Deel die artikel met jou vriende:

Dit was hier… so in die laat negentien-negentigs wat die skrywer ‘n projek onderneem het om skrophoenders (free range chickens) in mobiele hokke groot te maak. Elke hoenderhok het die kapasiteit gehad om so ongeveer 250 hoenders gedurende ‘n grootmaaksiklus van 10 weke te produseer. Daar was 5 mobiele hokke en die gedagte was om elke 2 weke ‘n nuwe skrophoendersiklus in ‘n ander hok te loods. Ongelukkig het die bemarking van geslagde skrophoenders nie so vinnig soos die produksieproses verloop nie en was dit nodig om addisionele vrieskapasiteit te bewerkstellig. Daarom het ons ‘n groot kisvrieskas (chest freezer) met ‘n nettokapasiteit van 509 liter aangeskaf. Dit was ná die tyd wat die gebruik van chloorfluoorkoolstowwe (CFCs), wat die gat in die osoonlaag veroorsaak het,  verbied is, maar vóór die tyd dat daar soveel klem op energiedoeltreffende yskaste en vrieskaste gelê is. Die aankoop van die vrieskas was dus suiwer op grond van behoefte, beskikbaarheid en prys gedoen. Energieverbruik van die vrieskas het glad nie eers in ons gedagtes gefigureer nie.

Figuur 1

Uit ‘n betroubaarheidsoogpunt was hierdie vrieskas absoluut ‘n wenner, want in die afgelope meer as 20 jaar het ons nooit enige probleme met die vrieskas gehad nie. Die skrophoenderbesigheid is lank nie meer nie en die vrieskas word hoofsaaklik vir huishoudelike gebruik aangewend. Volgens die vervaardiger se tegniese inligting word ‘n elektriese stroom van 1,6A vir die vrieskas gespesifiseer met ‘n wisselstroomspanning van 220 tot 240V. Die inligtingsplakker (sien Figuur 1) agter op die vrieskas sê egter niks van die energieverbruik van die vrieskas nie en slegs die skyndrywing van ongeveer 352 -384 volt-ampere kan bereken word. Verder word geen aanduiding van die vrieskas se arbeidsfaktor gegee nie. Ons weet dat die vrieskas outomaties aan en af skakel afhangende van die interne temperatuur van die vrieskas. Sodra die interne temperatuur hoër as ‘n voorafgestelde drempeltemperatuur is, word die vrieskas afgeskakel. Wanneer die interne temperatuur egter laer as as die drempeltemeratuur daal, skakel die vrieskas weer aan. Op hierdie wyse vind regulering plaas om te verseker dat die interne temperatuur min of meer by die drempeltemperatuur is en dat die vrieskas se kompressor nie onophoudelik werk en elektrisiteit verbruik nie. Met die verstelling van die drempeltemperatuur kan die “vries”-kas as ‘n yskas, verkoelkas (chiller) of ‘n vrieskas aangewend word.

Figuur 2

Omdat die vrieskas met tye afgeskakel is, is dit moeilik om die gemiddelde drywing en energieverbruik oor ‘n tydperk, sê 24 uur, te bepaal. Vervaardigers van nuwe yskaste en vrieskaste spesifiseer hulle produkte se energieverbruik in kWh per jaar. Die rede vir die jaarsiklus is waarskynlik om die effek van die winterseisoen en somerseisoen te verdiskonteer.

Met die ou vrieskas se ouderdom in gedagte het dit by my begin spook hoe doeltreffend is hierdie ou vrieskas in vergelyking met nuwe vrieskaste en hoeveel slegter is ons ou vrieskas teenoor ‘n navolgenswaardige rolmodel in nuwe vrieskaste? Verder het ek gewonder of daar, weens die ouderdom van die vrieskas, nie ‘n afname in die doeltreffendheid van die vrieskas was nie?

Figuur 3

So het ek toe ‘n baie handige drywingsmeter, wat meer as net drywing meet, in die handel raakgeloop. Hierdie drywingsmeter word in die huis se muursok ingeprop en die toestel om te meet word direk in die sok, wat in die meter voorsien is, ingeprop. Die meter het die funsionaliteit om verskillende groothede wat op die toestel betrekking het, te meet. Eerstens kan drywing in watt (sien Figuur 2) gemeet word. Drywing is ‘n grootheid wat van oomblik tot oomblik kan wissel. Nog ‘n grootheid wat vertoon word is die toestel se energieverbruik (sien Figuur 3) in kilowatt-uur (kWh) vir ‘n tydperk. Die tydperk wat in berekening gebring word is die tyd sedert die laaste herstel (reset) van die meter. Dan kan daar nog ook oombliklike spanning en stroom gemeet word tesame met die arbeidsfaktor (sien Figuur 4) van die toestel.

Gewapen met die meter en ook ‘n minimum/maksimum termometer het ek toe ‘n paar metings op die vrieskas begin doen. Voor die tyd het ek die meter se tydmeter na nul toe herstel. Die oombliklike groothede drywing, stroom, spanning en arbeidsfaktor was respektiewelik 167,3 watt; 1,481 ampere; 230,2 volt en 0,48. Na 24 uur was die energieverbruik vir die dag 2,933 kWh. Dit het beteken dat die energieverbruik vir die vrieskas ongeveer 1070 kWh per jaar is. Met die minimum/maksimum termometer het die interne temperatuur gewissel tussen -10⁰C en -16⁰C.

Figuur 4

Die gevolgtrekkings wat ek uit hierdie oefening kon maak is die volgende:

  • Die gemete stroom is effens laer as die gespesifiseerde stoom van 1,6A terwyl die interne temperatuur van die vrieskas op aanvaarbare vlakke is. Ek het dus nie werklik rede om te dink dat daar ‘n noemenswaardige agteruitgang op die werking van die vrieskas was nie.
  • Wat energieverbruik aanbetref vergelyk die vrieskas egter nie baie goed met nuwe vrieskaste wat in die handel verkrygbaar is nie. So is daar ‘n nuwe vrieskas van 481 liter met ‘n A-energiedoeltreffendheidsgradering wat ‘n jaarlikse energieverbruik van 425 kWh het. ‘n Ander vrieskas van 543 liter met ‘n B-gradering het weer ‘n energieverbruik van 627 kWh per jaar. Hierdie energieverbruik is dus ongeveer die helfte van my ou vrieskas s’n.
  • Ek is nie heeltemal seker dat dit sin sal maak om my ou vrieskas, wat nog goed werk, te vervang met ‘n meer energiedoeltreffende nuwe vrieskas wat my ongeveer R6000-00 sal kos nie. Indien die ou vrieskas egter sou breek maak dit beslis sin om dit met ‘n nuwe vrieskas te vervang eerder as om dit reg te maak. Indien ek egter sou besluit om na ‘n sonkragstelsel oor te skakel, sal ‘n mens ‘n sommetjie moet maak om te bepaal wat die beste sou wees – om die energievraatsige vrieskas te vervang en sodoende op die koste van die sonkragstelsel te bespaar, of alternatiewelik, om die koste van ‘n nuwe vrieskas eerder aan te wend om ‘n sonkragstelsel met ‘n groter kapasiteit aan te skaf. Ai tog, besluite, besluite!

‘n Beperkte aantal drywingsmeters met die KragDag-embleem op, soortgelyk as die een wat in die artikel beskryf word, word op KragDag by die inligtingstalletjie te koop aangebied teen R590 elk. Baie handig, en ook ‘n ware versamelaarsitem.

 

3.00 avg. rating (63% score) - 6 votes