Deel die artikel met jou vriende:

Kriptogeldeenhede is deesdae baie in die nuus. Om die braaivleisvure, by die werk praat almal oor hierdie geldeenhede se ongekende prysstygings, maar ook oor hulle geweldige volatiliteit. In 2017 het ‘n virtuele geldeenheid genaamd Ripple (of XRP op aanlyn “exchanges”) se prys vermeerder met min of meer 38 000%. Ripple is een van honderde nuwe eenhede wat ongelooflike groei ervaar het in 2017. Alhoewel Ripple indrukwekkend baie gegroei het, is daar steeds ander eenhede soos Einsteinium wat meer as 170 000% gedurende die jaar gegroei het. Maar wat is ‘n kriptogeldeenheid? En wat presies gaan met die prys gebeur in die volgende dekade? Sou enige iemand die antwoord op hierdie laaste vraag hê, stuur gerus vir my ‘n e-pos met julle inligting! Hopelik kan ek so bietjie die lig laat skyn op die ingewikkelde wêreld van kriptogeldeenhede.

Kriptogeldeenhede het ontstaan uit ‘n stelsel met die naam Bitcoin wat in 2009 aangekondig is deur ‘n persoon of persone onder die naam van Satoshi Nakamoto. Nakamoto het in 2008 ‘n dokument gepubliseer genaamd; “Bitcoin: A Peer-to-Peer Electronic Cash System” en het ‘n stelsel beskryf wat derdepartybeheer om transaksies moontlik te maak, onnodig gemaak het. Hierdie transaksies is baie soos waaraan ons reeds gewoond is wanneer kliënte van tradisionele banke elektroniese transaksies vanuit hulle bankrekenings doen. In die Bitcoin opset word die rekening ‘n beursie (wallet) genoem, wat ‘n sekere balans in Bitcoins het en waaruit jy geld na ander beursies kan oorplaas. Sodoende word die balans in jou eie, en in ‘n ander beursie, waarmee jy die transaksie doen, dienooreenkomstig verander sonder die tussenwerking van ‘n derde party soos ‘n byvoorbeeld ‘n bank.

In die verlede sou hierdie transaksies gehanteer word op verskillende maniere afgehangde van die soort transaksie. Ons het gevorder van eenvoudige ruilhandel, na munte, toe note, toe tjeks, daarna kaarte, en uiteindelik digitale stelsels wat ontwikkel is om geld oor te plaas deur middel van ons rekenaars of selfone. Alhoewel die tegnologie verander het, het die beginsel waarop transaksies gedoen word min verander oor die jare. Nadat die mens wegbeweeg het van oorwegend ruilhandel, is daar banke en geldeenhede geskep wat deur derdepartye gereguleer is om ons transaksies te bestuur. Daar was baie voordele aan hierdie stelsel van geldwisseling verbonde, soos byvoorbeeld dat daar ‘n mate van vertroue en versekering was dat jou geld veilig is omdat ‘n mens nie alleen verantwoordelik is vir jou geldtransaksies nie. Aan die ander kant egter is die tradisionele bankstelsel duur, partymaal onbetroubaar, stadig, en ongelukkig, nie vry van manipulerende hande nie. Hierdie probleme eindig nie net by die banke nie – daar is nog vele meer kommerwekkende probleme in die moderne ekonomiese stelsels wat Bitcoin, en ander kriptogeldstelsels, ook mik om op te los.

Tot dusver verstaan ons dat Bitcoin, en ander kriptogeldstelsels, daarop gemik is om probleme met huidige geldstelsels, wat geldwaarde stoor en handel fasiliteer, op te los. Laat ons dan bietjie kyk na hoe hierdie kriptogeldstelsels werk. Die mees basiese funksies wat ‘n stelsel soos Bitcoin moet kan uitvoer is om waarde tussen persone te verwissel en waarde te stoor. Die eerste funksie is redelik eenvoudig en word in Bitcoin, en kriptogeld in die algemeen, gedoen deur middel van ‘n beursie – waaraan ‘n adres of kriptografiese publieke sleutel (public key) gekoppel is, tesame met ‘n verspreide netwerk van rekenaars wat die transaksies tussen verskillende beursies verifieer en ook nuwe kriptogeld ontgin of myn. Hierdie adresse wat aan beursies gekoppel is, word gegenereer deur ‘n kriptografiese proses. Elke rekenaar in die netwerk wat transaksies verifieer, word ‘n node genoem. Verskillende stappe bestaan in die kriptostelsel om transaksies te verifieer. Gewoonlik word die basiese inligting in ‘n transaksie getoets deur te bepaal of die transaksie deur ‘n geldige adres gestuur is. Hierna word die transaksie gemyn. Sodra die transaksie gemyn is, sal die fondse wat gestuur is sigbaar word in die beursie waarheen dit gestuur is.

Op hierdie punt wonder mens gewoonlik hoe myning of ontginning moontlik is op ‘n digitale stelsel. Ontginning op meeste kriptostelsels volg ‘n strategie wat genoem word Bewys-van-Werk (Proof of Work). Daar is twee oogmerke met ontginning van kriptogeld. Eerstens help dit om eenstemmigheid of konsensus te verseker tussen die verskillende ontginningsrekenaars. Eenstemmigheid is nodig om ‘n belangrike onderdeel van Bitcoin te onderhou – die sogenaamde blokstring (blockchain). ‘n Blokstring is ‘n reeks datablokke, bestaande uit die transaksies wat reeds op die netwerk plaas gevind het, en wat op elke ontginningsrekenaar, wat regoor die wêreld versprei is, gestoor word. ‘n Blok is ‘n versameling transaksies wat reeds geverifieer is deur ‘n node en dan “gemyn” word deur een van die duisende ontginningsrekenaars op die Bitcoin netwerk. Ontginning in hierdie geval verwys suiwer na die generering van ‘n adres ten einde die blok opspoorbaar te maak in die blokstring. Elke blok se adres bevat inligting oor die transaksies in die blok, inligting oor die adres van die vorige blok in die reeks, asook ander inligting waaronder die nonce die mees belangrike vir die ontginningsproses is.

Blokadresse is doelbewus so ontwerp dat dit moeilik is om te genereer. Die moeilikheidsgraad word deur ‘n wiskundige formule bepaal en is aanpasbaar ten einde te verseker dat daar, soos in die geval van Bitcoin, min of meer elke 10 minute ‘n nuwe blok by die blokstring gevoeg kan word. Ontginning is ongelukkig baie ingewikkeld en laat nie toe om dit in die bestek van ‘n kort artikel te verduidelik nie. Die tempo waarteen datablokke in die blokstring ingevoeg word is belangrik aangesien elke nuwe blok wat gemyn word ‘n sekere hoeveelheid nuwe geldeenhede in die stelsel invoer. Soos wat ek nou hierdie artikel skryf, word ‘n ontginningsrekenaar beloon met 12,5 nuwe Bitcoins indien die betrokke node eerste is om die korrekte adres te genereer. Hierdie beloning word  na elke 210,000 blokke wat gemyn is, gehalveer. So word verseker dat daar nooit meer as 21 miljoen Bitcoineenhede sal bestaan nie. Hierdie eienskap is belangrik omdat dit verhinder dat daar oneindig nuwe geld gedruk kan word waardeur die waarde van die kriptogeldeenheid vernietig kan word – ‘n algemene probleem met huidige ekonomiese stelsels!

In ‘n neutedop is kriptogeld, en spesifiek Bitcoin, ‘n geldeenheid wat nie bestuur word deur ‘n derdeparty nie, wat toelaat dat mense direk met mekaar handeldryf, wat inflasie inhibeer op ‘n stabiele manier, en wat transaksies op ‘n openbare blokstring kan verifieer op so ‘n wyse dat dit slegs met ongelooflike moeite en koste gemanipuleer kan word, maar verseker nie sonder dat die wêreld dit sal agterkom nie! Daar is moontlik ander kriptogeldstelsels wat ander voordele het wat Bitcoin nie het nie, maar al hierdie stelsels is moontlik gemaak deur Bitcoin wat die pad daarvoor voorberei het.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————-

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.00 avg. rating (80% score) - 5 votes