Deel die artikel met jou vriende:

Ignaz Phillip Semmelweis

Wie ken die naam Ignaz Semmelweis? Nie baie mense nie! Iemand wat potensieel ‘n beroemde baanbreker in die mediese wêreld was, maar toe nie … !

Gebore in Buda, Hongarye, in Julie 1818 as seun van ‘n ryk handelaar, het hy eers in die regte gestudeer voor hy die mediese rigting ingeslaan het. In 1846 kry hy sy eerste aanstelling in die obstetrie-afdeling van Wene se Algemene Hospitaal, wat ‘n gratis diens gelewer het aan die armer deel van die gemeenskap. Hulle is egter so oorweldig deur getalle dat ‘n tweede soortgelyke kliniek langs die hospitaal begin is, met dié verskil dat dit slegs deur vroedvroue beman is. ‘n Onverklaarbare situasie het egter ontstaan, naamlik dat moederlike sterftes as gevolg van sg. kraambedkoors (‘n septissemie) by die hospitaalafdeling meer as 6 maal hoër was as in die nabygeleë kliniek. Selfs die moeders wat tuis of op straat gekraam het en daarná eers opgeneem was, se sterftesyfer was laer. En dit terwyl bevallings in die hospitaalafdeling deur dokters waargeneem is en in die ander kliniek deur minderopgeleide vroedvroue! Semmeleis het dié waarneming gedoen en toe die kraamprosedures wat die staf gevolg het in die twee instellings laat omruil waar dit verskil het – dit het egter geen effek op die sterftestatistiek gemaak nie. Dit het net tot groot irritasie onder die personeel gelei en gesorg dat hy gedemoveer is.

Hierna gebeur dit dat ‘n professor-vriend van Semmelweis sterf met simptome wat hy ontwikkel het nadat sy vinger per ongeluk raakgesny is tydens ‘n nadoodse ondersoek op ‘n slagoffer van kraambedkoors. Sy eie outopsie se bevindings was dan ook identies aan dié van die gestorwe kraambedkoorspasiënte. Dit was op hierdie stadium dat Semmelweis besef het dat die verklaring vir die verskil in sterftesyfers hierin gelê het. Dokters het soggens outopsies gedoen en daarna in kraamsale gaan werk sonder om hulle hande te was! (Vandag klink dit ondenkbaar!)

Hier moet ons net meld dat kieme as oorsaak van siektes op daardie stadium nog nie bekend was nie. Pasteur het eers meer as ‘n dekade later werk begin publiseer wat in daardie rigting gedui het. Die gewilde teorie oor die oorsaak van siektes was sg. miasmas of ‘vuil lug’, wat probeer hanteer is met gereelde oopmaak van vensters van hospitale en uithang van beddegoed. (Wat inderdaad ook goeie praktyk is.) Nou het Semmelweis na vore gekom met ‘n teorie dat daar ‘kadawerpartikels’ was wat tydens nadoodse ondersoeke op die dokters se hande beland het. Dit sou dan na die ander vroue oorgedra word tydens ‘n bevalling en hulle dan op ‘n manier siek gemaak het, al kon hy nie verklaar presies hóé nie.

Syfers spreek duideliker as woorde. Merk die sterfte-afname nadat handewas verpligtend geword het en die styging nadat Semmelweis ontslaan is.

Van toe af het Semmelweis vereis dat dokters hul hande moet ontsmet met gechlorineerde kalk (kalsiumhipochloriet), wat baie irriterend is vir die vel, na outopsies en voor hulle na die kraamsaal sou gaan. Hy het dit streng dopgehou en dokters wat dit nie gedoen het nie, uitgewys. Na ‘n paar maande het die sterftesyfer tot 0 gedaal maar hy kon dit nog nie verklaar nie. Goeie statistiek is gehou maar Semmelweis het geweier om sy bevindings en teorie te publiseer! Hy het hardkoppig aangedring dat sy voorskrifte gevolg moet word ten spyte van die feit dat hy dit nie self kon verklaar óf die bestaan van die ‘kadawerdeeltjies’ bewys nie. Van die dokters het hulle nie laat oortuig nie. Hoekom? Ons kan net gis. Moontlik het dit vir hulle te vergesog geklink, het hulle dalk ‘n weerstand teen nuwe idees gehad, of moontlik het dit hul eergevoel aangetas om te dink dat die dokter die oorsaak van die probleem kon wees. Dalk was dit Semmelweis se manier om dinge te doen wat weerstand gewek het of miskien professionele jaloesie? Ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat hy afgedank is en teruggegaan het Hongarye toe. Hy is aangestel as hoof van Obstetrie in Pest en hy het daar wel ‘n verskil in moedersterftes gemaak met sy maatreëls. Die hospitaal in Wene het teruggegaan na hul ou gewoontes en die sterftesyfer het weer gestyg tot vorige vlakke.

Semmelweis het wel sy bevindings op ‘n stadium gepubliseer in boekvorm, The Etiology, Concept, and Prophylaxis of Childbed Fever. Dit was egter ‘n mislukking, moontlik as gevolg van die feit dat ‘n groot deel daarvan bestaan het uit beskuldigings en verwyte teenoor sy vorige kollegas in Wene. Ongelukkig het hy ook al hoe meer onstabiel geword en byvoorbeeld vir hóm onbekende paartjies in die openbaar, huilend gesmeek om seker te maak dat die dokter sy hande was wanneer die vrou vir ‘n bevalling gaan. In 1865 besoek hy Wene vir ‘n ‘vakansie’ op aandrang van sy familie, maar word onder dwang opgeneem  in ‘n inrigting vir geestesversteurdes. Binne 2 weke sterf hy aan septissemie (kraambedkoorsekwivalent) as gevolg van beserings opgedoen, nadat wagte hom aangerand het toe hy weerstand gebied het tydens opname of ‘n ontvlugtingspoging. Ironies!

Dit was Augustus 1865. In dieselfde maand behandel die chirurg, dr Lister, in Engeland ‘n pasiënt met ‘n gekompliseerde beenbreuk en laat ‘n lappie geweek in karbolsuur in die wond, om te kyk of dit nie ‘n verskil maak aan die verwagte infeksie wat in sulke gevalle gewoonlik ingetree het nie. Hy het toe alreeds sukses gehad in die bekamping van infeksies nadat hy chirurgiese instrumente en dokters hul hande laat was het daarmee. Hierdie eksperiment was ook suksesvol en baie mense ken Lister as die persoon wat baanbrekerswerk gedoen het in die bekamping van infeksies in hospitale en hospitaalhigiëne. Meeste van ons ken ook die handelsnaam Listerine, ‘n ontsmettende mondspoelmiddel.

Waar lê die verskil? Was Semmelweis sy tyd net 15 jaar vooruit? Hy sterf sonder dat hy skynbaar bewus is van die kiemteorie en met die idee dat sy werk vrugteloos was en niemand dit aanvaar nie. Lister kry in die geskiedenis van medisyne die meeste eer vir die deurbraak in hospitaalhigiëne en bly ‘n geëerde lid van die mediese gemeenskap selfs tot na sy aftrede. Sy ontsmettingsmetodes het onder andere moontlik die lewe van die toekomstige koning Edward van Engeland gered toe hy opereer moes word vir blindedermontsteking.

Lord Joseph Lister

Ons was nie daar nie en kan nie regtig ‘n opinie uitspreek nie, maar in retrospek is daar ‘n moontlikheid wat vir my uitstaan. Lister het die gepubliseerde artikels van Pasteur gelees en so op die idee voortgebou dat siektes deur kieme veroorsaak kan word wat deur kontak oorgedra kan word. Hyself het blykbaar al sy eksperimentele gebruik van karbolsuur met die nodige data gepubliseer en hoewel daar aanvanklik weestand was, kon sy gepubliseerde statistieke die deurslag gee by ‘n wyer gehoor. Dit was nie nodig om persoonlike aanvalle te loods nie. Ongelukkig het Semmelweis nie sy data in mediese tydskrifte gepubliseer nie en toe hy wel ‘n boek publiseer, is die wetenskaplike data deur beskuldigings teenoor sy vorige teenstanders geskend.

Die feit bly bestaan dat hy lewens gered het deur van wetenskaplike metodes gebruik te maak: Observasie, assosiasie, afleiding en die stel van ‘n hipotese wat hy suksesvol getoets het, maar nie by ‘n groter gehoor kon tuisbring soos Lister nie.

Maar dit bly ironies!

 Erkennings:

https://blog.wellcome.ac.uk/2010/05/13/history-of-medicine-unwitting-martyr/

https://hackaday.com/2018/08/28/publish-or-perish-the-sad-genius-of-ignaz-semmelweis/

https://en.wikipedia.org/wiki/Joseph_Lister

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.00 avg. rating (82% score) - 1 vote