Deel die artikel met jou vriende:

Gedurende die laaste dekade het die snelle vooruitgang in inligtingstegnologie ook ‘n massiewe impak gehad op dit wat ons vandag hommeltuie noem. Hierdie hommeltuie, van alle groottes en ook gebruike, raak ‘n al hoe meer algemene gesig. Wydverspreide beskikbaarheid van hommeltuie, goedkoper aankooppryse, fotografiese aanwendings en die gemak waarmee selfs leke hommeltuie kan vlieg, veroorsaak dat die hommeltuigmark teen ‘n ongekende tempo groei.

Te midde van die vermeerdering van – wat blyk onskuldige klein vliegmasjientjies te wees – is daar in terme van verskeie aangeleenthede ‘n werklike en beduidende gevaar verskuil. Hieronder tel beskerming van privaatheid en die potensiële gevaar wat dit vir die veligheid van tradisionele bemande vliegtuie ingehou word. Internasionaal reageer regerings verskillend op die verskynsel van hommeltuie – sommige baie liberaal en ander weer uiters konserwatief.

Internasionale hommeltuig-wetgewingstendense

Op die internasionale vlak het verskillende regerings, tot so lank terug as 2014, elk ‘n eiesoortige benadering begin volg. Dit was egter eers tussen 2015 en 2017 dat verskillende lande regtig begin het om wetgewing in alle erns in werking te stel rakende die gebruik en aanwending van hommeltuie.

Party lande het eenvoudig die gebruik van hommeltuie verban terwyl ander weer eiesoortige reëls ingestel het ten einde die toevloei in hommeltuie te probeer reguleer. Meeste lande was slegs in  ‘n mate suksesvol ongeag watter benadering hulle ookal gevolg het.

Die Internasionale Burgerlugvaart-organisasie (ICAO), waarvan meeste lande lid is en wat alles ten opsigte van burgerlugvaart in terme van ‘n internasionale standaarde reguleer, het in 2014 ‘n breë stel standaarde daar gestel waaraan lidlande moes voldoen.

Hierdie standaard was baie breedvoerig en lande was in die meeste gevalle op hulle eie aangewese om binne hulle eie konteks wetgewing daar te stel – met slegs ‘n baie yl inset van die ICAO.

In die afgelope 2 jaar egter, was die internasionale tendens om, tesame met privaat belangegroepe en met meer aktiewe deelname van regerings, die internasionale standaarde te verbreed en in meer detail te definieer.

Suid-Afrika as deel van die Internasionale Burgerlugvaart-organisasie

Suid-Afrika is ‘n lid van ICAO en roem daarop dat die Suid Afrikaanse Burgerlugvaart-owerheid streng binne ICAO-riglyne bly. Dit het egter nie baie gehelp om die proses te vergemaklik nie. Verder is daar erge tekortkominge in terme van die toepassing van reëls.

Die Suid-Afrikaanse wetgewings- en reguleringsprosesse rakende hommeltuie

Suid-Afrika het op 1 Julie 2015 die wetgewing wat hommeltuie reguleer, bekragtig. Hierdie wetgewing word vervat in Gedeelte 101 van die Wet op Burgerlugvaart, en word gelees in samehang met ander bestaande standaarde van Burgerlugvaart en die Departement van Vervoer.

Die prosesse wat uiting gee aan die wetgewing is vervat in ‘n stel tegniese en operasionele standaarde wat spesifiek vir hommeltuie daargestel is. Ingevolge dié wetgewing word geweldig baie beperkings op die gebruik van hommeltuig geplaas en gevolglik is die toetredingsplafon vir veral kommersiële gebruikers, baie hoog.

Uitdagings rondom die reguleringsproses

  • Onvoldoende opgeleide personeel om die aansoeke vir lisensies vir kommersiële gebruik binne ‘n redelike tyd te verwerk.
  • Burokratiese prosesse vir regulering van algemene en baie klein hommeltuie wat te intensief is en wat met baie beslommernis gepaard gaan.
  • Ongelykhede – die kommersiële verbruiker van ‘n hommeltuig wat veeldoelig is (maw wat beide in privaat of kommersiële omstandighede gebruik kan word), gaan gebuk onder baie strenger beheer as die privaatgebruiker wat dieselfde tipe hommeltuig gebruik.
  • Die gebrek aan bewusmaking van die publiek ten aansien van die verskille tussen private gebruik en kommersiële gebruik.
  • Die afwesigheid van wetstoepassers om oortreders te vervolg.

Die toekoms in terme van regulering en tegnologiese ontwikkeling

Reguleringsowerhede vind dit bykans onmoontlik om die regulasies te laat tred hou met die tempo van tegnologiese ontwikkeling en is derhalwe traag om te veel vryheid toe te staan in terme van die gebruik van hommeltuie.

Op die internasionale vlak begin regerings meer te fokus op die regulasies wat die integrasie van hommeltuie in tradisionele bemande lugvaart terreine fasiliteer, terwyl privaat gebruik meer en meer as riskio in terme van orde en veiligheid gesien word.  Stappe word daarom geneem om privaatgebruik te beperk en beter te reguleer.

Gevolgtrekking

Die snelle tempo van hommeltuigvermenigvuldiging asook die tempo waarteen tegnologie ontwikkeling plaasvind, kompliseer die reguleringsomgewing. Die wetgewing is ingewikkeld en deurspek van teenstrydighede veral ten opsigte van die prosessering van lisensies. Dan is daar ook nog onvoldoende wetstoepassing. Owerhede is egter besig om te begin om strenger in hierdie sektor teenoor wetsoortreders op te tree en daarom is dit noodsaaklik dat mense hulself sal vergewis wat die moets en moenies van hommeltuigwetgewing is, alvorens hulle dié arena betree.

Kom luister gratis na Tom Kruger se aanbieding, “Hommeltuig-regulasies en -wetgewing”, tydens Sakeliga KragDag 2019 op Donderdag 8 Augustus tussen 13:30 en 14:05 in die Raadsaal op die KragDagterrein.

5.00 avg. rating (94% score) - 2 votes