Deel die artikel met jou vriende:

Wanneer jy meer tyd as gewoonlik op hande het, is dit dalk ’n goeie idee om daardie ekstra beskikbare ure wys te gebruik. Een só ’n manier is om jou kennis en vaardighede op te knap deur aanlyn te studeer. Dit beste van alles is dit hoef jou nie ’n sent te kos nie (wanneer daar wél betaling ter sprake is, is die pryse gewoonlik billik). Jy kan in die gerief van jou huis en teen jou eie tempo baie interessante en leersame kursusse aanpak. Nie al die kursusse is geakkrediteerd nie, maar dit kan steeds dien as bewys dat jy wel ’n lewendige belangstelling in jou gekose veld het en op hoogte bly van die nuutste verwikkelinge. Gaan kuier gerus op die onderstaande webwerwe en vergewis jouself van die duisende kursusse wat beskikbaar is.

 

Udemy

Udemy, die voorste globale platform vir leer en onderrig, help miljoene studente om hulle vaardighede op te knap en spog met meer as 150 000 aanlyn kursusse, 57 000 instrukteurs en ’n allemintige 295 miljoen inskrywings in die onderskeie kursusse. Die video kursusse bevat sowat 33 miljoen minute se inhoud in meer as 65 tale. Volgens hulle webtuiste vertrou meer as 80% van Fortune 100 maatskappye Udemy om hulle werkers se vaardighede te verbeter.

Suid-Afrikaners kan gerieflik in rande betaal vir kursusse waarvoor betaling vereis word. Daar is egter heelwat gratis kursusse om van te kies en keur. Dis ’n goeie idee om die webwerf gereeld te besoek aangesien die pryse soms drasties kan val wanneer dit as winskopies voorgehou word.

Gaan loer gerus na die vele interessante kursusse, soos bv. hierdie een oor hidroponika wat jou leer hoe om ’n kommersieel suksesvolle hidroponiese eenheid in jou tuin of op jou plaas op te rig.

Futurelearn

Futurelearn, ’n privaat maatskappy wat gesamentlik besit word deur The Open University en The SEEK Group, werk saam met honderde vennote (ook universiteite en kulturele instansies) vanoor die wêreld om ’n wye verskeidenheid kursusse aanlyn aan te bied. Daar word wel van jou verwag om take in te handig en toetse af te lê sou jy ’n sertifikaat wou ontvang indien jy daarvoor kwalifiseer. Dit is gratis om die meerderheid kursusse te doen, maar sommige vereis wel betaling sou jy ekstra voordele wou ontsluit of dan nou ’n sertifikaat wou hê.

Besoek gerus die webwerf en verlustig jou in al die kursusse. Hierdie baie leersame kursus oor hoe om voedselproduksie te verhoog het my oog gevang.

Alison

Alison, een van die grootste aanlyn leerplatforms vir opvoeding en vaardigheidopleiding, bied tans 1 506 aanlyn kursusse aan vir sowat 14 miljoen studente afkomstig vanaf 195 lande. Die kursusse (sommige tot op diplomavlak) is gratis, maar jy moet 80% of meer behaal in die assesserings om die kursusse te slaag. Jy kan ’n rekord van jou uitslae aflaai as bewys dat jy die kursus gedoen het, maar sou jy ’n sertifikaat of diploma wou hê moet jy daarvoor betaal.

Daar het al byna 9 000 studente ingeskryf vir die gratis kursus in Maintaining and Servicing Home Appliances.

Doen gerus jou eie navorsing oor die hordes aanlyn kursusse wat beskikbaar is. Hier volg ’n paar skakels waar jy kan gaan rondsnuffel op soek na gratis onderrig. Onthou, kennis is mag!

https://opportunitiescorners.info/

https://www.saylor.org/

https://thegymnasium.com/

http://www.openculture.com/freeonlinecourses

http://www.cilt.uct.ac.za/cilt/moocs-uct

https://www.coursera.org/