Laai Gebeuree
  • Hierdie gebeurtenis is al verby

Meet, monitor, maak oop-en-toe, sit aan-en-af en bou selfs jou eie robot

As jy nog altyd wou leer hoe om ‘n mikro-beheerder te gebruik vir elektroniese projekte dan is hierdie werkswinkel vir jou. Met hierdie mikrorekenaar kan enige persoon sy eie unieke projek aanpak en dit maklik regkry.

Hierdie oopbron elektronika-platform wat bestaan uit gebruikersvriendelike hardeware en sagteware stel jou in staat om ‘n wye omvang van interaktiewe projekte aan te pak. Deur hierdie kursus by te woon, word jy instaat gestel om deel te word van ‘n gemeenskap wat bekend staan as die makersbeweging.

Ons gaan vier projekte bou met ‘n mikro-kontroleerder. Een van die projekte behandel ondermeer hoe om wisselstroom en gelykstroom toerusting soos ligte te skakel met ‘n relê en ‘n lig sensor. In die ou dae van elektronika sou dit weke neem om te leer en te doen, nou kan ons dit aan u leer in ure. Die kursus is geskik vir enige persoon wat belang stel in elektronika en geen vorige ondervinding is nodig nie. Dit bied ook ‘n evalueringsgeleentheid vir hoërskoolkinders wat ‘n tegnologie loopbaan oorweeg.

Die werkswinkel fooi is R1 000 (R900 indien bespreek teen 25 November 2017) plus R400 vir die elektronika (ingesluit Arduino Uno, relêbord, broodbord en komponente soos ‘n lig afhanklike weerstand). Bring asseblief eie rekenaar of skootrekenaar saam.

Met die vakansie op hande bied dit ‘n gulde geleentheid om met die nuwe kennis uit die kursus bekom die vakansie om te speel met die ontwikkeling van jou eie outomatiserings.

Kaartjiebesprekings vir die kursus sluit op 6 Desember 2017.

Kursus Inhoud

Ons  verduidelik hoe ‘n mikro-beheerder werk, waaruit so ‘n mikro-beheerder bestaan en hoe om programme op ‘n mikro-beheerder te laai. Jy sal geleentheid kry om die programmerings-sagteware op jou skootrekenaar te laai en te gebruik.

Na die teoretiese agtergrond gegee is, begin ons met praktiese projekte in en leer hoe om ‘n mikro-beheerder aan te wend. Ons gaan onder andere fokus op outomatisering van water kleppe en temperatuur regulering. So kan jy byvoorbeeld jou eie hidroponiese of akwaponiese tuinbeheerstelsel implementeer.

Die volgende onderwerpe word op die kursus bespreek:

Die Sagteware: Installeer, verstaan en gebruik die Geïntegreerde Ontwikkelings Omgewing (IDE) sagteware. Vir groentjies mag dit skrikwekkend lyk, maar jy sal gou sien dat dit eintlik maklik is … as jy eers sien waaroor dit gaan. Die beste is egter dat hierdie sagteware gratis is met baie nuttige eienskappe wat aan jou breedvoerig verduidelik sal word.

Laai toepassingsprogramme vir die mikrobeheerder op: Arduino sal jou opdragte gehoorsaam. Ons sal jou wys hoe om rekenaarinstuksies op die mikrobeheerder te laai en hoe om algemene slaggate te vermy.

Skryf van toepassingssagteware: Een van die redes hoekom Arduino so gewild is, is dat dat programme deur enige iemand geskryf kan word – jy hoef nie ‘n opgeleide rekenaarprogrameerder te wees nie. Voor die dag om is, sal jy jou eie programme kan skryf.

Skakel komponente aan en af: Ons wys jou hoe om ‘n glimdiode (LED) aan en af te skakel. Dit is belangrik, want as jy dit kan doen kan jy ‘n relê aan en af skakel wat weer ligte, motors, ensovoorts aan en af kan skakel. So leer jy om bykans enige iets met jou Arduino mikrobeheerder aan en af te skakel.

Ontwikkeling en Elektronika: As jy met elektroniese komponente werk moet jy leer hoe om ‘n elektroniese broodbord, verbindingsgeleiers, ensovoorts te gebruik. Dan wys ons jou ook hoe om glimdiodes en weerstande te gebruik. Hiermee kan jy elektroniese bane bou sonder om komponente aan mekaar te soldeer.

Lees uitsetwaardes vanaf sensors: ‘n Mikrobeheerder soos Arduino kan uitsetwaardes van ligsensors, temperatuursensors asook ‘n handvol van ander komponente lees en interpreteer. Ons wys jou hoe. Op hierdie stadium sal jy genoeg agtergrond hê om ‘n ligsensor te koppel en ligte aan en af te skakel. ‘n Verstelbare weerstand word gebruik om ‘n analoë sensor te simuleer.

Lees data van jou Arduino op jou Skootrekenaarskerm: Ons wys jou hoe om boodskappe en sensor waardes soos temperatuur te lees en te vertoon. Dit is ‘n belangrike funksie, maar tog baie maklik om te kan doen. So kan jy meet om te weet.

Meer as die helfte van die werkswinkeltyd word gebruik vir praktiese toepassings wat jy kan aanwend sodat jy enige outomatisering kan doen.

Namens Kin le Roux hoop ons om u by die kursus te ontmoet en om baie vrae te vra!

Meer oor die aanbieder

Die kursus word deur Kin le Roux van www.botshop.co.za aangebied. Kin het met meer as 12 jaar ondervinding in opleiding, programmering and rekenaarnetwerkstelsels. Hy was die hoof van opleiding van Linux Holdings wat Linux netwerk- en sekuriteitskursusse ontwikkel en aangebied het, voordat hy 5 jaar terug met mikro-beheerders begin werk het.

Kin glo dat die beste manier van kennisoordrag gebeur in ‘n werkswinkelopset waar eerder klem op die praktyk as op die teorie gelê word. Tans is hy grotendeels betrokke met die ontwikkeling van die Botshop-reeks elektroniese borde, die onwikkeling van nuwe mikro-beheerder kursusse by Botshop asook spesiale kliënteprojekte.

Enige elektronika wat na afloop van die kursus by hom gekoop word, sal teen afslag beskikbaar wees.

Kaartjies