Deel die artikel met jou vriende:

In ‘n vorige artikel – Verstommende Hommeltuie – het ons gespekuleer oor die aanwending van hommeltuie as outonome aflewerings- en passasiersvervoer in stede. Die ink op daardie artikel was skaars droog of Airbus kondig aan dat ‘n volskaalprototipe van die die Airbus Vahana vliegtuig op 31 Januarie 2018 in die stad Pendleton, in die VSA-staat Oregon, ‘n suksesvolle eerste vlug onderneem het. Die naam Vahana is ontleen aan die Hindu-mitologie wat letterlik beteken: dit wat dra of dit wat trek en dui op iets, gewoonlik ‘n dier of mitiese entiteit wat deur ‘n Hindu-godheid vir vervoer gebruik is.

Die tuig wat as die Alpha Een bekend staan, dit wil sê, ‘n baie vroeë prototipe, het ‘n hoogte van 5-meter bereik voordat dit neergedaal en veilig geland het. Die eerste toetsvlug het ‘n hele 53 sekondes geduur en was onder ten volle outomatiese self-vliegbeheer. As ons in gedagte hou wat die vermoeëns van die kleiner hommeltuie en kwadrokopters is, kan ons sien dat die toepassing van hierdie beginsels vir groter vliegtuie nie bloot net ‘n skaleringsoefening is nie. ‘n Tweede vlug is die volgende dag onderneem in die teenwoordigheid van die hele Vahana-projekspan, verteenwoordigers van die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) en die A3 besigheidsleierskap.

Die oogmerk met die Vahana-ontwikkeling is om ‘n elektriese, enkelpassasier, vertikale-opstyg-en-land (VTOL) vliegtuig, wat onder outomatiese self-vliegbeheer opereer, te ontwerp en te bou ten einde die groeiende behoefte aan meer effektiewe stedelike vervoer aan te spreek. ‘n Verdere oogmerk en doelwit was om persoonlike vlugte vir die individu meer toeganklik te maak deur die benutting van die nuuste beskikbare tegnologieë in elektriese aandrywing, die stoor van elektriese energie en die vermoë van masjiene om sig en visie te kan hê. Na twee jaar se beplanning en implementering van idees kon die projekspan ‘n ambisieuse konsepontwerp demonstreer sonder om kwaliteit of veiligheid in te boet. ’n Aanvanklike skets van die konsep-ontwerp op ‘n servet het gevorder tot ‘n volskaalse prototipe wat gereed was vir eerste vlugtoetse!

Wat die toekoms betref, be-oog die projekspan om ná die pas afgelope vlugtoetse met ontwikkeling voort te gaan, met gevolglike vlugtoetse in terme van vlugprofiel-oorgange en die uitdagings rondom voorwaartse vlug.

Die spesifikasies van die eerste Vahana toetsvliegtuig is as volg:

  • Wydte:                 6.2 m
  • Lengte:                 5.7 m
  • Hoogte:                2.8 m
  • Opstyggewig:    745 kg

A3 en die Vahana projekspan is nie die enigstes in die Airbus-groep wat dink oor stedelike lugvervoer nie. Tesame met Italdesign het Airbus ‘n konseptuele ontwerp die lig laat sien van ‘n modulêre stelsel om multi-modus stedelike vervoer te bewerkstellig vir gebruik op die grond sowel as in die lug. Die sogenaamde Pop.Up is op die 87ste Geneefse Internasionale Motorskou in 2017 bekendgestel as die eerste modulêre en ten volle elektriese voertuigkonsep wat ontwerp is om verkeersopeenhopings in digbevolkte megastede te verlig. Hierdie stelsel bestaan uit drie skeibare modules, te wete ‘n passasiershuls (passenger pod), ‘n module met wiele vir gebruik as grondvoertuig en ‘n kwadrokopter wat aan die bokant van die passasiershuls kan heg vir lugvervoer. Die volgende ingebedde video gee ‘n baie realistiese uitbeelding van die Pop.Up-konsep.

 Erkennings:

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————-

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.33 avg. rating (86% score) - 3 votes