Deel die artikel met jou vriende:

Die see – net soos die lewe – is ’n gestrenge leermeester. Die beste manier om met elkeen oor die weg te kom, is om alles te leer wat jy kan, dan jou beste te doen en … om jou nie te bekommer nie – veral nie oor dinge waaroor jy geen beheer het nie.

Vlootadmiraal Chester W Nimitz

Hierdie leuse was die lewensfilosofie van Vlootadmiraal Chester W. Nimitz (24 Februarie 1885 – 20 Februarie 1966), een van die mees invloedryke bevelvoerders in die Amerikaanse vloot. Dit was die wysheid komende van sy Duits-gebore oupa aan vaderskant, ‘n voormalige matroos in die Duitse Handelsvloot, wat ‘n groot invloed op die jong Chester Nimitz gehad het. Maar wie was Chester Nimitz en wat het hy gedoen? Dit kan ons lees in ‘n opsommende biografie oor hierdie besondere man. In hierdie artikel word egter meer gefokus op seker sy mees roemryke seeslag, die Slag van Midway, en die wyse waarop sy lewensfilosofie, in uiterste onsekerheid, aan hierdie oorwinning beslag gegee het.

‘n Ruk gelede het ek na ‘n televisiereeks gekyk wat handel oor die Tweede Wêreldoorlog, spesifiek die Slag van Midway. Midway-eiland is ‘n atol of ‘n koraalrifeiland in die noordelike Stille Oseaan. Na die Japannese verrassingsaanval op Pearl Harbor, is die VSA se Stille Oseaanvloot, vir alle praktiese doeleindes, buite werking gestel en is die VSA só in die Tweede Wêreldoorlog gedompel. Twintig vlootvaartuie, waaronder 8 slagskepe, asook 300 vliegtuie is die oggend van 7 Desember 1941 vernietig of kritiek beskadig toe 353 vliegtuie – torpedo- en bomwerpers asook vegvliegtuie van die Imperiale Japannese Vloot – die hawe in Hawaii aangeval het. Die Amerikaners was stomgeslaan en verbysterd oor hoe doeltreffend die aanval uitgevoer was. Die VSA was toe geensins ‘n militêre moondheid nie en het op daardie stadium slegs die 17de grootste weermag in die wêreld gehad.

North American B-25 Mitchell Bomwerper in vlug

Na die vernedering van Pearl Harbor is ‘n nuwe man in bevel van die Stille Oseaanvloot, of wat daarvan oor was, geplaas. Sy naam was Chester William Nimitz. Gevoelens het na die aanval geweldig hoog geloop en baie verwyte van nalatigheid is rondgeslinger. In hierdie milieu het Nimitz bevel oorgeneem. Op ‘n stil manier – ons is almal aan dieselfde kant en ons is ‘n span – het hy sy ondergeskiktes begin inspireer. Nimitz het ‘n bykans onmenslike taak gehad. Aan die een kant was Japan besig om grondgebied in die Ooste na willekeur in te palm. Aan die ander kant het Nimitz slegs 4 vliegdekskepe, die USS Lexington, USS Hornet, USS Enterprise en die USS Yorktown, gehad om die Japannese magte in bedwang te hou. Met sy beperkte hulpbronne moes hy sy militêre bates beskerm en seker maak dat hy slegs bates kon prysgee indien die vyand in die proses ‘n hoër prys betaal. Intussen het Nimitz se bevelvoerders, en ook President Roosevelt in Washington, maar weinig simpatie met sy penarie gehad. Die kieserspubliek wou so gou moontlik koerantopskrifte sien hoe Pearl Harbor gewreek is. Teen hierdie agtergrond is ‘n bomaanval op Tokio, die hoofstad van Japan, onder leiding van Kol. James Doolittle beplan. Hierdie sou ‘n eenrigting sending wees van ’n aantal North American B-25 Mitchell bomwerpers wat vanaf een van Nimitz se vliegdekskepe in Japannese seegebied sou opstyg. Na die bombardering sou die vliegtuie uitwyk na ‘n landingsplek in Sjina en sou dus nie weer na Amerika terugkeer nie. Nimitz was pynlik daarvan bewus dat hierdie ‘n simboliese aanval was, wat met groot risiko gepaard gegaan het! Alhoewel die opstyging van die bomwerpers suksesvol was, die aanval op Tokio volgens plan afgeloop het, en die vliegdekskip veilig teruggekeer het na Hawaii, het dit tóg die gevolg gehad dat die vernietiging van Nimitz se vliegdekskepe vir die Japannese vloot ‘n prioriteitsdoelwit geword het. Verder het van die bomme in Keiser Hirohito se paleisgronde geval en hieroor was die Japannese publiek woedend!

Admiraal Isoroku Yamamoto

Admiraal Isoroku Yamamoto, wat in beheer was van die vloot skepe wat Pearl Harbor aangeval het, het in hierdie aanval egter ‘n geleentheid gesien. Sedert die Pearl Harbor-aanval was Yamamoto daarvan oortuig dat ‘n opvolgaanval op die Amerikaanse Stille Oseaanvloot noodsaaklik was. Die Tokio-aanval het aan hom die nodige skietgoed gegee om die totale uitwissing van die Stille Oseaanvloot ten uitvoer te bring en skielik het hy die ondersteuning van die ganse Japannese weermag hierin gehad. Daarvoor het hy ‘n uiters vernuftige plan gehad deur die Stille Oseaanvloot uit hulle Pearl Harborbasis te lok en dan in ‘n beslissende seeslag te vernietig. Om Nimitz uit Pearl Harbor te lok is besluit om die klein Amerikaanse koraalrif-eiland, Midway – geleë in die noordelike Stille Oseaan, halfpad tussen die VSA en Japan – binne te val. Vir die VSA was Midway ‘n strategies-belangrike eiland wat as hervullingsbasis gebruik is en wat ook ‘n aanloopbaan gehad het. Yamamoto wou die aanval op Midway-eiland as lokaas gebruik om die Amerikaanse vloot nader te lok en dan met ‘n baie groter vloot, wat in die omgewing sou skuilhou, te verras en uit te wis. Daar moet onthou word dat moderne navigasie-, spioenasie-, verkennings-, radar- en waarnemingstoerusting nie bestaan het nie en dat ‘n vloot skepe in die wye Stille Oseaan dus min inligting oor ‘n vyandige vloot skepe gehad het.

Vise-admiraal Chūichi Nagumo

Voordat Yamamo egter sy plan ten uitvoer kon bring het ‘n onverwagse geleentheid hom voorgedoen. Onderwyl twee vliegdekskepe, die Lexington en die Yorktown, ondersteuning verleen het tydens ‘n aanval op Port Moresby, hoofstad van die eiland Papoea-Nieu-Guinee, het Yamamoto ‘n onverwagse aanval met torpedo- en bomwerpers op Nimitz se twee vliegdekskepe in die Koraalsee geloods. In die slag wat gevolg het is twee Japannese skepe beskadig terwyl die Lexington gesink is. Die Yorktown is ernstig beskadig met die gevolg dat die helfte van Nimitz se vliegdekskepe buite aksie gestel is, en dit nog voordat die Slag van Midway eers begin het! ‘n Selfversekerde Yamamoto het sy senior offisiere byeen geroep om deur die detail van ‘n uiters geheime plan vir die verrassingsaanval op Midway-eiland te werk. ‘n Ingewikkelde plan wat soos ‘n uurwerk presies gesinchroniseer moes word is in die grootste besonderhede uitgewerk en ingestudeer. As eerste stap sou Japannese vliegdekskepe ‘n lugaanval op die eiland uitvoer, gevolg deur ‘n grondaanval waartydens die eiland beset sou word. Die aanval sou die gevolg hê dat die Amerikaanse vloot die Midway-eiland vanuit Hawaii sou te hulp snel. ‘n Ent weg van die eiland sou Yamamoto ‘n reserwemag van slagskepe in gereedheid hou. Japannese beheer van die lugruim sou vanaf die eiland uitgeoefen word wat die Japannese vliegdekskepe in ‘n uitstekende magsposisie sou plaas om die aankomende Amerikaanse vloot voor te lê, aan te val en te vernietig. Die vliegdekskepe sou onder die bevel wees van Vise-admiraal Chūichi Nagumo. Volgens beplanning sou hy 3 tot 4 dae gehad het om Midway-eiland volledig onder Japannese beheer te bring voordat die Amerikaanse Stille Oseaanvloot sou arriveer en hy daarna op die eintlike missie kon fokus om Amerikaanse vliegdekskepe te vernietig. Nagumo was ‘n tipiese vlootoffisier wat presies volgens bestaande oorlogsvoeringsdoktrines opgetreë het. Volgens latere navorsers was hy ‘n man wat dinge volgens die boek gedoen het en het nie die vermoë gehad, of is toegelaat, om eie inisiatief aan die dag te lê nie.

Kaptein Joseph Rochefort

In Hawaii egter, was ‘n kriptografie-eenheid genaamd Hypo besig om gekodeerde geheime radioboodskappe van die Japannese weermag te ontsyfer. Die hoof van Hypo was die eksentrieke Kaptein Joseph Rochefort. Rochefort se persoonlikheid was van so aard dat hy deur konvensionele vlootoffisiere met agterdog bejeën is vanweë sy oneerbiedige optrede teenoor senior en mede-offisiere. Hy was Japannees magtig en het ‘n goeie kennis van die Japannese kultuur gehad omdat hy ‘n aantal jaar in Japan deurgebring het. Gedurende Meimaand van 1942 het die Hypo-eenheid bewus geword van boodskappe wat gehandel het oor die beplanning van ‘n operasie teen ‘n teiken met die kodenaam ‘AF’. Rochefort het onthou dat daar ‘n verwysing was na ‘AF’ in ‘n radioboodskap vanaf ‘n Japannese verkenningsvliegtuig in die omgewing van die Midway-eiland. Hy was oortuig daarvan dat ‘n aanval op die Midway-eiland binne ‘n week sou plaasvind. Hieroor het hy ‘n rapport aan sy meerdere offisiere in Washington gestuur. Hulle het egter hierdie verslag in die wind geslaan omdat volgens hulle, Rochefort sy teorie nie goed genoeg gemotiveer het nie. Admiraal Nimitz het egter hiervan te hore gekom en hulle het besluit om ‘n val vir die Japannese te stel. ‘n Ongekodeerde vals boodskap is vanaf Midway-eiland uitgestuur dat daar probleme met watervoorsiening op die eiland is. Baie gou is Japannese kommunikasie onderskep wat gesê het dat daar probleme met water op ‘AF’ is. Die Amerikaners het onmiddellik geweet – ‘n aanval word op Midway-eiland beplan. Admiraal Nimitz het dadelik begin om sy eie warm ontvangs vir die voornemende Japannese besoekers aan die eiland te beplan!

Word in deel 2 vervolg …

Erkennings: Hooffoto.