Deel die artikel met jou vriende:

Indien u oorweeg om met pekanneute te begin boer is vooruitbeplanning geweldig belangrik. Daar is toenemende belangstelling in pekanneutproduksie aangesien pekanneute minder kapitaal-intensief is as ander neutkultivars. Voornemende produsente moet hulle egter eers vergewis van die kritiese suksesfaktore voordat verbouing van pekanneute aangepak word.

Aspekte van belang met die vestiging van Pekanneute:

  1. Klimaat

  2. Grondtipe

  3. Water

  4. Boordligging en Topografie

  5. Kultivarkeuse

Klimaat

Die pekanneutboom word beskou as ‘n warmseisoen gewas, wat daarop neerkom dat kort, koue winters en lang, warm tot baie warm somers met ‘n relatiewe lae lugvogtigheid benodig word vir optimale produksie en gehalte neute.

Te hoë lugvog kan lei tot vertraagde bot.  Siektes en plae kom ook meer voor aangesien die hoër lugvog ‘n meer ideale klimaat hiervoor skep. Die gevolg is dat hoër insette die verbouing van pekanneute nie winsgewend maak nie.

Grondtipe

Pekanneute kan in ‘n verskeidenheid van grondtipes geproduseer word, maar studies toon die beste produksie en wortelontwikkeling geskied in diep vrugbare en goed gedreineerde grond met ‘n diepte van 1 200 mm – 1 500 mm en wat ‘n goeie waterhouvermoë het.

Pekanneutbome verkies leemgrond. Pekanneute kan in grond met ‘n pH van tussen 5 en 8 verbou word maar die ideaal is ‘n pH van 5,5 tot 6,5. Daar is verskeie effektiewe presisieboerderymetodes tot produsente se beskikking om die toestand, tipes en eienskappe van grond te bepaal. Een daarvan is om ‘n monster van die grond waar u die boord beplan te neem en na ‘n laboratorium te neem vir analise.

Water

Water is die grootste inset tot pekanneutverbouing. Suid-Afrika se reënval is nie voldoende om aan die waterbehoeftes van pekanneute in hulle verskillende groeistadia te voldoen nie. Gewoonlik word bykomende besproeiing dan benodig om ‘n goeie en ‘n kwaliteitsopbrengs te verseker.

Te veel water is baie nadelig, maar watertekorte tydens die kritieke tye bv. blom, neutvorming en neutvul kan tot swak gradering, lae oesopbrengste en swak oopmaak van neute lei. Oktober tot Maart is hier die belangrikste tydperk waartydens water optimaal bestuur moet word.

Waterkwaliteit is ook ‘n essensiële oorweging voor ‘n boord of besproeiingsblok gevestig word veral in areas waar boorgate gebruik word.

Grondklassifikasie sal ook help met die bepaling van waterhouvermoë. Voornemende produsente word aangeraai om water twee keer per jaar te toets, winter en somer.

Boordligging en topografie

Laagliggende boorde het ‘n verhoogde risiko vir koueskade. Boorde op hange met ‘n geleidelike val is ideaal om koue lug weg te lei.

In hoë reënval gebiede soos Natal kan laagliggende lande met beperkte lugvloei problematies wees. Swamsiektes soos skurfsiekte (pecan scab) by Pekanneute kan onder hierdie omstandighede gedy.

Oppervlakwater binne boorde moet vinnig kan dreineer na swaar reën of vloedbesproeiing. Staande water in ‘n boord kan lei tot versuiptoestande wat pekanneutboomwortels laat terug vrek en tot beperkte produksie lei.

Kultivarkeuse

Kultivarkeuse sal van streek tot streek verskil. Suid-Afrika word in twee streke ingedeel, Oos en Wes. Binne hierdie streke het SAPPA (Suid-Afrikaanse Pekan Produsente Assosiasie) reeds navorsing gedoen om voornemende produsente te ondersteun met kultivars waarvan die bestuiwing en blom mekaar in die relevante streek  komplimenteer.

Die rigting van heersende winde gedurende stuifmeelstorting speel ‘n deurslaggewende rol by effektiewe bestuiwing. Verskillende kultivars moet binne die boord só geposisioneer word om te verseker dat goeie bestuiwing sal plaasvind.

Pekanneute is voorwaar ‘n alternatiewe gewas wat groot potensiaal onder besproeiing toon. Dit is egter baie belangrik dat die voornemende produsent sy beplanning deeglik sal doen.

Sleutelwoorde om te onthou is kwaliteit, volgehoue produksie van goeie gehalte en samewerking op die bemarkingsgebied.

Organisasies

SAPPA – Suid-Afrikaanse Pekanneut Produsente Assosiasie NPC is ‘n organisasie wat die produsente ondersteun en voornemende produsente van tegniese advies voorsien.

Besoek gerus hulle webtuiste by:  www.sappa.za.org vir meer inligting of kontak Hardus du Toit, senior tegniese beampte by sappahardus@gmail.com.