Deel die artikel met jou vriende:

Die vermoë om te beweeg is ‘n baie belangrike aspek van ons lewe. Vra maar vir enige persoon wat ‘n verlamming van een of meer ledemate opgedoen het!

Alreeds in die baarmoeder is beweging noodsaaklik vir die normale ontwikkeling van die baba se bene, gewrigte en werwelkolom. Dit is ook algemene kennis dat ontwikkeling van die brein by babas en jong kinders bevoordeel word deur omgewingstimulasie van al die sintuie, asook die praktiese uitvoer en inoefen van bewegings. Dit versterk die basiese verbindings tussen die betrokke senuwees, laat nuwe verbindings vorm en vestig dit permanent, indien daar genoeg herhaling is.  Daar is dan ook vensterperiodes in die kind se ontwikkeling wanneer hierdie vaslegging optimaal kan plaasvind, maar die geleentheid gaan darem nie heeltemal verby as dit nie dadelik benut word nie. So is die ideale tyd vir groot motoriese ontwikkeling verkieslik voor ouderdom 5 jaar en dié vir fyn motories tot ongeveer 9 jaar. Hierdie is dan ook twee bekende aspekte wat geëvalueer word om kinders te toets vir skoolgereedheid en wat op ‘n sekere standaard moet wees vir die kinders om by skoolverwante aktiwiteite aan te pas. Indien daar ‘n agterstand is moet ‘n arbeidsterapeut of biokinetikus se hulp ingeroep word.

Maar watter rol speel beweging in die welsyn van die volwassene, veral  ouer ouderdomsgroepe? Moderne mense het ‘n sittende lewenswyse ontwikkel en behoort bewuste pogings aan te wend om bewegingsmoontlikhede in hul lewe in te beplan. Hoekom?

  • Beweeg om soepelheid te behou: Gewrigte en spiere wat nie gebruik word en soepel gehou word nie, verloor ten dele hul funksie oor ‘n tydperk. Bewegings word dan al moeiliker, stywer, swakker en swaarder of… selfs pynlik.
  • Spierkrag: Die ontwikkeling van spiere en die vermoë om gewigte op te tel, is afhanklik van die herhaalde gebruik van daardie spiere. Voorwerpe met ‘n toepaslike gewig moet opgetel word ten einde spierfunksie te behou.
  • Hartgesondheid en bloedsirkulasie: Liggaamsbewegings en oefening het ‘n direkte invloed op hartfunksie en hartspoed asook die terugvoer van bloed vanaf die ledemate na die hart. Bloed is natuurlik die draer van suurstof, voedingstowwe en hormone na die hele liggaam wat belangrik is vir alle liggaamsfunksies.
  • Meer effektiewe asemhaling: Dieper asemhaling met verhoogde longkapasiteit en beter gebruik van asemhalingspiere vind plaas tydens oefening, maar selfs ook tydens net aktiewe bewegings. Saam met die bloedsirkulasie speel dit ‘n rol om beter suurstofvoorsiening aan al die liggaamselle te besorg wat beter funksionering en herstelvermoë verseker.
  • Bevorder beendigtheid: Weerstands- en gewigdraende oefening soos selfs net stap, stimuleer die opbou van been en werk osteoporose teë, wat by ouer mense,veral skraalgeboude vroue, ‘n groot oorsaak van pyn en beenbreuke is.
  • Verhoog energievlakke: ‘n Sittende lewenswyse lei dikwels tot verdere passiwiteit en klagtes van moegheid. Sodra daaglikse beweging en ‘n meer aktiewe lewensstyl in werking gestel word, kan energievlakke verbeter.
  • Beter liggaamshouding, balans en koördinasie: Veral as ons ouer word, speel dit ‘n belangrike rol by die voorkoming van val, wat lei tot frakture en ander beserings met chroniese pyn, algemene agteruitgang van gesondheid en verlies aan selfstandigheid ‘n gevolg.
  • Verbeter slaapkwaliteit: Aërobiese oefening het ‘n positiewe invloed op slaapkwaliteit en verkort inslaap-tyd, moontlik as gevolg van verminderde angstigheid asook die verhoging in liggaamstemperatuur wat areas in die brein sneller om inslaap te bevorder.
  • Bevorder handhawing van gesonde liggaamsgewig: Veral weerstandsoefening bevorder die ontwikkeling van spiermassa, wat bydra tot die verhoging van die BMS (basale metaboliese spoed). Dit is die aantal kalorieë wat die liggaam in rus gebruik vir basiese fisiologiese funksies. Die oefening werk ook die verlaging van BMS teë wat volg ná gewigsverlies.
  • Verbetering in gemoed en streshantering: Tydens oefening word endorfiene afgeskei wat die liggaam se eie “goedvoel”-breinoordragstowwe is en wat stres en lae gemoedstoestande teëwerk. Strekbewegings verlig spierspanning, wat gepaard gaan met spanning en angstigheid. Wanneer gekonsentreer moet word op liggaamsbewegings soos bv. dans of ander sportsoorte, word die fokus verplaas weg van die stresveroorsakende omgewing en daar is ook gevind dat gereelde bewegingsaktiwiteite ‘n positiewe invloed op matige depressie het.
  • Verbeter spysvertering: Hoewel vertering self beter plaasvind tydens rus, word die beweging van reste deur die dermkanaal wel versnel deur liggaamsbeweging, met verkorte dermdeurgangtyd en verminderde heropname van water en gifstowwe uit die dikderm. Dit werk dus hardlywigheid teë wat ‘n groot bron van ongerief en pyn is en bydraend tot verskillende siektetoestande kan wees.
  • Verbeterde immuunstelsel: Dit is bewys dat matige oefening die sirkulerende witbloedselle, wat dikwels die eerste linie van verdediging in die liggaam is, verhoog. Beweging het ook verbeterde limfdreinasie tot gevolg, met verhoogde afvoer van tussen-sel vloeistowwe en afvalstowwe deur die limfstelsel na die bloedvatstelsel.
  • Werk veroudering teen: Al bogenoemde kan ‘n verstadigende effek hê ten opsigte van veroudering. Daar is bewys dat oefening, veral die gereelde aanleer van nuwe roetines soos danspassies, die vorming van nuwe verbindings in die hippokampusgedeelte van die brein stimuleer, die geheue verbeter en die ontwikkeling van Alzheimers verstadig.

Beweging kan dus ‘n belangrike rol speel in die voorkoming en verbetering van vele toestande wat gekoppel word aan ons lewenswyse, maar ook aan ‘n ouerwordende bevolking. Ons almal stem seker saam dat lewenswyse, omgewing en sosiale faktore ons bewegingsmoontlikhede beïnvloed. Almal van ons wil egter vir ons basiese versorging, so lank as moontlik onafhanklik van ander bly. Daarvoor moet ons sekere bewegings kan uitvoer.

“Dink aan beweging as medisyne – gratis medisyne met amper geen newe-effekte nie” sê Dr Kevin O’Neal.

Beweging is egter nie noodwendig gelyk aan oefening nie en mens kan aan die beweeg bly sonder om by ‘n gimnasium aan te sluit! Die moontlikhede is legio, maar ons kyk net na ‘n paar maniere om beweging deel van jou daaglikse lewe te maak.

  • Skaf ‘n wiegstoel aan. Met wiegbewegings word die spiere wat balans handhaaf heeltyd geaktiveer, terwyl die brein gestimuleer word om geheue en leervermoë te verbeter. Dit het ook ‘n kalmerende effek wat stres en angstigheid verlig. Mens kan wieg terwyl jy TV kyk, lees gesels of handwerkies doen ook.
  • Doen soveel as moontlik van jou eie huiswerk self. Vee, afstof en wegpak of wasgoed-ophang behels funksionele strek-, buig- en optelbewegings wat jy kan doen terwyl jy sommer radio of musiek luister wat nog meer stimulasie inbou en dit boonop genotvol maak.
  • Tuinwerk kan jou ook op ander maniere bevoordeel met vars lug, sonlig, ‘n mooi tuin of vars groente.
  • Klim trappe eerder as om hysbak te ry.
  • Gebruik geleenthede om te loop in plaas van om te ry, al is dit net om verder van die winkelingang af te parkeer – mits dit natuurlik veilg is!
  • Gaan stap as gesin met die honde in veilige areas of begin ‘n stapgroep. Om dan nog ‘n rolstoel of waentjie te stoot, bied nog meer voordele indat die kleinding of bejaarde/gestremde deel in die gemeensaamheid.
  • Speel bal- of jaagspeletjies met die honde of kinders (of kleinkinders).
  • Kry ‘n trampolien, al is dit ook ‘n kleintjie. Dit bevorder veral limfatiese dreinering, energie, “goedvoel”-hormone, spierkrag en gee die immuunstelsel ’n hupstoot.
  • Sluit aan by ‘n dansklas. Dans het blykbaar baie voordele bo en behalwe die ooglopende fiksheid en spiervoordele. Die gereelde aanleer van nuwe passies en roetines is glo bewys om veroudering teë te werk en het selfs verstadiging in dementiese verandering tot gevolg.

Hierdie is net ‘n paar gedagtes om u aan die dink en beweeg te sit. Maak dit prettig!

Oefening is opsioneel; beweging is essensieël.  – Ben Medder

Erkenning:

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes