Deel die artikel met jou vriende:

Behalwe vir heuningbye is daar nog duisende ander soorte bye. Trouens, wêreldwyd is reeds meer as 16 000 byespesies opgeteken, terwyl daar miskien nog soveel wag om beskrywe te word. Die waardevolste van almal bly egter maar die heuningby. Dit bly steeds ‘n ope vraag wat ons sonder hom – of liewer, haar sou gedoen het, want die ywerige werkers in elke heuningbynes is almal steriele wyfies.

Kan jy jou ’n wêreld voorstel sonder blomme, bome of vrugte? Bye het ‘n reuse invloed op die lewensiklus deur blomme te bestuif. Bestuifde blomme maak sade, waarvan baie ’n vlesige omhulsel bevat wat ons ’n vrug noem. Sê dus baie dankie vir die by!

Hier in Suid-Afrika is ook ander interessante byesoorte wat klein, primitiewe kolonies vorm, soos die angellose klein mokka- en mopaniebye. Nog ander is volslae alleenlopers. Een voorbeeld is die houtkapperbye, wat hul neste in stompe en pale maak. Hulle kan met ’n snelheid van nagenoeg 25 km/h vlieg. Ons heuningbytjie is die Scutellata wat die mees  hardwerkende soort is en daarom is hulle ook dié gekose heuningby. Die Capensis is die Kaapse heuningby en is minder aktief as die Scutellata.

Daar is twee hoofredes waarom die by vir die mens nuttig is. Hulle bestuif plante en maak heuning. Boere maak gebruik van byeboere om byekaste by hulle gewasse te plaas, sodat hierdie gewasse bestuif kan word om só ‘n groter bestuiwingspersentasie te verseker. Die byeboer kry dan ‘n vloei (bron van nektar) wat die heuningproduksie verhoog.

Verskillende plante gee verskillende geure en kleure asook smake aan die heuning. Alwynheuning het ‘n ligte wit kleur en het ‘n lieflike geur en smaak. Lemoenheuning het weer ‘n ligte kleur maar het ‘n lemoengeur en -smaak. Die Bloekom het ‘n stroperige kleur en Blinkblaar-wag-’n-bietjie ‘n molasse kleur.

Rou heuning kom voor in die byekorf of word verkry deur onttrekking, afsakking of uitpersing sonder dat hitte bygevoeg word. Rou heuning bevat stuifmeel en klein stukkies byewas. Dit gebeur egter wel dat heuning wat “minimaal verwerk” is, dikwels as rou heuning verkoop word. Dit is belangrik om te weet dat alle heuning nie rou heuning is nie, maar soms is die heuning wat jy kan koop gepasteuriseerd of bestraal. Bestraalde heuning bevat gewoonlik die woorde “Irradiated” of “Radurised” op die etiket. Rou heuning bevat die meeste gesondheidsvoordele, maar daar bestaan ook die risiko dat dit die bakterie Clostridium botulinum, wat Botulisme veroorsaak, kan bevat. Pasteurisering en bestraling vernietig wel die bakterie, maar dit vernietig ook in die proses die voedingswaarde van die heuning, verminder die ensiem-aktiwiteit en verander die kleur, geur en smaak van die heuning.

Behalwe dat heuning lekker smaak, bied dit ook medisinale gebruike soos in die behandeling van wonde en brandwonde. Heuning bevat klein hoeveelhede verbindings soos waterstofperoksied en metielglioksaal, wat volgens voorlopige studies oor wondgenesingseienskappe beskik. Voortgesette navorsing word gedoen oor die medisinale gebruike van heuning, veral in die lig van anti-mikrobiese weerstandigheid teen moderne antibiotika.

Propolis, wat baie vitamiene en minerale bevat, word ook vir wye spektrum van siektes aangewend. Wat is propolis?  Byebrood, ook bekend as ‘bee putty’ of ‘bee glue’, is ‘n taai, groenerig-bruinkleurige stof wat bye maak van boomgom of hars wat hulle van blaarbotsels en boomsap versamel. Bye maak byebrood deur die versamelde harse te meng met byewas, heuning en spysverteringsensieme uit hul mae. Die byebrood word dan omgesit in ‘n vloeistof wat dan toegedien kan word vir verskeie kwale. Let daarop dat die produksie van propolis goed is maar die heuningproduksie dan afneem omdat die bye die byebrood moet bly aanvul.

Byebrood is die derde mees belangrike komponent van byeprodukte en bestaan uit hars (50%), was (30%), essensiële olies (10%), stuifmeel (5%) en ander organiese samestellings (5%). Dit bevat ook belangrike vitamiene soos vitamiene B1, B2, B6, C en E sowel as minerale soos magnesium (Mg), kalsium (Ca), kalium (K), natrium (Na), koper (Cu), sink (ZN), mangaan (Mn) en yster (Fe).

Meer as 300 samestellings is geïdentifiseer in byebrood, waarvan die meerderheid voorkom in die vorm van poliphenole of antioksidante. Antioksidante help om siektes te beveg en beskerm die liggam teen infeksie.

So word ons getroos met die wete dat ‘n wonderlike geskape diertjie ons die vermoë gee om gesond te kan lewe.

Om meer van bye te leer en hoe om met hulle te boer, woon die Inleiding tot Byeboer kursus op 21 September by.

2.67 avg. rating (61% score) - 3 votes