Deel die artikel met jou vriende:

Plaasgemeenskappe leef uiteraard in relatiewe afsondering en moet dus in ‘n groot mate selfversorgend wees … vandaar die gesegde: ”‘n boer maak ‘n plan”. Dit is dan ook die essensie van sukses in ‘n noodgeval,  veral wanneer dit spoedeisend van aard is. Om ‘n krisis uit die vuis uit te hanteer, is ‘n seker resep vir mislukking.

Om dus doelgerig en effektief in enige krisis te kan optree, vereis:

  • Kennis
  • Voorbereiding
  • Gereedskap
  • Ondersteuning

Kennis

Wat moet gedoen word om die krisis te hanteer? Ten opsigte van mediese nood, moet mens vertroud wees met:

  • Sekere lewensreddende stappe.
  • Watter noodmiddels moet dadelik beskikbaar wees.
  • Met wie kan geskakel word vir hulp.

Voorbereiding

Skaf ‘n noodtrommel met uitrusting aan, gaan die inhoud gereeld na en vervang gebruikte items.

Bepaal vooraf welke (privaat) hospitale binne een uur vanaf die plaasopstal bereikbaar is, verkry hulle kontakbesonderhede, bevestig of hulle op u mediese skema se “paneel” is, waar hulle presies geleë is, en wat die beste roete is om daar te kom.

Bepaal vooraf welke ambulansdienste u gebied bedien. Verkry ‘n bewese privaatmaatskappy en kry hulle telefoonnommers.

As jy nie reeds lid van ‘n mediese skema is nie, word dit ten sterkste aanbeveel dat jy wel lid word van ‘n mediese skema.

Wie is jou bure, en wat is hulle telefoonnommers en/of radioroepseine?

Hou ‘n boekie met alle noodnommers by en programmeer dit ook op jou selfoon.

Moenie op slegs een kontakopsie staatmaak nie.

Wat moet in jou noodtrommel wees?

  • 6 X 150 mm crepe verbande
  • 4 x 100mm crepe verbande
  • 2 x 100mm vierkantgaasverbandpakkie
  • 1 x rol Elastoplast 100mm
  • Doelgemaakte Toerniket
  • 1x pak wegdoenbare latex-handskoene
  • 2 x dik inspuitnaalde, nommer 10

Alle lede van die huishouding moet weet waar die noodtrommel is, die inhoud ken en kan aanwend.

‘n Self-saamgeflansde noodtrommel is sekerlik beter as niks, maar daar is ‘n reeks produkte beskikbaar wat spesifiek ontwerp is om onder slagveldomstandighede maklik aanwendbaar te wees en wat besonder effektief is. Die firma betrokke, MedDev in Centurion, is tans besig om ‘n reeks verskillende houers te produseer wat  van basies tot redelik gevorderd wissel. Die gedagte is om dit by die verskillende koöperasies beskikbaar te stel. Dit behoort, aan die hand van die aanvraag, eersdaags gereed te wees vir verspreiding. Individuele inhoudsitems is reeds beskikbaar. Dit word baie sterk aanbeveel dat daar in van hierdie produkte aangekoop word, want beter is daar nie te kry nie.

Wat behoort die algemene benadering te wees?

Lewensreddende aksies moet so spoedig moontlik ‘n aanvang neem, indien moontlik selfs terwyl daar nog met die aanvallers slaags is. Bly kalm en verhoed paniek, ten opsigte van jouself en ook die slagoffer, deur doelgerig op te tree.

Gelyktydig moet daar hulp ontbied word.

Prioriteit – Stop uitwendige sigbare bloeding!

Dit word gedoen deur met die plathand stewig op die bloeiende wond te druk en drukking vol te hou  terwyl die verbande bekom word.

Plaas ‘n dik (2cm) gaaspak op die wond, en wend ‘n 150mm crepe stewig daaroor.

Indien daar nog steeds redelike bloeding deur die verband sou plaasvind, wend ‘n tweede daaroor aan, terwyl steeds drukking met die plathand uitgeoefen word.

As dit nie die bloeding stop nie, moet die toerniket bokant (tussen die wond en die hart) STEWIG om die ledemaat aangewend word – ‘n effense toerniket sal slegs die are toedruk maar nie die slagare nie, met die gevolg dat die wond erger bloei. Wanneer bloeding ophou is die toerniket styf genoeg

Maak ‘n nota van die tyd wanneer die toerniket aangewend is.

Die tweede in hierdie reeks van artikels vervolg …

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 07/18. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.

 

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.00 avg. rating (66% score) - 3 votes