Deel die artikel met jou vriende:

Suid-Afrika het waarskynlik nog nooit die vlakke van uiterste weerpatrone en stofstorms ervaar soos in die huidige seisoen nie. Temperature het rekordvlakke bereik te midde van ‘n ernstige droogte oor omtrent die hele somersaaigebied. Terselfdertyd het stofstorms amper op ‘n weeklikse basis mens, dier en plant geteister. Daar is alreeds verskeie teorieë oor hierdie situasie gevorm, veral oor die omgekrapte weerpatrone. Die mees algemeen aanvaarde teorie is dat ‘n samevloei van drie faktore hierdie uiterste weerstoestande veroorsaak het, naamlik: aardverwarming, wat alreeds hoër temperature tot gevolg het, die El Nino effek wat die ergste tot nog is, asook normale weersiklusse, waarvolgens ons nou in ‘n droë siklus is. Minder is egter geskryf en gesê oor die stofstorms, oftewel die werklike of bydraende oorsaak en impak van die stofstorms. Hierdie artikel poog om dieper wetenskaplike insigte en oplossings oor hierdie aspekte aan te bied, wat almal kernbelangrik is tot ‘n volhoubare landbousektor. Die artikel probeer ook om op ‘n nuwe manier na die probleem te kyk, wat die oplossing baie logies en haalbaar maak. ‘n Belangrike slotsom is dat landbou, veral graanprodusente, een van die min praktiese oplossings bied om hierdie massiewe uitdagings van ons tyd reg aan te spreek om ‘n positiewe, langtermyn impak te maak op aardverwarming, grondagteruitgang en biodiversiteitsverlies.

Aardverwarming

Te veel koolstof in die atmosfeer, in die vorm van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied (CO2), metaan (CH4), nitrietoksied (N2O), veroorsaak dat die aarde oorverhit. Globale temperature het gemiddeld met tussen 0.65 en 1.06°C vanaf 1880 tot 2012 gestyg (IPCC, 2014). Hierdie aardverwarming het ‘n sterk invloed op natuurlike stelsels, met gepaardgaande verandering in reënvalpatrone en die verhoogde frekwensie van natuurlike klimaatsgeïnduseerde rampe, soos droogtes en vloede. Die globale mikpunt wat in Desember 2015 tydens COP21 deur alle lande ooreengekom is, is om aardverwarming onder 2°C te hou om verdere katastrofiese gevolge te vermy. Daarvoor is drastiese kopskuiwe en praktykveranderinge oor alle sektore heen nodig, insluitend landbou.

Koolstof is egter nie ons vyand nie, maar die bousteen van lewe op aarde. Dis egter belangrik dat koolstof so vêr as moontlik in ‘n natuurlike balans bly: twee maal meer koolstof in grond as die atmosfeer en drie maal meer as in plantegroei. Die afgelope honderd jaar of meer is daar egter ‘n oormaat koolstof as fossielbrandstowwe onttrek, wat ‘n beduidende wanbalans veroorsaak het. Landbou het ‘n verdere groot bydrae gelewer met die vrystelling van hierdie kweekhuisgasse deur die intensifering van diere- en gewasproduksie in reaksie op bevolkingsgroei en gepaardgaande aanvraag na landbouprodukte. Meer as 21% van alle kweekhuisgasse in Suid-Afrika word deur landbou vrygestel (DEA, 2015) waarvan 77% daarvan deur diere en 21% deur landbougrond (gewasse) vrygestel word. Maar, alhoewel landbou tans deel is van die probleem, lê een van die min praktiese oplossings, m.a.w. die verwydering van koolstof uit die atmosfeer, egter in landbougrond, wat dus ‘n kritiese rol en geleentheid reg in die hande van graanprodusente plaas.

Grond – die probleem en die oplossing

Boks 1: Die vaslegging van koolstof in die grond

Die groot vraag is: waarnatoe verwyder ons die oormaat koolstof in die atmosfeer wat die probleem veroorsaak? Die kort antwoord is: reg onder ons voetsole, in die grond. In ‘n organiese vorm in die grond is koolstof ‘n groot deel van die oplossing, solank dit daar bly. As rofweg 8% van die koolstof wat deur plante gefotosintetiseer word in die grond en plante bly, sal die globale koolstofvlakke gebalanseer word (Lal et al., 2015). Die proses hoe dit gebeur word kortliks in Boks 1 bespreek.

Die probleem is egter dat hierdie grondkoolstof oor die laaste honderd jaar ernstig uitgeput is deur bewerking (Du Preez et al., 2011), wat ‘n afwaartse spiraal van grondagteruitgang veroorsaak het (sien Figuur 1). Dis belangrik om hierdie proses te verstaan en om te keer. Dis duidelik dat die proses begin met grondversteuring wat onmiddellik die grond belug, die mikrobe aktiwiteit verhoog en grondorganiese materiaal (GOM) afbreek, dan ook kweekhuisgasse uitlaat, met gepaardgaande verlies aan grondkoolstof en stikstof. ‘n Hele reeks negatiewe reaksies volg, waarvan die tekens ongelukkig baie duidelik is in die grootste persentasie van ons graangebiede.

Figuur 1: Die afwaartse spiraal van grondagteruitgang

Volgens Du Preez et al. (2011) word tot en met 70% van grondvrugbaarheid in die bogrond van Suid-Afrikaanse gronde geassosieer met GOM. Onlangse studies wys egter dat tussen 46% (Swanepoel et al., 2015), 50% (Du Preez, 2003) en 65% (Lobe et al., 2001) van GOM in Suid-Afrika se bewerkte gronde verlore is. In gronde wat vir ongeveer 90 jaar bewerk is, is koolstofkonsentrasies verlaag tot 34% van die konsentrasies in die natuurlike grasveld (Lobe et al., 2001). Grondkoolstofvlakke het egter steeds nie gestabiliseer nie a.g.v. die voortdurende verlies van slikdeeltjies en GOM, wat veral veroorsaak word deur winderosie.

Foto 1: Stofstorm naby Henneman Vrystaat op 13 Januarie 2016

Wiggs en Holmes (2011) se studie op winderosie in die sentrale wes-Vrystaat toon aan dat die uiters kwesbare sandgronde, gekombineer met hoë windspoed en kaal grond, uitermatige hoë vlakke van grondverlies veroorsaak, veral vanaf September tot Oktober. Dit is baie duidelik sigbaar in die stofstorms wat die gebied gereeld teister en vanjaar selfs tot so onlangs as Januarie steeds gewoed het (sien Foto 1). Soos reeds genoem is, is hierdie winderosie (stofstorms) geweldig skadelik vir die grond omdat dit die mees vrugbare deeltjies (slik en GOM) verwyder en verder bydra tot die afwaartse spiraal van grondagteruitgang. Tipies sal ge-erodeerde grond (stof) drie maal meer voedingstowwe en tot vyf keer meer GOM bevat as grond wat agterbly.

Foto 2: ‘n Stofstorm oor die N1 wat motoriste se sig belemmer (Foto-Volksblad)

Erosie verlaag ook die diversiteit en hoeveelheid grondorganismes, wat dus die algehele grondbiomassa en produktiwiteit verlaag en uiteindelik ‘n wesenlike invloed het op die diversiteit van plante, diere en mikrobes teenwoordig in die hele ekosisteem (Pimentel, 2006). Verder verlaag dit gewasopkoms en beskadig saailinge wat in baie gevalle produsente noodsaak om oor te plant. Dit hou ook ‘n gevaar in vir motoriste (a.g.v. swak sig) (sien Foto 2) en hou gesondheidsgevare in vir mense en diere. Gronddeeltjies wat oor lang afstande deur winderosie weggevoer word kan die draers wees van besoedeling, terwyl Griffin et al. (2001) wys dat omtrent twintig menslik aansteeklike siekte-organismes, soos antraks (miltsiekte) en tuberkulose, maklik met gronddeeltjies deur winderosie vervoer word. Stof wat inge-asem word kan ook die respiratoriese stelsel irriteer en gepaardgaande skadelike stowwe kan die effek vererger. Ten laaste dra erosie direk by tot aardverwarming deurdat CO2 aan die atmosfeer vrygestel word wanneer groot hoeveelhede GOM blootgestel word aan die lug en oksideer.

Foto 3: Draadheinings wat erg beskadig is deur winderosie (Foto-Jannie de Villiers)

In bogenoemde verband is daar ‘n paar onrusbarende tendense wat hierdie seisoen in die land waargeneem is. Eerstens het die intense sandstorms omtrent oor die hele somersaaigebied voorgekom. In baie gevalle is massiewe skade in kort periodes aangerig en word beraam dat selfs honderde tonne grond per hektaar so verloor is (sien Foto 3 waar waaisand ‘n draadheining binne twee maande bykans kan verberg). Tweedens dui Wiggs en Holmes (2011) se navorsing daarop dat aardverwarming toenemend meer en sterker winde, uitermatige hoë temperature en hewige donderstorms gaan veroorsaak.

In ‘n opvolgartikel kyk ons graag na hoe ons hierdie probleem kan oplos.

 

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.67 avg. rating (91% score) - 3 votes