Deel die artikel met jou vriende:

In vandag se ekonomiese omstandighede is daar baie min mense wat ‘n nuwe voertuig kan bekostig. Daarom is meeste mense vandag daarop aangewese om vir hulle ‘n gebruikte voertuig aan te skaf. Maar, dit is ‘n feit soos ‘n koei – om ‘n gebruikte voertuig te koop, kan soms met onaangename verrassings gepaard gaan. Dikwels kom die ware toestand van ‘n voertuig eers aan die lig nadat die koop gedoen is. Hou in gedagte dat daar altyd ná die aanskaf van ‘n gebruikte voertuig bykomende kostes sal wees, al is dit net ‘n goeie diens om seker te maak dat die voertuig in die beste moontlike toestand sal wees.

Die aankoop van ‘n voertuig begin by die huis. Doen die nodige huiswerk en verminder jou moontlike voertuigopsies om sodoende ‘n beter keuse uit te oefen. As jy nie vooraf presies weet waarna jy soek nie, gaan ‘n slim verkoopsman met ‘n gladde tong die keuse vir jou doen.

Wat moet ek doen en na kyk voordat ek ‘n voertuig koop?

  1. Besluit op ‘n spesifieke fabrikaat, model en jaarmodel. ‘n Internetsoektog kan vir jou ‘n goeie idee gee wat tans in die mark beskikbaar is.
  2. Besluit wat jy kan bekostig. Gaan jy kontant of op skuld koop? Indien op skuld, wat sal die maandelikse paaiement op die bedrag wees wat jy wil spandeer. Reken ook die maandelikse versekeringspremie en ander kostes in.
  3. Is jy bereid om die aanbevole verkoopsprys (boekieprys) of die inruilprys van ‘n huidige eienaar te betaal? As jy bereid is om die boekiewaarde te betaal is ‘n motorhandelaar na my mening ‘n beter keuse. Dikwels sal jy daarmee saam vir ‘n kort tydjie ook ‘n waarborg op die voertuig kry. As jy egter minder wil betaal kan jy ‘n private koop, vendusie of ‘n bank-teruggeneemde voertuig oorweeg. Onthou dat laasgenoemde manier baie meer risiko’s inhou.
  4. Wat is jou kleurvoorkeur? Daar is byvoorbeeld bewys dat geel die veiligste kleur is omdat ander motoriste jou die maklikste raaksien, terwyl rooi ‘n riskante kleur is omdat statistieke wys dat mense meer neig om in rooi voertuie vas te ry. Watter kleur pas by jou persoonlikheid en lewenstyl?
  5. Hoe ekonomies is die voertuig se brandstofverbruik? ‘n Voertuig wat op diesel loop, is gewoonlik goedkoper per kilometer, maar kos dikwels duurder om reg te maak as daar iets sou breek.
  6. Hoeveel kilometers het die voertuig al gedoen? Onthou dat sommige voertuie se odometer slaan oor na 0km ná 99 999km en ander eers ná 999 999km. Die probleem is dat die odometer met ‘n korter reikafstand meer as een keer kon oorgeslaan het en jy nie weet hoeveel kilometers die motor werklik gedoen het nie.
  7. Watter fabrikaat koop ek? Moenie ‘n onbekende of vreemde fabrikaat koop nie. Besluit liewer op ‘n bekende fabrikaat en model wat homself al oortuigend bewys het. Gebruik die internet om opinies, menings en statistieke van verskillende fabrikate en modelle na te vors. Daar is gereeld inligting beskikbaar oor voertuie se betroubaarheid, loopkostes, onderhoudskostes, ens.
  8. Kan my nuwe aankoop geredelik gediens word? Waar kan ek my voertuig laat diens? Vind ook eers uit wat die betrokke voertuig se diensonderdele kos. Party voertuie se onderdele is amper duurder as wat die voertuig self werd is.
  9. Onthou ‘n gebruikte voertuig kan nie altyd soos ‘n nuwe voertuig op bestelling gekoop word nie. Daarom moet jy besluit watter van bogenoemde faktore vir jou die belangrikste is. Jy moet dalk kies tussen ‘n voertuig met lae brandstofverbruik of een wat jou gunsteling kleur is. Wat sal vir jou die belangrikste wees?

Waarna moet ek oplet as ek na my droomkar kyk?

  1. Maak seker dat die registrasiedokumentasie van die voertuig wat jy wil koop in orde is – al koop jy by ‘n motorhandelaar. Kyk ook of die voertuig ‘n Kode 2-voertuig, dws ‘n gebruikte voertuig is. “n Kode 3-voertuig is gewoonlik ‘n herboude voertuig wat op ‘n stadium gederegistreer was. Hierdie voertuie was moontlik in ‘n groot ongeluk, het minder waarde en daar is meer risiko aan verbonde om so ‘n voertuig aan te skaf. Dit is ook sinvol om die voertuig se besonderhede soos die VIN nommer en enjinnommer by die lisensiekantore te gaan kontroleer vir diefstal, ens. alvorens tot koop oorgegaan word.
  2. Is die lisensiegeld tot op datum betaal? Indien nie, kan dit baie onnodige frustrasies meebring as jy die agterstallige lisensiegelde moet betaal of as die voertuig dalk reeds weens wanbetaling van die register geskrap is.
  3. Gaan die voertuig se diensrekord na:
    • Is die vervaardiger se voorgeskrewe dienste op datum gedoen?
    • Was daar enige groot herstelwerk aan die voertuig gedoen?
  4. Hoe ‘n voertuig se buitekant daar uitsien, kan reeds baie vertel hoe hy opgepas (of verniel) is:
    • Is daar duike of krappe aan die voertuig?
    • Hoe lyk die verfwerk? Dop dit op plekke af? Is daar ‘n skakeringverskil wat op moontlike herverf in die verlede dui?
    • Hoe lyk die ligte?
    • Hoe lyk die rubbers om die vensters en spieëls?
    • In watter toestand is die bande? Nuwe bande kan ‘n groot uitgawe vir ‘n nuwe eienaar wees.
    • Gee die voertuig ‘n stewige of ‘n ledelam indruk?
  5. Hoe lyk die motor aan die binnekant?
    • Is al die skakelaars en knoppies daar en in ‘n werkende toestand?
    • Hoe lyk die bekleedsel?
    • Is die kar binne skoon en goed in stand gehou?
    • Hoe lyk die rubbers op die voertuig se pedale. Is dit al baie afgewerk?
  6. Die motor se kattebak vertel baie van die motor se geskiedenis. ‘n Netjiese kattebak dui gewoonlik daarop dat vorige eienaars die voertuig opgepas het en nie misbruik het nie.
  7. Kyk deeglik na die toestand van die bakwerk:
    • Maak al die deure, kattebak en enjinkap maklik oop en toe?
    • Maak die ruite glad oop en toe?
    • Rol onder die voertuig in en kyk of daar stampe of duike aan die onderstel is.
    • Sien jy olie of taai kolle aan die onderkant van die voertuig?
  8. Kyk na die motor se enjin:
    • Is die olie skoon of is dit vuil en taai?
    • Is die bedrading in die enjinruimte netjies?
    • Lyk die battery goed versorg?
    • Luier die enjin egalig en gelykmatig? ‘n Gekets, gefluit of enige ander vreemde geluid kan op groot moeilikheid dui.
    • Kyk ook na die agterend van die uitlaatstelsel. Is die olierig of mooi skoon gebrand?
  9. Ry ‘n end met die voertuig:
    • Voel die voertuig vas op die pad?
    • Is daar enige ongewenste geraas?
    • Rem die voertuig gelykmatig en veilig?
    • Verwissel die ratte glad en maklik?
    • Brand al die liggies op die paneelbord wanneer die voertuig aangeskakel word?
    • Gaan al die liggies af wanneer die enjin begin loop?
    • Bly die temperatuur van die enjin konstant binne ‘n aanvaarbare hitte?
  10. Die sleutels is ook belangrik. Is daar duplikaatsleutels of nie? Werk al die knoppies op die sleutel self?

As ek eers begin gesels oor dinge om na op te let by ‘n tweedehandse voertuig, is dit moeilik om my stil te kry. Daar ‘n so baie fynere puntjies wat ek nie eers hierbo genoem het nie. Soos wat jy ‘n goeie verhouding met jou dokter, apteker, slagter, kruidenier, finansiële beplanner en andere handhaaf doen ook so met jou motorwerktuigkundige. Dit is die persoon wat na een van jou baie groot bates omsien. Gesels met hom oor jou voorneme vir ‘n nuwe voertuig en vra sy raad en mening.

Sterkte met die aankoop van jou volgende gebruikte voertuig. Om ‘n veilige aankoop te doen verg oplettendheid en ‘n baie sistematiese benadering – om nie eers te praat van heelwat wysheid nie!

Skrywer: Pieter Vorster, Pieter Vorster Motorwerke, 083 316 9332

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes