Heuning – die stroop van die lewe

Deel die artikel met jou vriende:

Daar is al baie gesê oor heuning – op die media, aanlyn en verskeie verskaffers wat aanspraak maak dat hulle produk die beste is.  Maar behalwe dat dit die lekkerste lekker is, weet jy hoekom dit goed is vir jou?  Hier is ‘n paar punte wat jy moet weet voordat jy weer ‘n lepeltjie skep:

Geprosesseerde heuning teenoor rou-heuning

Pasteurisasie is die proses wat rou-heuning deurgaan om te keer dat dit versuiker of kristalliseer.  Alhoewel hierdie proses kristallisasie voorkom, veroorsaak die hoë hitte van hierdie proses ook dat al die goeie bakterieë wat ons so nodig het om ons immuunstelsel goed te laat funksioneer, gedood word.

Behalwe pasteurisasie word heuning wat kommersieel verskaf word ook met ingevoerde heuning vermeng, wat volgens wet bestraal moet word om te keer dat siektes en ander vreemde mikro-organismes in die ingevoerde heuning met die Suid-Afrikaanse heuning vermeng word. Die bestralingsproses (irradiasie) het dieselfde effek as pasteurisasie.

Kommersiële heuning is ook gewoonlik eenvormig in kleur en smaak.  Rou-heuning aan die ander kant is egter nooit dieselfde kleur en smaak nie.  Dit kristalliseer ook omdat dit heuning se natuurlike preserveringsproses is.  Kom ons verduidelik dit stap vir stap:

Heuning se kleur en smaak word beïnvloed deur die tipe flora wat deur die by besoek word in haar seisoenale bedrywigheid van stuifmeel- en nektarversameling.  Hierdie proses is al baie verfyn deur byeboere wat net wag vir die regte tyd om ‘n sekere “geur” heuning te oes, byvoorbeeld Bloekom, Sonneblom, Bosveld, Lemoen, Macadamia ensovoorts, wat almal in kleur, geur en digtheid van mekaar verskil.  Dit is ‘n intensiewe proses wat kundigheid en geduld verg en daarom is rou-heuning altyd in aanvraag … altyd skaars en … altyd uniek.

Rou-heuning is ook soos die beskrywing sê … wel, … rou.  Dit word nie verhit bokant die temperatuur wat bye bereik om die klein bytjies uit te broei en die heuning in lopende vorm te behou nie.  Rou-heuning word ook nie vermeng met heuning wat bestraal of gepasteuriseer is nie.  Dit word reguit vanaf die korf na ‘n uitswaaimasjien gebring, uitgeswaai, een keer gesif om al die grassies ensovoorts te skei, en net so gebottel.

Rou -heuning bevat dus al die ensieme, vitamiene A, C, E en D asook B-kompleks wat die natuur by wyse van die bedrywige bytjies voorsien, en net soos dit bedoel is om ons immuunstelsels eerste, en ons onderskeie smake tweede, te pas.

Ander voordele van rou-heuning:

Behalwe rou-heuning se lekker smaak en vitamienes, is van die ander voordele van rou-heuning as volg:

  • Dit is anti-bakteries – word in wondbehandeling gebruik om die groei van slegte mikrobes te beperk.
  • Dit verskaf hoë energie en word deur sportmanne gebruik om beter te presteer.
  • Dit streel seerkeel en verlig hoes.
  • Dit is ‘n goeie plaasvervanger vir suiker.
  • Soos suurlemoene is heuning alkali-vormend in die liggaam – al het dit ‘n suur pH van ongeveer 3,5.
  • Gemeng met gemmer en suurlemoensap, verlig dit naarheid.

Maar nou dat ons meer weet van hierdie natuurwonder, kan ons ook nog ons kennis vergroot deur meer te leer oor die geskiedenis van rou-heuning.  In vandag se “kits”-lewe weet ons amper nooit waar die lekker kos, waarmee ons ons inkopietrollies vol pak, vandaan kom nie. En … dis nogal belangrik!

In onlangse jare het die tydskrif National Geographic ‘n ontdekking gepubliseer wat ons oë laat rek het.  Heuning is in Egiptiese piramides ontdek. Dit is meer as 3000 jaar gelede daar geplaas om edeles, wat in die piramide ter ruste gelê is – blykbaar, ‘n goeie kospakkie te gee vir hulle reis na die ewigheid.  Maar die beste van alles is dat hierdie heuning nog 100% eetbaar was, danksy die ongeëwenaarde vermoë van rou-heuning om te preserveer.  Hierdie preserveringsvermoë word toegeskryf aan ‘n aantal eienskappe van heuning soos ‘n lae suurvlak, die afwesigheid van vog, asook die teenwoordigheid van waterstof-peroksied.  Dit werk alles saam om heuning letterlik vir altyd te laat hou.

Die eertydse Egiptenare het dit ook gebruik as offerandes vir hulle gode, as ‘n bestanddeel van die mengsel wat gebruik is om lyke mee te balsem, asook ‘n versoeter in hulle kookkuns.

Danksy hulle rotstekeninge het ons ook geleer dat die idee om met bye te boer al duisende jare oud is.  Hiernaas is ‘n prent uit museumversamelings wat dit vir ons aantoon.  Gelukkig vir ons byeboere het die tye verander is die uithaal van heuning ‘n byna pynlose proses – ons het nou ten minste beskermende klere en toerusting!

Dus volgende keer as jy die goue lekkerte wil aankoop, dink ‘n bietjie verder as jou tong.  Dink aan hoe regte rou heuning jou liggaam kan bevoordeel en wat anders jy alles daarmee kan maak.  Koop dan dit wat eg, rou en heilsaam is.

Vir meer inligting besoek gerus www.shangelohoney.co.za of skakel 076 271 5886.

As jy van heuningproe na heuningboer wil aanskuif is die Inleiding tot Byeboerdery kursus wat 3 November by KragDag aangebied word die ideale geleentheid vir jou.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.67 avg. rating (92% score) - 12 votes

About the Author:

2 Comments

  1. Markus van Wyk. 2018-11-01 at 08:23 - Reply

    Dankie vir die interressante inligting oor heuning. Net om heuningproduksie in perspektief te plaas, wil ek julle vra of julle weet hoeveel heuning ‘n by dus produseer in sy lewe van 4-6 weke, afhangend van die seisoen. Dit gaan jou dalk swaar laat sluk aan jou volgende lepel lekkerte.
    Een by in sy produktiewe hardwerkende lewe van – gestel 6 weke – sal een twaalfde van een teelepel heuning produseer. Daardie lepel heuning, is dus deur twaalf bye, in 40 dae, teen 10 ure per dag, geproduseer en hulle het nie Vrydag middae, Saterdae of Sondae af nie……..

  2. simon jonsson 2018-11-01 at 09:28 - Reply

    Dankie Alida vir die mooi artikel en feite oor HEUNING

Leave A Comment

*

code