Deel die artikel met jou vriende:

Tydens ‘n mediabekendstelling op 14 Maart het AfriSake en KragDag aangekondig dat AfriSake die hoofborg is van vanjaar se ekspo. Die ekspo sal gevolglik vanjaar bekend staan as AfriSake KragDag 2018.

KragDag is opgewonde oor AfriSake se toetrede as hoofborg van die KragDag 2018 ekspo. Selfstandigheid, vryheid, entrepreneurskap en kreatiwiteit is van die hoofwaardes wat onderliggend is aan KragDag se doen-jou-eie-ding leuse. Die beste manier om die vooruitgang en voorspoed van almal in ‘n gemeenskap te bevorder is om vir mense vryheid te gee om hulle inisiatief uit te oefen. Van die belangrikste grondbeginsels van vryheid is private eiendomsbesit en ‘n ware vrye mark.

Waar AfriSake onder andere as openbare vryheids”aktivis” hom beywer vir die belang van sakeondernemings en ‘n vrye mark en dus ook van die breë ekonomie, fokus KragDag op aanmoediging en toerusting van mense om self verantwoordelikheid te neem vir hulle lewe en sodoende met eie inisiatief hulle selfstandigheid uit te brei, terwyl dit ter gelykertyd wegkalwe aan die bronne en motivering wat die staat aanwend om mense se gedagtes en lewens te dikteer.

AfriSake se skep van ‘n ruimte van veral ekonomiese vryheid (ons kan dit ook in ‘n figuurlike sin grondbeskerming noem) en KragDag se aanmoediging van gesinne om reeds ‘n vryheidslewe te voer (reeds grond te breek), bied ‘n uitstekende pas vir samewerking om gemeenskaplike waardes te bevorder.

Teen bogenoemde agtergrond en in die lig van die huidige omstandighede in die land is besluit op die volgende tema vir vanjaar se ekspo: “Grondslag vir Selfstandigheid!”

****

Kragdag wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om vir Solidariteit te bedank vir die vorige drie jaar wat hulle die hoofborg van die KragDag ekspo was en die ondersteuning wat KragDag steeds van hulle ontvang.

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote