Deel die artikel met jou vriende:

In ‘n eerste deel van hierdie reeks van artikels is inleidend gekyk na die algemene voorbereiding wat nodig is vir ‘n noodsituasie, asook watter noodmiddele voorsiening voor gemaak moet word. Riglyne is ook gegee oor die belangrikste eerste stap in ‘n noodgeval, naamlik om uitwendige bloeding te stop. Vervolgens word na lewensreddende aksies in ‘n noodsituasie gekyk om inwendige bloedings te hanteer.

INWENDIGE BLOEDVERLIES

Alle penetrerende wonde (skiet- en steekwonde) het die potensiaal om inwendig in liggaamsholtes, of in die spiermassa van die ledemate, te bloei, alhoewel wonde in die spiermassa gewoonlik uitwendig bloei.

Die enigste manier om bloeding in die borskas of buik te beheer, is deur middel van ‘n oop operasie, en sulke pasiënte moet so spoedig moontlik by ‘n hospitaal kom.

Aanvaar dat alle borskas- en buikwonde wel inwendig bloei. Hou die pasiënt so rustig moontlik en plaas ‘n kombers oor hulle om liggaamshitte te bewaar.

Moet NIKS per mond ingee nie.

Pasiënte met buikwonde is gewoonlik die gemaklikste op die rug, met die knieë so 45 grade gebuig, terwyl dié met borskaswonde half-sittend die gemaklikste is.

Gesiggewondes wil dikwels half-vooroor sit – moenie aandring dat hulle plat lê nie, want dan stik hulle aan die bloed.

As die pasiënt se pols meer as 100 slae per minuut is, lig die bene tot 45 grade op.

Indien ‘n pasiënt met ‘n borskaswond, progressief erg kortasem begin raak, met ‘n vinnige flou pols van oor 120 en opgesette are sigbaar in die nek, is die kanse baie goed dat daar lug uit die beseerde long ontsnap en besig is om drukking in die borskas op te bou – soveel so dat die pasiënt sukkel om nog lug in te kry en dat die bloedvloei terug na die hart erg belemmer word.

Neem een van die dik naalde en steek dit reghoekig aan die kant van die besering, net een vinger breedte onder die middelpunt van die sleutelbeen in, tot ‘n diepte van 4-5cm – moenie prik-prik nie, vind die insteekplek en druk die naald met een beweging in – dit laat die lug ontsnap, soms met ‘n hoorbare gesis. Trek die staal binne-naald uit die plastiese skede, wat in posisie gelaat word. (Sien illustrasie hieronder)

Hierdie is lewensreddende ingreep!

‘n Minder algemene, maar ewe bedreigende toestand, is waar daar ‘n oop gat in die borskaswand, gewoonlik as gevolg van ‘n skietwond, ontstaan. Tydens in/uitaseming word lug nutteloos heen en weer deur die gat gesuig, en is die pasiënt besig om te versmoor, omdat daar nie lugbeweging in die longe is nie.

As noodmaatreël word die plathand oor die gat geplaas, opgelig wanneer UITASEM plaasvind en weer toegemaak met INASEM. Dit bewerkstellig ‘n soort van fladderklep wat met die asemteue ko-ordineer moet word.

Die gat moet nou so gou doenlik met die plastiekvel daarvoor ontwerp, afgeseël word deur die dun lagie wat die kleefkant bedek af te trek, die verband vierkantig oor die wond te plaas en vas te druk sodat dit aan die vel kleef – dit is nie nodig om die vel eers droog te maak nie, die verband klou self. Dit is so ontwerp dat lug kan ontsnap, maar nie ingesuig word nie.

Hierdie eenvoudige stap is ook lewensreddend!

ASEMNOOD

Snorkende, steunende of gorrelende asemhalimg, veral gepaard met kraaigeluide tydens inaseming, is tekens van gedeeltelike lugweg obstruksie. ‘n Bottoe lugweg laat geen lugbeweging toe nie en is letterlik doodstil.

Maak die mond/keel skoon van vreemde voorwerpe soos kunsgebit, braaksel en derglike meer.

Plaas jou vingerpunte agter die pasiënt se kaakhoek en “lig” die onderkaak na vore – dit trek die tong weg vanaf die agterverhemelte en is dikwels al wat nodig is om lugtoegang te bewerkstellig, maar moet dan volgehou word.

‘n Baie eenvoudige, maar effektiewe lugweg is beskikbaar, wat deur ‘n neusgat ingeryg word totdat die wyer rand teen die neus vleuel sit. Die rigting waarin die pyp ingesteek word is reguit agtertoe in die rigting van die pasiënt se agterkop en nie boontoe in die rigting van die voorkop nie. Die groot voordeel is dan dat die kakebeen nie ondersteun hoef te word nie en is jou hande vry om verdere stappe toe te pas. Indien nodig (met asemstilstand) kan mond tot neus asemhaling baie doeltreffend gedoen word.

As daar totale asemstilstand is, wat nie aan obstruksie te wyte is nie en by gebrek aan die neuspyp, moet gepoog word om deur middel van mond tot mond asemhaling die pasiënt te belug. Indien daar geen pols teenwoordig is nie gaan oor tot KPR (kardiopulmonêre resussitasie).

Plaas die pasiënt op die rug, lig onderkaak na vore, knyp pasiënt se neus toe, neem ‘n diep asemteug en met jou mond dig oor die pasiënt s’n, blaas die lug in sy mond in – kyk dat die pasiënt se borskas beweeg. Herhaal teen tempo van 15 keer per minuut, en hou dit vol totdat die pasiënt weer begin asem, of totdat hulp opdaag. Monitor die pols.

BEWUSTELOSE PASIËNTE

In die plaasaanval-scenario sal dit amper altyd wees as gevolg van ‘n hoofbesering, maar kan vanselfsprekend ook aan siekte soos ‘n beroerte te wyte wees – nie vergesog as mens in gedagte hou dat baie mense in ons boeregemeenskap alreeds bejaard is nie.

Bewussynsverlies kan wissel van deurmekaar wees en onsamehangend praat, tot ‘n diep bewusteloosheid met geen reaksie nie.

Moenie probeer om iets per mond te gee nie – dit sal verstikking in die hand werk.

Die groot gevaar van bewustelose pasiënte is dat hulle kan verstik aan bloed, speeksel, en veral aan braaksel. As braaksel ingeasem word is dit lewensbedreigend.

Verwyder enige kunsgebit en ander los voorwerpe soos tande uit die mond. Pas egter op dat jy self nie gebyt word nie. Laat hulle op hulle sy lê, met die onderste arm se hand onder die slaap, die onderste been reguit, en die boonste been met die heup en knie beide so ongeveer 45 grade gebuig en met die romp effens na vore gekantel. Die boonste been keer dat hulle heeltemal op hulle gesigte rol, en enige braaksel kan nou na buite uitloop.

Sulke gevalle sal baie baat by die inplaas van die neuslugweg. ‘n Halfbedwelmde pasiënt wat baklei teen die inplaas van die neuspyp kan waarskynlik daarsonder klaarkom, maar oppas vir die persoon wat gaandeweg dieper bewusteloos raak.

Gooi die pasiënt met ‘n kombers toe en laat iemand by hulle bly.

In ‘n volgende artikel word na die noodhantering van frakture en beenbreuke gekyk.

Hierdie artikel het oorspronklik in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 08/18 verskyn. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

5.00 avg. rating (96% score) - 3 votes