Deel die artikel met jou vriende:

Die eksponensiële aard van tegnologiese vooruitgang, kan ’n hele industrie onherkenbaar verander. Dit is veral waar, wanneer ontwikkeling op verskillende gebiede bymekaarkom en toepassing vind in ’n industrie waar dit nie voorheen die geval was nie. Dit is veral wanneer aspekte van ’n industrie gedigitaliseer word, dat koste dramaties afkom van oplossings wat voorheen onbereikbaar duur was.

In ’n artikel van Singularity Hub, word ’n aantal maniere uitgelig waarop die finansiële wêreld tans deur tegnologie ontwrig word deur nuwe maniere van dinge doen.

Persoon-tot-Persoon Lenings

Persoon-tot-Persoon (peer-to-peer) lenings was vroeër grootliks beperk tot naby-vriende en familie. Die proses om iemand of ’n projek se kredietwaardigheid en risiko te bepaal asook die integriteit van die lener, was eenvoudig te kompleks om dit wyer te implementeer.

Dit beteken dat banke en ander derde partye groot winste kon maak deur “veilige” omgewings te skep waar mense hulle geld teen rente kan belê. Hulle word dan die instansies wat hierdie geld weer uitleen teen hoër koerse. Hierdie bemiddelings rol het banke van die mees winsgewende instellings gemaak van die afgelope dekades. Geen wonder dat die mure om hierdie hoogs gereguleerde bedryf so jaloers beskerm word en al hoër gemaak word nie.

As die tussenganger uitgeskakel word, is daar meer rente beskikbaar vir die uitlener terwyl die lener teen laer koerse kan leen. Dalk kan in die proses nog ’n groot klomp uitmergelende papierwerk en vereistes uitgeskakel word.

Dit  is waar Persoon-tot-Persoon (P2P) uitleen platforms inkom. Verskeie van hierdie “crowdlending” platforms het die aflope tyd sterk na vore gekom. Zopa, Funding Circle leen al verskeie biljoene Euro’s uit in Engeland terwyl Prosper en Lending Club in die VSA by die 21 biljoen USD in lenings hanteer.

Dit lyk of ons met hierdie tegnologie terugbeweeg na die gedesentraliseerde aard van lenings soos in die tyd voor banke. Nou word hierdie proses verder versterk met die verskyning van rekenaar-intelligensie en die blokketting op die toneel. Die P2P platforms word nou versterk met ’n vlak van deursigtigheid, betroubaarheid en aanspreeklikheid wat vroeër nie moontlik was nie.

Rekenaar Intelligensie bereken kredietrekords

’n Voorbeeld van wat die toekoms inhou kan gesien word by die ’n maatskappy soos die Smart Finance Group wat rekenaar-intelligensie gebruik om die risiko te verklein vir die uitgee van mikro lenings. Hulle vra die lener se toestemming om toegang te kry tot sy persoonlike inligting op sy foon. Dit word dan deur algoritmes ontleed wat bepaal of die lener kredietwaardig is.

Nie net het dit die kans om nie-presterende lenings baie af te bring nie, maar die spoed waarmee lenings goedgekeur word, het dramaties versnel. Van hulle transaksies word dikwels goedgekeur binne 8 sekondes!

Miljoene mense in Sjina sonder toegang tot die formele bank sektor is al deur hierdie platforms gehelp. Dit is weereens ’n voorbeeld van hoe nuwe tegnologie dikwels in hierdie lande posvat omdat die bestaande stelsels nog nie goed ontwikkel is nie.

Blokketting gesteunde Lenings modelle

Die blokkettingtegnologie beloof om hierdie wêreld verder te ontwrig. Die onvervalsbare aard van die rekordhouding en deursigtigheid daarvan, gekombineer met die moontlikheid van slimkontrakte bring allerhande nuwe moontlikhede.

Dit beloof om die rol van lomp en duur derde partye soos banke potensieel verder uit te skakel sodat besighede of individue direk in kontak kan kom met uitleners. Twee van die blokkettingplatforms wat hier kompeteer is ETHLend en SALT Lending.

Fondsinsameling in hierdie sektore (die sogenaamde ICO’s) het gewys hoe ontwrigtend hierdie mark is. Een van die ICO aanbiedinge was Filecoin. Hulle het 257 miljoen USD ingevorder in 30 dae waarvan die eerste 135 miljoen USD ingevorder is in die eerste uur!

Wat hou die toekoms in?

Dit lyk of binnekort enige persoon met ’n innoverende idee en die wil en vermoë om dit te verwerklik, dieselfde toegang sal hê tot kapitaal. Maak nie saak waar in die wêrelde hy hom bevind nie. Finansiering gaan nie net beskikbaar wees vir die entrepreneur in Silicon Valley met die goeie netwerk van kontakte soos in die verlede nie, maar ook vir die entrepreneur in Afrika met sy selfoon.

Die grootste hindernisse in die pad van vooruitgang in Afrika, was nog altyd die owerhede. Dit lyk of die tyd ryp is om daarby verby te kom sonder om afhanklik te wees van stelsels wat van bo af moet verander. Geld is die laaste bastion van die owerhede se mag. As beheer daaroor uit hulle hande verdwyn, is ons toekoms veel meer rooskleurig.

Waar is ons entrepreneurs wat dit ’n werklikheid kan maak?

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.33 avg. rating (86% score) - 3 votes