Laai Gebeuree

Hierdie kursus is vir vroeë besprekers, tot 15 Februarie 2019, beskikbaar vir slegs R1 200, in plaas van die normale prys van R1 500 (besprekings sluit op 6 Maart 2019).

Kry gesonde kos uit jou eie akwaponiese stelsel

Gesond wees begin by gesond eet. Die sosiale media gons oor superkosse, oor allergieë wat dalk deur gifstowwe soos glifosaat veroorsaak kan word, oor diëte sonder stysel en suiker, oor die voordele en nadele van vleis en oor organiese produksie.

Jy kan in ‘n doolhof van teorieë beland en met jou lapsak groentewinkel toe loop in die hoop om ‘n paar stukkies groente te kry wat nie in plastiek versmoor word nie, of jy kan jou eie gesonde groente by die huis kweek met ‘n proteïnbonus daarby.

Akwaponika is ‘n produksiemetode wat ‘n natuurlike rivierstelsel naboots met ‘n balans tussen die dierelewe, bakterieë en plante.

In die eendagkursus, wat op 9 Maart 2019 by Diamantvallei, die tuiste van Kragdag, aangebied word, word die beginsels van akwaponika en hoe dit moontlik is dat visse en groente in ‘n geslote, natuurlike stelsel geteel en verbou kan word, behandel.

Die kursus word deur Colin en Annemarie Bremner van Kleinskuur Aquaponics aangebied, wat onlangs aangewys is as wenners in die Nisboere-reeks op televisie.

Na afloop van die kursus sal jy verstaan hoe al die verskillende dele van ‘n akwaponiese stelsel bymekaar kom om ‘n gebalanseerde ekostelsel te vorm. Spesiale aandag sal gegee word aan ‘n stelsel wat jy by die huis kan oprig om vir jouself en jou familie gesonde vars kos te produseer. Jy sal leer waarom ons sê: Daar is geen beter waghond as ‘n vis nie!

Daar is ook ‘n terreinbesoek van die Kleinskuurstelsel, wat ‘n hanetree van Diamantvallei af is, om te sien hoe alles in die praktyk werk. Dit maak nie saak hoe groot jou stelsel is nie, die wetenskaplike beginsels bly dieselfde.

Hier is ‘n paar van die onderwerpe wat aangeraak word:

1. Voeding

  • Wat het ‘n mens nodig om gesond te wees?
  • Wat het ‘n plant nodig om gesond te wees?
  • Wat het ‘n vis nodig om gesond te wees?

2. Boustene van akwaponika

  • Wat is akwakultuur?
  • Wat is hidroponika?
  • Hoe werk bakterieë?

3. Akwaponika

  • Hoe voeg ons die elemente bymekaar?
  • Wat moet ek in ag neem voor ek begin?
  • Hoe besluit ek wat se stelsel ek wil hê?
  • Hoeveel visse sorg vir hoeveel plante?
  • Hoe kan ek begin as my visse nog klein is?
  • Hoe werk “cycling up”?

4. Akwaponiese stelsels

  • Kommersiële stelsels: Wat is daar buite in die wêreld?
  • Kleinskuurstelsel: Hoe werk dit?
  • Hoe om ‘n Kleinskuurhuisstelsel te bou.
  • Hoe om ‘n “wicking bed” deel van jou stelsel te maak.

5. Versorging van jou plante en visse

  • Visse wat gebruik kan word.
  • Plante wat geplant kan word.
  • Hoeveel kos eet ‘n vis?
  • Siektes en ander probleme.
  • Watergehalte.
  • Hantering van peste en plae.
  • Leer die taal van jou plante.
  • Water en watervloei.

6. Waar kom baba’s vandaan?

  • Saailinge.
  • Vingerlinge.

7. Wat maak ek met te veel plante?

  • Leer hoe jou stelsel sy eie kostes kan dra.

9. Terreinbesoek

__________________________________________

Meer oor die aanbieder

Colin Bremner is ‘n Skotse Boer wat in die Oos-Kaap grootgeword het. Sy formele opleiding was in rekenaartegnologie, hoewel hy al omtrent iets van alles onder die son aangepak het, van die ontwerp en bou van huise, vliegtuie en bote tot hidroponika. Hy het baie belangstellings en stokperdjies soos honde teel en skou, seil, skiet, boogskiet, musiekinstrumente bespeel en om avonture aan te pak soos die Cape-na-Rio-wedvaart waaraan hy ‘n paar jaar gelede deelgeneem het.

Hy het ‘n lewendige belangstelling in ‘n gesonde leefstyl en die rol wat voedsame kos kan speel om mense se lewensgehalte te verbeter. Sy studies oor die beste manier om gesonde kos te produseer het hom gelei na die wetenskap van akwaponika.

Colin het, en is steeds besig, om elke aspek van dié biologiese produksieproses te bestudeer en die wetenskap daaragter te verstaan.

Sy Kleinskuur-stelsel wat hy self ontwerp het, nadat hy een van die groot wêreldbekende akwaponika-kenners, Murray Hallam, se kursus bygewoon het, geniet wye erkenning in die akwaponika-gemeenskap.

Colin is dan ook gevra om vroeër vanjaar op te tree as mede-aanbieder van ‘n kursus wat deur die “vader van akwaponika”, dr James Rakocy by die Stellenbosch Universiteit aangebied is. Colin het die Kleinskuur-storie vertel.

Na die kursus en vele lang gesprekke het dr Racocy gesê: “I was very impressed with your knowledge and I find your Kleinskuur Aquaponic system very intriguing.”

Ander kundiges soos die bekende viskenner, Leslie Ter Morshuizen, het Kleinskuur ook ondertussen besoek. In die kommentaarboek het hy geskryf: “Fascinating! Wonderful to see the carefully planned simplicity.”

‘n Hoëvlak-amptenaar van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, was baie opgewonde daaroor dat daar ‘n werkende ekonomiese akwaponiese stelsel in SA is. Hy sê: “Nice to see a cost effective aquaponics system and innovation!”

In die kursus sal Colin binne die beperking wat tyd bied soveel as moontlik van sy kennis deel. Sy filosofie is: “Ek wil hê elkeen wat akwaponika aanpak, van ‘n klein huisstelsel tot ‘n kommersiële plaas, moet ‘n sukses daarvan maak, want dit is die toekoms van voedselproduksie.”

Die mede-aanbieder van die seminaar, Annemarie Bremner, is die redakteur van die ProAgri landboutydskryf en voormalige omroeper by Radio Pretoria.

Kleinskuur is ook die medeskrywers van ‘n boek wat onlangs gepubliseer is: Aquanomics: Building a Thriving Aquaponics Business. Kliek HIER om jou kopie deur Amazon te bestel.

Kaartjies

Unlimited beskikbaar
Inleiding tot Akwaponika - 09 Maart 2019R 1 500,00Voldag Akwaponika seminaar. Ingesluit is seminaar aantekeninge, verversings en 'n akwaponiese middagete.