Deel die artikel met jou vriende:

Sedert die ANC aan die einde 2017 op hul konferensie ‘n besluit geneem het dat onteiening sonder vergoeding voortaan deel van hul beleid sal wees, het die onderwerp – met reg – baie gesprekke oorheers.  Daar is wel ‘n voorwaarde gestel  dat onteiening op so ‘n wyse toegepas moet word dat dit nie die ekonomie sal skaad nie en dat voedselsekerheid nie in gedrang gebring sal word nie. Hierdie  kwalifisering behoort die debat eintlik onmiddellik te stop aangesien enige persoon wat Ekonomie 101 verstaan, weet dat kapitaal nie onsekerheid volg nie. Watter groter onsekerheid kan daar vir ‘n belegger wees as wanneer ‘n staat in ‘n posisie is om beleggers se bates te kan neem sonder om daarvoor te betaal.  Die ANC sal, indien hul die land en sy inwoners voorop stel, onmiddellik hierdie voorstel, wat tot die vernietiging van die ekonomie gaan lei, laat vaar.

Die staat het twee groot verantwoordelikhede, naamlik om die inwoners se veiligheid te waarborg en om ‘n klimaat van vertroue te skep waar beleggers en entrepreneurs ekonomies aktief kan wees. Ongelukkig word hierdie verantwoordelikheid nie na behore deur die ANC-regering nagekom nie.  Suid-Afrika sit op ‘n tydbom van werkloosheid en armoede wat algaande groter word.  Die gevolglike probleme kan net volhoubaar aangespreek word indien die ekonomie na behore groei.  Dit vereis ‘n klimaat van vertroue waar beleggers bereid sal wees om hulle kapitaal op ‘n lang termyn te belê – maar dit vereis ook dat daar ‘n omgewing geskep sal word waar die produksiefaktore optimaal bestuur word ten einde ‘n opbrengs op kapitaal te realiseer.

Sedert die ANC aan bewind gekom het, was hul wyse van regeer grootliks geskoei op die maak van beloftes. Die vermoë en die kapasiteit om aan die beloftes te voldoen het nie noodwendig bestaan nie.  Die gevolge hiervan is dat Suid-Afrika tans vasgevang sit met ontevrede inwoners wat daagliks betoog en die probleme net nog groter maak.  Die prys van die ANC se bestuurstyl het net vir Suid-Afrika onbetaalbaar duur geword.

Die ANC, en ook andere, beweer deurlopend, geskoei op die verdraaiing sowel as valshede oor die geskiedenis van die ontwikkeling van Suid-Afrika, dat blankes die grond gesteel het.  Hulle moet versigtig wees, want as hierdie belaglike argument die norm gaan word, sal die swart mense saam met die blankes as beide tweede generasie inwoners ook as diewe gebrandmerk kan word.  Vir jare reeds stel die ANC teikens wat bereik moet word met sogenaamde bemagtingsprojekte op vele terreine.  Veel gewag word gemaak van die sogenaamde grondhonger wat bevredig moet word.  Verskeie instansies soos die landboubesighede (Agbiz), die banke gesamentlik (BASA), Agri SA en TLU SA het deurlopend voorstelle gemaak waaraan die ANC hom nie gesteur het nie.

TLU SA het reeds, so vroeg as in 2005, ‘n konstruktiewe voorstel gemaak en dit is deur die jare by herhaling aan die ANC op hoë vlak beskikbaar gemaak. Hierin sou nuwe toetreders ten minste ‘n billike kans op sukses kry, en dit op ‘n wyse waar geen bestaande belegger enigsins ten opsigte van besitreg bedreig sou word nie.  Hiervolgens sou daar binne 7 jaar reeds sinvolle teikens bereik kon word.  Die ANC het egter telkens hulle rug op hierdie voorstelle gedraai. As ‘n mens moet terugkyk, kom ‘n mens tot die besef dat die ANC ‘n ander agenda het as die een wat voorgehou word. Die vraag wat gevra kan word, is of die ANC nie besig is om hulself te probeer red terwyl die res poog om Suid-Afrika te red nie? Waar restitusie reeds toegepas is, kies 93% van die grondeisers eerder geld in plaas van die grond en dan kan tereg gevra word, waar is die sogenaamde grondhonger dan?  Van die grond wat wel tot beskikking van die eisers gestel is, het 90% van hierdie plase se landbouproduksie, volgens eie erkenning, tot niet gegaan.

Ongelukkig het die situasie reeds sodanig ontwikkel dat in verskeie gesprekke reeds ervaar word dat die debat nie meer gaan oor die beginsel van die erkenning van privaat besitreg en die vrye mark nie, maar dat alreeds gekyk word hoe daar tot een of ander vergelyk gekom kan word met ‘n verdelingsbenadering wat nie noodwendig aan prestasie gekoppel is nie.  Ons móét daarteen waak dat ons op enige wyse toegee aan die beginsel van privaat eiendomsreg en vrye mark beginsels.  Hierdie beginsels vorm die grondslag van die ekonomie en indien dit verloor word, is die land op ‘n pad na armoede vir almal.

Dit is nie moontlik om nou al te voorspel presies hoe die situasie gaan ontwikkel en uitspeel nie. Wat egter waar is, is dat indien die burgerlike samelewing nie betrokke gaan raak nie, gaan die ANC hierdie vakuum wat geskep is self vul, soos dit hulle pas, en dit mag nie toegelaat word nie.

Wat staan ons elkeen nou te doen?

  1. Raak betrokke by ‘n organisasie wat opstaan vir die eiendomsbeginsels waarin u glo en wat dit aanspreek.
  2. Neem deel aan die Parlementêre proses deur u kommentaar voor 14 Junie in u eie woorde op ‘n verantwoordelike manier in te stuur na pjayiya@parliament.gov.za. Indien u ‘n riglyn sou wou bekom kan u dit aanvra by admin@tlu.co.za.  Elke individu moet dit doen!
  3. Laat u stem hoor deur briewe te rig aan die media van u keuse. Die kommentaargedeelte op hierdie artikel kan reeds met vrug gebruik word.
  4. Wees paraat en kry gemeenskapsveiligheidstrukture in plek om voorsiening te kan maak vir enige eiendomsgerigte misdaad, wat reeds gesien word meer intens plaasvind.
  5. Stap ‘n geloofspad en benut die krag van gebed – die regte uitkoms sal dan seëvier.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.80 avg. rating (94% score) - 10 votes