Deel die artikel met jou vriende:

Onteiening sonder vergoeding is baie in die nuus. Op 6 Desember 2019 is die Voorlopige Agtiende Wysigingswetsontwerp vir die Grondwet deur die Parlementêre Ad Hoc Grondwethersieningskomitee vir kommentaar gepubliseer. Die Hersieningskomitee het die opdrag om wysiging aan Artikel 25, die eiendomsklousule, van die Grondwet voor te stel om die “implisiete” betekenis van die grondwet ten aansien van die onteiening van grond sonder vergoeding, as ‘n wettige grondhervormingsopsie, eksplisiet en duidelik te maak. Alhoewel daar reeds 17 Wetswysigings aan die Grondwet; Wet 108 van 1996, gedoen is, verskil die huidige wysigingsvoorstel van die voriges daarin dat dit die éérste wysigingsvoorstel is wat ‘n “reg” soos vervat  in Hoofstuk 2, die Handves van Regte wil verander. Die Handves van Regte vorm die “hoeksteen van demokrasie in Suid-Afrika” en verskans die “regte van al die mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid” aldus Artikel 7 van die Grondwet.

In terme van ‘n Parlementêre Kennisgewing is die publiek tot 31 Januarie 2020 geleentheid gegun om skriftelike voorleggings aan die komitee te maak. Verskeie landbouinstansies en burgerlike organisasies het dan ook hulle lede aangemoedig om kommentaar teen grondonteiening in te dien. Sedertdien is uitstel gegee en voorleggings kan nou tot 29 Februarie 2020 gedoen kan word.

Die spesifieke artikel waaroor die wysiging handel is Artikel 25(2)(b) wat, in konteks met die Artikel 25(2), lui:

(2)  Eiendom mag slegs ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif onteien word–

(a) vir ʼn openbare doel of in die openbare belang; en

(b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is óf deur ʼn hof bepaal of goedgekeur is.

In die wysigingsvoorstel word die volgende by Artikel 25(2)(b) gevoeg sodat dit lees (deur KragDag in Afrikaans vertaal)

(2)  Eiendom mag slegs ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif onteien word–

(a) vir ʼn openbare doel of in die openbare belang; en

(b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is óf deur ʼn hof bepaal of goedgekeur is met dien verstande dat, in ooreenstemming met subartikel (3)(a), waar grond en enige verbeterings vir grondhervormingsdoeleindes onteien word, mag ‘n hof bepaal dat die vergoedingsbedrag nil (Latyn) is.

Gevolglik word Artikel 25(3), wat gelees het:

(3)  Die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling moet regverdig en billik wees, en moet ʼn billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van–

(a) die huidige gebruik van die eiendom;

(b) die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom;

(c) die markwaarde van die eiendom;

(d) die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en

(e) die doel van die onteiening.

… verander om as volg te lees:

(3)  Die bedrag van die vergoeding soos beoog in subartikel (2)(B), en die tyd en wyse van enige betaling moet regverdig en billik wees, en moet ‘n billike ewewig toon tussen openbare belang en die belang van diegene wat geraak word, met in agneming van tersaaklike omstandighede, met inbegrip van-

(a) Nasionale wetgewing moet, onderhewig aan subartikels (2) en (3), spesifieke omstandighede uiteensit waar die hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nil sal wees.

In kort kom die voorgestelde grondwetwysiging daarop neer dat onder spesifieke omstandighede kan die Hof besluit dat dit “billik en regverdig” is, in terme van Artikel 25(3) van die Grondwet, dat geen vergoedingsbedrag vir onteiende grond en verbeterings daarop betaal hoef te word nie. Die spesifieke omstandighede wat sal geld word deur gewone Parlementêre Wetgewing bepaal. Waar ‘n twee-derde meerderheid nodig is om die Grondwet te wysig (‘n 75% meerderheid indien dit geag word dat die wysiging die oppergesag van die grondwet en heerskappy van die reg verbreek) word dit nóú moontlik om omstandighede vir onteiening sonder vergoeding te bepaal by wyse van ‘n gewone Parlementêre meerderheid.

ENKELE MENINGS:

Die wysigingswetsontwerp het verskeie menings in die nuusmedia tot gevolg gehad en verskeie waarskuwings is aan die ANC gerig. Ons wil graag ons lesers oor ‘n paar standpunte inlig. Uit die aard van die saak word daar nie aan sosialistiese euforie oor die wysigingstyd gespandeer nie.

Dr Lawrence McCrystal

Die eerste kommentaar is díe van Dr Lawrence McCrystal, wat gedurende die laaste 50 jaar ‘n rol gespeel het in die bevordering van besigheids- en nywerheidsontwikkling as entrepreneur, ekonoom en lid van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC). In ‘n onlangse BizNews artikel verskaf Dr McCrystal agt redes waarom hý gekant is teen die voorgestelde grondwetwysiging:

  1. Bestaande wetgewing is voldoende om grondrestitusie aan te spreek. Dit is daarom onnodig.
  2. Beleggings in Suid-Afrika is broodnodig ten einde die ekonomie aan die gang te kry. Indien eiendom waarop projekte onderneem word gevaar loop om sonder vergoeding onteien te word, sal beleggers nie projekte in Suid-Afrika onderneem nie.
  3. Die moontlikheid bestaan dat grondonteiening sonder vergoeding Suid-Afrika op ‘n Zimbabwe-pad sal plaas met soortgelyke katastrofiese gevolge.
  4. Die proses van grondonteiening maak die deur oop vir magsmisbruik waar mense met groot invloed grond verkry en dit nie produktief aanwend nie. Produktiewe boere word verdryf wat hongersnood tot gevolg het.
  5. In die verlede het 91% van mense wat deur restitusie bevoordeel is, eerder geld as grond as vergoeding verkies. Dié wysigingswetvoorstel gaan dus nie grondeisers werklik bevoordeel nie. Verder moet daar ook kennis geneem word dat in baie gevalle waar landbougrond as restitusievergoeding gekies is, is die grond verwoes agtergelaat. As dit die geval was met landbougrond wat sal gebeur as die regering begin om stedelike eiendom begin onteien?
  6. Die belangrikste oorweging, nou in Suid-Afrika, is om die ekonomie te laat groei sodat 10 miljoen arm werklose mense werk kan kry. Die grondwetwysiging word op ‘n uiters ongeleë tyd voorgestel. Hierdie wysiging sal tot gevolg hê dat voorkeur toegang tot VSA-markte in terme van die AGOA-ooreenkoms tot niet gaan, wat net verder tot werkloosheid sal bydra.
  7. Die IRR het ‘n ondersoek geloods wat die mees dringende behoefte van mense is. Volgens hierdie opname het die grootste gedeelte van mense werkloosheid as die akute kwessie in die land gesien. ‘n Klein fraksie (1%) het grond as die akute kwessie genoem. Grond is nie ‘n belangrike saak vir die meeste mense nie. Die vraag wat gevra kan word is van waar kom die druk vir die grondwetverandering vandaan, anders as van selfgesentreerde politici? Suid-Afrikaanse politici het reeds ‘n swak reputasie binnelands sowel as in die buiteland. Hulle word met agterdog bejeën dat hulle nie in belang van die mense in Suid-Afrika optree nie. As dit so sou wees sou President Ramaphosa sekerlik voorkeur aan sy ekonomiese stimulus voorstelle gegee het eerder as aan die grondwetswysiging. Deregulering van klein en medium besighede, soos genoem in die President se vroeëre toespraak, sal inderdaad tot gevolg hê dat die ekonomie gestimuleer word. Dit behoort ‘n prioriteit te wees. Tog word niks hieraan gedoen nie, maar daar is tyd en energie vir die wysiging van Suid-Afrika se Grondwet.
  8. Sou die wysigingsvoorstel wet word, sal Suid-Afrika se inwoners bitter spyt wees dat dit ooit voorgestel is. In werklikheid sal die regering wat dit voorgestel het vir geslagte verwyt word vir hulle najaging van eie selfsugtige en gierige belange, eerder as om die mense van Suid-Afrika te dien en so ‘n groot deel van hulle uit armoede te help.

Brian Azizollahoff

Nog ‘n interessante siening is die van Brian Azizollahoff, mede-stigter en Besturende Direkteur van Propertiq, ‘n boetiek-eiendomsbatebestuur en adviesdienste, verhurings- en ontwikkelingsmaatskappy. In ‘n BizNews-Artikel doen hy ‘n beroep op die regering om ‘n R1,5 biljoen (Engels – trillion) eiendomsportefeulje te ontsluit ten einde die ekonomie vorentoe te stoot. Hierdie voorstel word gedoen teen die agtergrond van die Eskom debakel, die sukkelende ekonomie, fiskale druk op die regering, ‘n moontlike kredietafgradering deur Moody’s en die wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Volgens Azizollahoff het die regering toegang tot ‘n ekonomiese stimulus goudmyn wat ‘n ongekende stimuluspakket vir die fiskus kan ontsluit. Die regering is tans die grootste eienaar van eiendom in die land. Alhoewel daar nie ‘n akkurate bateregister van eiendom bestaan nie is die aanduidings daar dat die owerheid ongeveer R1,5 biljoen se geboue onder hulle beheer het. Uit die eiendom wat die regering besit kan portefeuljes van eiendomme saamgestel word wat op die Johannesburg se Aandelebeurs (JSE) as gelysde eiendomsmaatskappye verhandel kan word. Inkomste kan verkry word by wyse van 20 jaar verhuringsooreenkomste wat die regering met huurders aangaan. Op hierdie wyse kan die druk op die fiskus verlig word. Voorheen onbenutte eiendom bring ‘n inkomste in en verskeie aandeelhouers kry deel aan eiendom wat inkomste genereer.

TLU SA

Soos ander rolspelers het TLU SA het ook die wysigingswetsontwerp afgewys en hulle lede aangemoedig om skriftelike kommentaar aan die Grondwet hersienningskomitee voor te lê. Daar is egter ‘n interessante kinkel wat in TLU SA se konsepskrywe aan die parlement aan die lig kom.

Meeste kommentare het gehandel oor die wysigings aan Artikel 25(2) en (3). TLU SA het egter ook kommentaar gelewer oor Artikel 25(4) wat lees:

(4)  By die toepassing van hierdie artikel–

(a) beteken die openbare belang ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig; en

(b) is eiendom nie tot grond beperk nie.

TLU SA maak die voorstel dat Artikel 25(4)(b) gewysig word dat “eiendom slegs tot grond beperk” is, óf dat (b) in geheel geskrap behoort te word.

Dit is dus belangrik dat elkeen wat iets besit van hierdie subartikel kennis sal neem!

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote