste waarvan sommige soorte aflatoksiene afskei wat bekend is daarvoor dat dit uiters karsinogenies is – dit wil sê kankervormend.  Veral twee fungi is bekend daarvoor dat dit aflatoksiene vorm te wete Aspergillus flavus en  Aspergillus parasiticus. Die Aspergillus-groep van fungi is vir die eerste maal deur ‘n Italiaanse priester en bioloog, met die naam van Pier Antonio Micheli, in die 1700’s beskryf. Die naam Aspergillus is ontleen van ‘n heilige watersprinkelaar wat in die Rooms Katolieke Kerk gebruik is omdat dit die vorm van hierdie fungi, soos gesien onder ‘n mikroskoop, het.

Aflatoksiene kan geproduseer word indien fungusbesmetting op gewasse soos onder andere mielies, hawermout, sorghum en grondboontjies plaasgevind het – soms voor oestyd, maar meestal tydens foutiewe en onvoldoende bergingsmetodes. Dit neem die vorm aan van ‘n geel- tot olyfgroen swamgroei wat op sade plaasvind en soms die saad totaal oorgroei. Wanneer ideale warm en vogtige omstandighede heers of as daar meganiese of insekbeskadiging aan die sade is verhoog die moontlikheid vir aflatoksienbesmetting. Dit is dan ook een van die redes waarom ‘n maksimum perk op voginhoud vereis word alvorens mielies geoes kan word.

Aflatosienbesmetting van landbouprodukte kan finansieel rampspoedig vir boere wees omdat dit ernstige gesondheidsgevare vir mens en dier inhou. Selfs diereprodukte wat met besmette voer gevoer is hou gesondheidsgevare vir mense in. ‘n Amerikaanse bron het gestel dat indien mielies se aflatoksienbesmetting groter as ‘n sekere minimum sou wees, sulke mielies nie wettig tussen state vervoer mag word nie. Markte vir mielies wat met muf besmet is, of dit aflatoksien afgeskei het of nie, is beperk met ‘n gevolglike laer verkoopsprys. Wat staan so ‘n boer dan te doen?

‘n Eerste oplossing sou wees, indien die perk oorskry word, om daardie mielies met onbesmette mielies te verdun om dit so binne die wetlike perk te kry en dit dan vir veevoer aan te wend. Alternatiewelik kan daardie mielies met ammoniakgas of ‘n ammoniakvloeistof in ‘n lugdigte houer behandel word.  Ammoniak reageer en vernietig die aflatoksienmolekule. Wat insiggewend is, is dat die Amerikaanse FDA (Food and Drug Administration) ook nie toelaat dat ammoniak-behandelde graan wettig tussen state vervoer word nie.  Alhoewel nog geen probleme tydens voerproewe waargeneem kon word nie, bestaan daar egter nog steeds sekere vrae oor moontlike newe-effekte van ammoniakbehandeling.

So het ‘n prentjie vir ons begin vorm aanneem. Die mieliemeel wat ons aangekoop het is waarskynilk ‘n mengsel van plaaslike witmielies en moontlik ingevoerde geelmielies. Moontlik was die geelmielies met muf of dalk ook met aflatoksien besmet en toe met ammoniak behandel. Behalwe vir die feit dat hierdie mieliemeel onaptytlik ruik is daar vrae rondom die veiligheid van ammoniakbehandeling. Ons het met die hele pak mieliemeel weggedoen.

Wat het ons geleer uit die petalje? Ek dink twee dinge. Vertrou op jou sintuie om produkte te beoordeel en vra vrae. As daar iets is wat pla – ons het soveel inligting op die punte van ons vingers deur van soekenjins soos Google, Bing of DuckDuckGo gebruik te maak en jou eie “ingeligte” afleidings te probeer maak.

Erkennings:

5.00 avg. rating (93% score) - 1 vote