Deel die artikel met jou vriende:

Deel 2 – Beskikbare Tegnologieë

In Deel 1 het ons na die verskillende Internet-teminologieë gekyk wat in die algemeen gebruik word. Deel 2 handel in breë terme oor die verskillende Internet-tegnologieë.

Vaste lyn tegnologieë

  • Koperkabeltegnologie: Dit is die internet-tegnologie wat die langste bestaan en is natuurlik afhanklik van die beskikbaarheid van kabels in die area. Ongelukkig weet ons dat kabeldiefstal ‘n groot probleem is.

Analoogtipe (Dial-up) konneksies:- Die oudste tipe konneksies op die telefoonlyn met  ou tipe modems. Dit is skynbaar beskikbaar in sommige areas maar is baie stadig en kan bv. vir e-pos gebruik word maar nie vir multimediadata nie.

ISDN (Internet Services Digital Network) en Diginet:- Dit is ook ouer koperkabeltipe internetkonneksies  maar tans word dit egter uitgefasseer en geen nuwe konneksies word skynbaar gedoen nie. ISDN was nie optimaal om multimedia te dra nie. Diginet kan wel multimedia en ook VoIP dra, afhangend van hoe vinnig die konneksie is en dit is ‘n baie stabiele en hoë kwaliteit konneksie.

Al die volgende nuwer tegnologieë beperk nie die tipe data en dienste nie, maar dit word wel beperk deur die hoeveelheid gebruikers wat van ‘n spesifieke konneksie gebruik maak. Oormatige aanteken van kliënte (oversubscribing) deur die diensverskaffer of sý verskaffer is dus die beperkende faktor.

ADSL (asymmetrical digital subscriber line):- Dit beteken dat die aflaai van data na die gebruiker vinniger is as die oplaai vanaf die gebruiker na Telkom. Hierdie tegnologie is net beskikbaar in stedelike gebiede want die afstand vanaf die gebruiker na die DSLAM (digital subscriber line access multiplexer) of lokale verspreidingspunt, word beperk deur die beskikbaarheid van ‘n kabelnetwerk. Die spoed waarteen dit data kan op- en aflaai hang ook af van die afstand van die verspreidingspunt en in praktyk is dit gewoonlik nie meer as 10Mbps nie. Dit is dus ook ‘n relatiewe ou tegnologie en die huisgebruiker wat ‘n gedeelde (contended) konneksie het sal bv. nie flieks kan aflaai nie. In SA is die jongste weergawe wat beskikbaar is ADSL2+ en net Telkom verskaf die last mile connetivity (eindpuntkonneksie) al kry u dit vanaf ‘n ander diensverskaffer.

VDSL (very high bit rate digital subscriber line):- Dit is dieselfde tipe tegnologie as die ADSL behalwe dat dit in beide rigtings vinniger is. In Suid-Afrika is dit óf 2 óf 4 maal vinniger as die ADSL.

  • Optiese veseltipes tegnologie: Die meeste huiskonneksies wat optiese vesel konneksies het, maak gebruik van PON (passive optical network) wat beteken dat verskillende gebruikers ‘n enkele optiese vesel deel. Op besigheidsvlak (enterprise level) is ‘n ander tipe konneksie beskikbaar waar daar net een konneksie per vesel beskikbaar gestel word en is baie duurder toerusting nodig om dit te bedryf. Die spoed van hierdie konneksies hang af van die konneksietipe.

Lynlose (Wireless) – tegnologie

Daar is báie verskillende tipes beskikbaar en die tegniese en bemarkingstaal (jargon) is volgens my inligtingsbron dikwels so gemeng dat dit baie verwarrend kan wees.

  • Selfoon (Mobile) -tegnologie: Alle selfone wat in die afgelope ongeveer 20 jaar vervaardig is, het outomaties 2G met GPRS (general packet radio service)-tegnologie ingebou. Dit is die laagste vlak van hierdie tipe tegnologie. 3G en HSDPA (High Speed Downlink Packet Access) is die volgende generasie en ontwikkeling wat in selfone gebruik is en die nuutste is LTE (Long Term Evolution). Dis blykbaar nie soseer ‘n nuwe tegnologie nie, maar ‘n manier om die spoed van die konneksies te verhoog. In SA is ware 4G nie beskikbaar nie. LTE Advanced is die nuutste en vinnigste tegnologie in diè reeks en maak aanspraak op vinniger en meer stabiele konneksies met ‘n lae latency wat ook vir rekenaarspeletjies gebruik kan word. Die router word staties geïnstalleer  op ‘n huis se dak in areas waar dit beskikbaar is. Al die groot selfoondiensverskaffers soos MTN, Vodacom, Telkom Mobile en Cell-C het verskillende pakette rondom internetdiensverskaffing en u sal by u plaaslike diensverskaffers meer vergelykende inligting moet kry. Aangesien dit afhanklik is van die diensverskaffer se verspreidingsnetwerk sal dit dalk goed wees om by ander in u omgewing wat reeds die spesifieke diensverskaffer gebruik, te gaan ondersoek instel of u daarmee tevrede sal wees.
  • Internetdiensverskaffer (WISP wireless internet service provider)-tipe konneksies: Hierdie tipe is gewoonlik ongelisensieer en het gedeelde toegang (shared access) wat beteken dat ‘n klomp konneksies na dieselfde hardeware-toring kyk. (PMP – point to multipoint) Dit is meestal gebaseer op Wifi-toerusting soos Ubiquiti se Airmax-reeks en Cambium se ePMP-reeks en is sinvol vir huisgebruik en kleiner besighede, die sg. SOHO (small office home office). Hierdie tipe tegnologie het egter groter kans vir steurseine (interference) wat veroorsaak dat daar nie soveel deurset (throughput) is wat beide die WISP en die gebruiker graag wil hê Daar is verskeie faktore wat daartoe bydra bv. een gebruiker wat ‘n swak sein of ouer swakker toerusting het, kan die ander gebruikers negatief beïnvloed. ‘n Ander faktor is die antennas met  wye hoek-sektore, selfs omni-direksioneel (360˚), waarteen PMP-konneksies opgestel word om soveel moontlik konneksies in te sluit. Dit veroorsaak egter dat hulle ook ruis (noise) oor die hele sektor opvang. Dit is ongelukkig ook so dat  goedkoper toerusting meer onderhewig is aan hierdie probleem en as hierdie diensverskaffers of hul voorsieners hul diens ook nog oorlaai (oversubscribe)  kan dit baie frustrasie veroorsaak sg. cheap and dirty. Vir die gebruiker is die prys wat hy betaal dikwels ‘n aanduiding van die gehalte van die diens wat hy gaan kry.
  • Punt-na-punt (Point to point)konneksies – Hierdie is tegnologie in die hoër diensspektrum waar die konneksie vanaf die hardeware-toring tot een gebruiker beperk is. Die konneksies is vinniger en meer stabiele en kan 30-100 maal duurder wees as die vorige tipe. Dit is gemik op groter besighede en kleiner diensverskaffers. (ISP’s) Dit kan óf gelisensieer wees óf nie -afhangend van die diensverskaffer.
  • Sateliet-tegnologie: Dit is beskikbaar op enige plek wat deur ‘n geostatiese kommunikasiesateliet gedek word, maar dit is duur en stadig en het ‘n hoë latency.

Die tegnologieë soos ons nou bespreek het is spesifiek van toepassing op dit waaroor die eindgebruiker ‘n besluit moet neem. Die meeste dienste gebruik meer as een tegnologie op die roete wat die data neem om by die gebruiker uit te kom. Dit sou dus ook goed wees om ‘n idee te hê watter ander tegnologieë ook betrokke is by u diensverskaffer, sodat ’n begrip van moontlike probleme gevorm kan word.

In die algemeen sou dit dalk ook ‘n goeie beleid wees om u eie behoeftes betreffende internetgebruik eers duidelik te bepaal en die tegnologieë te bestudeer wat dit ten beste gaan ondersteun, alvorens u diensverskaffers en pryse begin vergelyk.

 

Hierdie artikel is geborg deur die Alsatia Consulting

Webadres: www.alsatia.net