Deel die artikel met jou vriende:

Weet jy dat daar eintlik verskeie maniere is wat jy geld deur ‘n webblad kan verdien? Jy hoef nie ‘n besigheidseienaar of entrepreneur te wees om geld te verdien deur aanlyn produkte te verkoop nie. Inteendeel, in die huidige era word dit eintlik net makliker vir gewone mense soos ek en jy om geld op die kantlyn te verdien deur gewoon net jou passie met ander mense te deel.

Om ‘n webblad om te skakel na ‘n winsgenererende stelsel is beslis nie maklik nie, maar met baie passie en ‘n bietjie geluk kan enigiemand dit regkry. In hierdie artikel wil ek graag verduidelik hoe om met ‘n blog geld te verdien.

Blog

‘n Blog is ‘n tipe webblad waar jy jou passies deur artikels en ander informele plasings met die wêreld kan deel. Die voordeel van ‘n blog is dat jy net jou rekenaar, gekoppel aan die internet, nodig het om mee te begin. Behalwe dat dit ‘n uitstekende manier is om self te groei deur jou belangstelling en passie met duisende mense wêreldwyd te deel, is dit ook ‘n manier om ‘n paar randjies op die kantlyn in te bring. Om geld te uit ‘n blog te verdien is egter geen maklike taak nie – moet dus nie verwag om van die begin af elke maand duisende rande in te bring nie.

Die kuns om geld uit ‘n blog te verdien is om eerstens ‘n groot lesertal op te bou, bestaande uit mense wat jou plasings lees en van jou skryfstyl hou. Hiermee is daar dan verskeie maniere waarop jy kan begin geld verdien.

Die bekendste metode onder bloggers word Affiliasie Bemarking (Affiliate Marketing) genoem.

Affiliasie-bemarking

Die beginsel van Affiliasie-bemarking is baie eenvoudig. Kom ons sê ek weet baie van messe af, en het ook ‘n pragtige versameling van jagmesse, slagmesse, vegmesse, knipmesse en selfs kombuismesse. Maar ek het ook ‘n vriend wat messe maak – pragtige handgemaakte messe met die mooiste versierings daarop. Ek blog reeds vir ‘n paar maande waarop ek my passie met lesers deel. Omdat ek so baie oor messe weet, het ek al ‘n paar duisend lesers. My vriend, die messemaker, is egter opsoek na ‘n mark waar hy sy messe kan verkoop. So sê hy toe vir my: “Pietman, my vriend, kom ons maak so: Jy blog op jou webblad van my messe en vertel vir almal hoe mooi die messe is. Jy kan ook foto’s plaas. Jy beveel my messe aan, en kry dan 10% van al die messe wat verkoop word deur middel van jou blog. Is jy in?”

Dit mag dalk, by die eerste oorweging daarvan, moeilik klink, maar dit is eenvoudiger as wat jy dink. En as ek nie gemaklik sou wees om oor messe te blog nie, of vrees dat my vriend wat die messe maak, dalk nie my opinie of aanbevelingstyl van sy messe sal waardeer nie, is daar steeds talle ander dinge waaroor ek kan blog. Jy kan oor enige passie of stokperdjie blog en wanneer jy ‘n groot genoeg lesertal het, kan jy, in plaas van jou eie of ‘n vriend se produkte te verkoop, ander produkte insluit wat by jou blog aansluit. Loer gerus na die talle geleenthede wat in hierdie verband byvoorbeeld deur Click Bank gebied word.

Betaal per Klik (Pay Per Click)

Wat hierdie metode so lekker maak, is dat dit baie doeltreffend, maar tog baie eenvoudig is. Jy sal dalk onthou dat jy op sommige webbladsye Google advertensies sien. Daar is ‘n baie eenvoudige proses wat enige blogger kan volg ten einde Google-advertensies op hulle blog te plaas. Google verskaf aan jou ‘n stukkie kode wat jy op jou webblad plaas en wat Google gebruik om te bepaal watter onderwerpe jou webblad oor handel. Google plaas dan advertensies ooreenkomstig jou webblad se tema. Google betaal jou dan vir elke klik op so ‘n advertensie wat kan wissel tussen R1 en R50. Hoe word ek deel hiervan? Doen aansoek by Google Adsense. Onthou Google het ‘n streng stel bepalings en voorwaardes. Maak dus seker dat jy daaraan voldoen.

Donasies

Jy sal verbaas wees hoeveel mense bereid is om maandeliks ‘n donasie te maak. As jy besig is om jou passie gratis met die wêreld te deel, dan is daar altyd mense wat bereid sal wees om jou geldelik te ondersteun. As jou lesers van jou blog en van jou as persoon hou, is dit moontlik dat hulle aan jou ‘n maandelikse ondersteunende bedrag sal betaal om jou te help om met jou blog voort te gaan. In ruil vir hierdie maandelikse donasies kan jy dan vir die donateurs spesiale voorregte gee, soos eksklusiewe blootstelling en toegang tot persoonlik-gerigte inhoud en inligting byvoorbeeld deur onderhoude of artikels.

Die beste voorbeeld hiervan is PatreonPatreon stel jou – die blogger – in staat om ‘n ‘Patreon Page‘ te skep, waar lesers kan registreer as ondersteuners, wat sodoende elke maand ‘n sekere bedrag betaal. As bedanking kan jy dan op die Patreonblad van tyd tot tyd spesiale materiaal plaas wat slegs die ondersteuners dan kan sien.

Jy kan ook die proses met PayFast implementeer. PayFast is ‘n metode om internasionale betalings in rande aan te neem, maar dit stel jou ook in staat om maandeliks-herhalende betalings van lesers of ondersteuners te ontvang. PayFast kan vanselfsprekend beter as Patreon aangepas word vir jou behoefte.

Op watter manier jy ookal beplan om geld uit jou blog te verdien, bly dit belangrik om te blog oor dit wat jou (en jou lesers) interesseer en opgewonde maak en nie met die oog daarop om ‘n spesifieke produk aan jou lesers te probeer verkoop nie. Jou lesers lees jou plasings omdat hulle van jou as persoon hou en omdat hulle jou passie deel. Jy gaan nie van die begin af ‘n groot lesersgevolg hê nie. Daarom is dit belangrik om te blog vir ander voordele wat dit vir jou mag hê, soos byvoorbeeld vriendskap, vrede, berusting en nabetragting. Hierdie is dinge wat jou bevrediging sal gee vanaf die eerste blogartikel wat jy plaas. Dit mag dalk aan die begin lyk asof niemand belangstel in jou blog nie, maar hou vas aan hierdie dinge.

(Pieter van Deventer is ook die aanbieder van die Hoe om jou eie webblad te ontwikkel – sonder om te programmeer! wat op Saterdag 13 Oktober 2018 aangebied word.)

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.86 avg. rating (95% score) - 7 votes