Deel die artikel met jou vriende:

 … maar weiding en water is skaars. Na verwagting sal dit so bly tot in Februarie.

“Boere moet saamstaan om ‘n mark te probeer kry vir alles wat geslag kan word – al is dit die informele mark – om te verseker dat daar genoeg voer en water vir hul vee en wild is.”

So waarsku Professor Cheryl McCrindle, praktiserende veearts.

Gewoonlik is Augustus die “doodmaakmaand”, maar dit lyk hierdie jaar asof Oktober tot November ook nou in doodmaakmaande ontwikkel het. Die term, “doodmaakmaand” het ontstaan as gevolg van te min weidingsgewasse, wat diere dwing om ander groenigheid te vreet.  Hierdie groenigheid is dan gewoonlik gifplante. Gifplante, met hulle dieper wortelstelsels, oorleef makliker gedurende ‘n droë tydperk. Waar ander weidingsgewasse as gevolg van die voortslepende droogte krepeer, is daar sommige gifplante wat tydens hierdie toestande selfs kan floreer!

Gifblaar is in die afgelope maand een van die  mees algemene groen blare in die vaal weidingsveld.  Na die afgelope paar reënbuie begin Cotyledon (vetplante) en tulp op plekke groei waar klein reënpoele in die veld gevorm het.  Duwweltjies begin ook kop uitsteek.

Kleinvee, grootvee en wild kan maklik vergiftig word tensy daar ‘n goeie bron van ruvoer verskaf word.  Die gebrek aan groen weidingsgewasse dwing die vee om die groener gifplante te vreet omdat daar nie alternatiewe weiding beskikbaar is nie.

Dit is daarom baie belangrik dat ‘n streng droogtebestuursprogram gevolg sal word.  Professor McCrindle meen dat dit nou beter is om soveel as moontlik manlike diere te slag óf te verkoop – selfs al is dit teen ‘n verlies. Dragtige diere moet behou en versorg word totdat die lammers of kalwers gedurende Januarie en Februarie aankom.  Dit is heel waarskynlik die vroegste wanneer daar weer goeie veldweiding en tef- of oulandsgrasbale beskikbaar sal wees. Prof McCrindle stel verder voor dat boere nóú reeds hulle voerprogram vir 2020 uitwerk, want die droogte is besig om oor ‘n al hoe wyer gebied in Suid-Afrika voor te kom.

‘n Verdere probleem is water. Die ondergrondse water word nie gou genoeg aangevul nie en daar is reeds ‘n stremming op watertoevoer in groot gedeeltes in Suid-Afrika.  Op die Hoëveld is daar reeds boere wat ‘n waterlose toekoms in die gesig staar met boorgate wat onvoldoende hoeveelhede water lewer.  Verder stel Professor McCrindle voor dat boere presies moet uitwerk hoeveel water hulle vee sal benodig en dat hulle sal seker maak dat hulle genoeg water vir hulle vee opgaar – vir ten minste tot die einde van 2019.

Haar boodskap is: Verkoop nóú jou vee, tensy jy genoeg voer en water het om hulle vir die Kersfeesmark vet te maak. Prof McCrindle onderskryf die belangrikheid van boere wat mekaar moet bystaan en informele markte vir vleis skep met die hulp van geregistreerde slagpale en slaghuise.

Soos Professor McCrindle sê:  “Hierdie warm weer maak dit braaityd en ek is seker daarvan dat, wanneer bekostigbare vleis aan die informele markte verkoop word, dit vir die boere moontlik sal wees om in hierdie droogtetydperk te kan oorleef.”

Onthou egter altyd om u veearts en/of voermaatskappy se tegniese adviseur te raadpleeg wanneer u aanpassings op u voerprogram wil maak.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes