Deel die artikel met jou vriende:

In watter opsig verskil die Nasionale Afrikaanse Openbare Uitsaaier, RSG (Radio Sonder Grense) met Pretoria FM?

In ‘n onderhoudende en boeiende praatjie tydens die KragDag 2019 Raadsaalprogram stippel James Kemp, Pretoria FM se Klankkoerant-hoofredakteur veral twee belangrike aspekte uit wat vir enige nuusmedia-instelling, hetsy ‘n koerant of ‘n uitsaaier, van kritiese belang vir oorlewing is. Die eerste is  onafhanklikheid en die tweede is dat daar op ‘n spesifieke teikenmark gefokus moet word. Vanuit hierdie twee aspekte kan uiteindelik gesien word waarom die foto en tragiese gebeure rondom Hector Pietersen deur soveel mense onthou word, terwyl die ewe tragiese gebeure rondom die Amanzimtoti-bomontploffing in ‘n Wimpy-restaurant op 23 Desember 1985 skaars deur mense onthou word. Trouens die straat waarin die Wimpy geleë is, is later na die bomplanter Andrew Zondo vernoem.

Onafhanklik:

Waarom is die onafhanklikheid van ‘n nuusplatform belangrik? Wanneer redaksionele besluite beïnvloed word deur politici of hooggeplaasdes in die regerende party, kom nie net so ‘n nuusinstelling se onafhanklikheid in gedrang nie, maar ook die geloofwaardigheid van daardie platform, hetsy koerant of uitsaaier. Onlangse voorbeelde van sulke inmenging word in die aanbieding gegee. Dit is daarom van uiterste belang dat “wat” in die nuus uitgedra word, asook die wyse waarop dit uitgedra word deur die media-instelling se nuuskantoor bepaal word.

Teikenmarkgerig:

James verwys verder in sy aanbieding na die nuusdienstoneel in die VSA in die middel-negentigerjare waar drie televisiemedia-instellings die nuusmediatoneel oorheers het. Al drie het gepoog om alles vir almal te wees. ‘n Amerikaner, met die naam van Roger Ailes, het ‘n televisiestasie op die been gebring met die Konserwatiewe Amerikaner as teikenmark. Die wysheid van hierdie benadering is wyd bevraagteken. Fox News het egter, as gevolg van hierdie strategie, gegroei tot die grootste enkele televisiekanaal in die VSA. Roger Ailes is verder gekritiseer dat hierdie strategie sou lei tot ‘n bevooroordeelde (biased) nuusinstelling. Ailes was egter die mening toegedaan dat dit juis bevooroordelend is indien sekere standpunte geïgnoreer, verdoesel of ontken sou word. Vir hom was dit is soos om jou kamera slegs op byvoorbeeld die linkerbaan van ‘n hoofweg te fokus terwyl gebeure in die middel- en regterbane van die hoofweg totaal uit die oog is. Om ‘n duidelike standpunt te stel en in te neem wat op jou teikengehoor toegespits is, is beslis nie ‘n vooroordeel nie.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes