Laai Gebeuree

Leef gesond en maak geld met groente en vis.

Akwaponika is deur die Europese Unie se Wetenskapkomitee aan gewys as een van die top tien tegnologiese ontwikkelings wat die wêreld binne die volgende paar jaar gaan verander (Ten technologies which could change our lives). Van die ander ontwikkelings is voertuie wat hulleself bestuur, virtuele geldeenhede en driedimensionele drukwerk.

Aan outonome voertuie en Bitcoins kan jy dalk nie veel doen nie, maar dit is wel moontlik om akwaponika te verstaan en te beoefen. ‘n Eendagkursus oor die beginsels van akwaponika en hoe dit moontlik is dat visse en groente in ‘n geslote, natuurlike stelsel geteel en verbou kan word, word op 17 Februarie 2018 by Diamantvallei, die tuiste van KragDag, aangebied.

Die kursus word in Afrikaans aangebied deur Colin en Annemarie Bremner van Kleinskuur Aquaponics, die grootste akwaponiese stelsel in Suid-Afrika, wat ‘n hanetree van Diamantvallei af ontwikkel word.

Na afloop van die kursus sal jy verstaan hoe al die verskillende dele van ‘n akwaponiese stelsel bymekaar kom om ‘n gebalanseerde ekostelsel te vorm. Die kursus sal van waarde wees vir enige een wat ‘n tuisstelsel wil oprig en ook vir boere en beleggers wat daarin belangstel om ‘n kommersiële stelsel te ontwikkel. Dit is inderdaad moontlik om geld te maak uit akwaponika!

Al die nodige riglyne om weg te spring en faktore wat in ag geneem moet word, insluitend sakebeginsels en bemarking, word verduidelik en daar is ook ‘n terreinbesoek om te sien hoe alles in die praktyk werk.

Dit maak nie saak hoe groot jou stelsel is nie, die wetenskaplike beginsels bly dieselfde.

__________________________________________

Seminaar Program

1. Die biologie

  • Hoekom eet ons groente en vis?
  • Wat het ‘n plant nodig om gesond te wees?
  • Hoe help visse?

2. Die onderbou

  • Wat is akwakultuur?
  • Wat is hidroponika?
  • Hoe werk bakterieë?

3. Akwaponika

  • Wat is dit?
  • Hoe voeg ons die elemente bymekaar?
  • Wat moet ek in ag neem voor ek begin?
  • Hoe besluit ek wat se stelsel ek wil hê?
  • Hoeveel visse sorg vir hoeveel plante?
  • Hoe kan ek begin as my visse nog klein is?

4. Akwaponiese stelsels

  • Die tuissstelsel – Hennie Steyn wys hoe hy dit gedoen het
  • Kommersiële stelsels: Wat is daar buite in die wêreld?
  • Kleinskuurstelsel: Hoe werk dit?

5. Stelsels in stelsels

  • Water en watervloei
  • Lug en lugvloei
  • Bakterieë en bakteriegroei
  • Krag en kragbesparing
  • Verhitting en verkoeling
  • Meet en monitor
  • Rekordhouding en produksiebeplanning

6. Waar kom baba’s vandaan?

  • Saailinge
  • Vingerlinge

7. Wil jy geld maak?

  • Die drie beginsels van wins in boerdery: Soek ‘n mark, kry ‘n mark, hou ‘n mark.

8. Rolspelers en wetgewing

9. Terreinbesoek

__________________________________________

Meer oor die aanbieder

Colin Bremner is ‘n Skotse Boer wat in die Oos-Kaap grootgeword het. Sy formele opleiding was in rekenaartegnologie, hoewel hy al omtrent iets van alles onder die son aangepak het, van die ontwerp en bou van huise, vliegtuie en bote tot hidroponika. Hy het baie belangstellings en stokperdjies soos honde teel en skou, seil, skiet, boogskiet, musiekinstrumente bespeel en om avonture aan te pak soos die Cape-na-Rio-wedvaart waaraan hy ‘n paar jaar gelede deelgeneem het.

Hy het ‘n lewendige belangstelling in ‘n gesonde leefstyl en die rol wat voedsame kos kan speel om mense se lewensgehalte te verbeter. Sy studies oor die beste manier om gesonde kos te produseer het hom gelei na die wetenskap van akwaponika.

Colin het, en is steeds besig, om elke aspek van dié biologiese produksieproses te bestudeer en die wetenskap daaragter te verstaan.

Sy Kleinskuur-stelsel wat hy self ontwerp het, nadat hy een van die groot wêreldbekende akwaponika-kenners, Murray Hallam, se kursus bygewoon het, geniet wye erkenning in die akwaponika-gemeenskap.

Colin is dan ook gevra om vroeër vanjaar op te tree as mede-aanbieder van ‘n kursus wat deur die “vader van akwaponika”, dr James Rakocy by die Stellenbosch Universiteit aangebied is. Colin het die Kleinskuur-storie vertel.

Na die kursus en vele lang gesprekke het dr Racocy gesê: “I was very impressed with your knowledge and I find your Kleinskuur Aquaponic system very intriguing.”

Ander kundiges soos die bekende viskenner, Leslie Ter Morshuizen, het Kleinskuur ook ondertussen besoek. In die kommentaarboek het hy geskryf: “Fascinating! Wonderful to see the carefully planned simplicity.”

‘n Hoëvlak-amptenaar van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, was baie opgewonde daaroor dat daar ‘n werkende ekonomiese akwaponiese stelsel in SA is. Hy sê: “Nice to see a cost effective aquaponics system and innovation!”

In die kursus sal Colin binne die beperking wat tyd bied soveel as moontlik van sy kennis deel. Sy filosofie is: “Ek wil hê elkeen wat akwaponika aanpak, van ‘n klein huisstelsel tot ‘n kommersiële plaas, moet ‘n sukses daarvan maak, want dit is die toekoms van voedselproduksie.”

Die mede-aanbieder van die seminaar, Annemarie Bremner, is die redakteur van die ProAgri landboutydskryf en voormalige omroeper by Radio Pretoria.

Kaartjies

Unlimited beskikbaar
Inleiding tot Akwaponika - vroeë besprekingR 1 200,00Voldag Akwaponika seminaar. Ingesluit is seminaar aantekeninge, verversings en 'n "akwaponiese" middagete. (Vroeë afslag tot 19 Januarie 2018)

Vul asseblief al die vereiste velde in