Deel die artikel met jou vriende:

Die gesondheidskrisis in 2020 het fundamentele kopskuiwe ten aansien van onderwys veroorsaak wat nuwe geleenthede skep om die reg op onderwys vir alle Suid-Afrikaners te verwesenlik. Beplande hervorming van regulasies is egter nog steeds van so ‘n aard dat dit ou en mislukte paradigmas wil afdwing.

Die ou paradigma

Volgens die ou patroon van denke kan onderwys slegs deur skole verskaf word. Om hierdie rede poog die SA Skolewet van 1996 om die reg op onderwys by wyse van verpligte skoolbywoning te bewerkstellig. Dit is dan ook waarom die Departement van Basiese Onderwys (DBO) ‘n tuisonderwysbeleid in 2018 gepubliseer het wat ouers ontmoedig het om tuisonderwys as onderwysopsie te kies. Die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, Debbie Schäfer het ook hierdie beleid ondersteun.

Die regulatoriese bedeling wat uit hierdie paradigma gespruit het, het ‘n samelewing geskep met miljoene jongmense wat uitgeval het en nou werkloos en sonder ‘n toekoms is.

‘n Nuwe paradigma

Die huidige gesondheidskrisis het veroorsaak dat skole moes sluit. Onderwysinstansies moes noodgedwonge oplossings soek om onderwys te voorsien sonder skole. Skielik moes onderwysers aanlyn onderrig gee terwyl skoolgeboue leeg staan. Hierdie situasie het veroorsaak dat minister Debbie Schäfer die volgende verklaring gedoen het: “While it is officialy school holidays and schools are closed – learning is open.” Terwyl sy voorheen ‘n beleid ondersteun het wat onderwys buite skool beperk het, het sy nou ‘n nuwe paradigma aanvaar, naamlik dat onderrig sonder skole wel moontlik is.

Die toekoms van Suid-Afrikaanse onderwys

Dit gaan nie moontlik wees om die verskyning van hierdie nuwe paradigma tot niet te maak nie. Nie net ministers nie, maar ook ouers het tot die besef gekom dat onderwys sonder skole moontlik is. Wanneer die skole heropen, gaan sommige ouers daaroor besin of dit die moeite loon om hulle kinders terug te stuur skool toe.

Die gesondheidskrisis gaan ook ‘n ekonomiese krisis veroorsaak. Wanneer die skole heropen, sal baie besighede nie heropen nie en baie ouers sal nie ‘n werk hê om na terug te keer nie. Hierdie ouers sal ook nie skoolfooie kan bekostig nie en sal waarskynlik aanlynonderrig oorweeg om hulle begroting te laat klop. Ander ouers sal moontlik hulle kinders na skole stuur waar hulle nie hoef skoolgeld te betaal nie.

Baie skole is tydens die inperking by ingebreek, gevandaliseer of aan die brand gesteek. Duisende leerders sal waarskynlik nie ‘n skool hê om na terug te keer nie.

Die paradigmaskuif sal die agteruitgang van skole, soos ons dit ken, inlui. Privaatskole en openbare skole waar skoolfooie betaalbaar is se inskywingsgetalle sal waarskynlik daal. Van die leerders wat só verlore raak sal sommige aanlynonderrig doen terwyl die ander by skole sal inskryf waar geen onderrigfooie betaalbaar is nie. Onderwysdepartemente se kwynende begrotings sal veroorsaak dat klasgetalle in die skole waar geen fooie betaalbaar is nie net nog meer gaan styg.

Sommige skole gaan probeer om te oorleef deur uitgawes te verminder. Ander mag die veranderinge as ‘n geleentheid sien om as ‘n aanlyninstansie te funksioneer en só die groeiende mark vir alternatiewe onderrig te bedien. Stadig maar seker sal onderwys van skoolonderrig na aanlynonderrig verander.

Aanlynonderwys het verskeie voordele bo skoolonderwys. Leerders is nie beperk tot een onderwyser nie, maar kan ‘n keuse uitoefen deur van ‘n verskeidenheid van onderwysers van regoor die wêreld gebruik te maak. Gedurende ‘n klasles kan leerders die les onderbreek, terugspeel of vorentoe speel. Hulle kan ook die les herhaal. Leerders kan die klasles doen wanneer dit hulle pas. Aanlynonderrig beteken dat onderwysinstansies nie net tot fisiese geboue (brick and mortar) beperk sal wees nie. Waar die tradisionele skool beperk is om slegs honderde of miskien duisende leerders toe te laat kan aanlynonderwys miljoene leerders akkomodeer. Daar sal ook geen nodigheid meer wees vir ‘n toelatingsbeleid nie. Die beweging na aanlynonderrig sal ‘n revolusie in die onderwysomgewing veroorsaak.

Die behoefte vir ‘n nuwe onderwysbedeling

Die owerheid is tans besig om te werk aan regulatoriese veranderings in die onderwysomgewing. Die minister berei tans ‘n Basiese Onderwyswetswysigingsvoorstel (Basic Education Law Amendment – BELA-Bill) voor wat tuisonderrig sal verander in ‘n onbekostigbare vorm van openbare skoolonderrig by die huis. Die oogmerk hiervan is om die ou paradigma verder te verskans.

Die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, Debbie Schäfer

Suid-Afrika het egter ‘n onderwysbedeling nodig wat voorsiening maak vir ‘n verskeidenheid van onderrigbenaderings en -vorme wat deur die nuwe paradigma moontlik gemaak sal kan word. Die Skolewet kan voortgaan om skole te reguleer, maar nie-skoolonderrig behoort deur ‘n ander afsonderlike wet gereguleer te word. Indien dit nie gebeur nie sal die Skolewet steeds voortgaan met die poging om nie-skoolonderwys in openbare skoolonderwys by die huis te transformeer in lyn met die BELA-voorstel wetswysiging

Is die toekoms vir Minister Schäfer duidelik? 

In 2018 het Minister Schäfer ‘n beleid gesteun wat daarop ingestel was om ouers te ontmoedig om tuisonderwys te kies. Gedurende 2020 het die gesondheidskrisis haar genoop om te erken dat onderrig inderdaad moontlik is sonder skole. Hopelik sal dit haar en haar party aanmoedig om ‘n nuwe onderwysbedeling te aanvaar, eerder as om die huidige bedeling wat alreeds so rampspoedig misluk het, verder te probeer verskans.

Vertaling uit Engels deur Deon Vosloo

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote