Óórspesialisering – mens is nie ‘n insek nie!

Deel die artikel met jou vriende:

Ons almal ken die onvleiende gesegdes van iemand is … ‘n man van 12 ambagte and 13 ongelukke, of … ‘n Hansie-my-kneg. In die Engelse taal, afhangende hoe aangehaal, kan hierdie idiomatiese uitdrukking ‘n onvleiende betekenis hê, maar dit kan ook as ‘n kompliment bedoel wees. Wanneer gepraat word van ‘n … jack of all trades, word dit as ‘n kompliment bedoel vir iemand wie se hande vir niks verkeerd staan nie. In moderne Latyn word van ‘n Johannes Factotum gepraat. Om te waarsku dat ‘n mens ten minste sekere uitsonderlike vaardighede in jou werk moet hê – of was dit vanweë afguns dalk? – is ‘n  tweede gedeelte by die idioom gevoeg … A jack of all trades, but master of none. Aanvanklik het die spreekwoord heeltemal anders gelui wat duidelik ‘n ander betekenis wou tuisbring: A jack of all trades is a master on none, but oftentimes better than a master of one. Die uitdrukking in díe vorm gee die betekenis dat daar wel nadele is om veelsydig te wees ,maar dat dít nog steeds beter is as om in net een ding baie bedrewe of knap te wees. Nog ‘n opinie op dieselfde tema is ‘n aanhaling deur Robert A Heinlein, ‘n Amerikaanse skrywer van romans en wetenskapfiksie wat gemeen het: “A human being should be able to change a diaper, plan an invasion, butcher a hog, conn a ship, design a building, write a sonnet, balance accounts, build a wall, set a bone, comfort the dying, take orders, give orders, cooperate, act alone, solve equations, analyze a new problem, pitch manure, program a computer, cook a tasty meal, fight efficiently, die gallantly. Specialization is for insects.” Heinlein het duidelik nie baie ooghare gehad vir mense wat net een ding goed kan doen nie.

Tog is die moderne ekonomie gebaseer op spesialisasie! Aanvanklik, in die tye toe die mens hoofsaaklik ‘n jagter-versamelaarsbestaan gevoer het, was mense oor die algemeen, kan ‘n mens maar sê, generaliste. Daardie eerste mense, ten einde te oorleef, moes verskeie dinge kon doen. Alhoewel daar sekerlik ‘n verdeling van werk volgens die geslagte was, was daar nie iets soos gespesialiseerde werk nie. Mans het sekere algemene take verrig en vrouens weer ander. Vroue het kos gemaak, kinders versorg en huishoudelike take verrig soos om water te gaan haal, brandhout bymekaar te maak en ook om vrugte, bessies en eetbare blare en kruide te versamel. Mans weer, het hoofsaaklik die jagwerk en die nodige verdediging van die groep gedoen. In die uitvoer van hulle werk, het die vrouens waarskynlik meel tussen klippe gemaal, vuurherte gepak, tente en skuilings gebou terwyl die mans boë, pyle, spiese, messe, fuike, wippe, en valle geprakseer het. Na die jag het mans die prooi geslag, en dan waarskynlik die vleis met behulp van geprakseerde sleë vervoer. Geen verder vlakke van spesialisasie was nodig nie. Die lewe was eenvoudig en mense het waarskynlik in tropiese gebiede of naby die ewenaar geleef waar daar geen uiterse weersomstandighede was nie. Die naaste bure was waarskynlik ver weg en het nie gepla nie omdat daar oorvloedig hulpbronne was.

Maar soos wat mense meer geword het, het fisiese hulpbronne skaarser geword en mededinging of kompetisie het ontstaan. Mense moes noodwendig uitwyk na meer ongunstige omgewings wat meer eise aan hulle gestel het. As gevolg van die skaarsheid van hulpbronne en ook die veranderende omgewing het die beginsel van doeltreffendheid en effektiwiteit belangrik geword. In kort kom doeltreffendheid daarop neer dat die regte dinge gedoen moet word. Byvoorbeeld, afhangende van die seisoen, maak dit partykeer meer sin om vis te vang of te jag as om te poog om vrugte en bessies te versamel. Dit is nie die regte ding om te doen om bessies te versamel as dit nie die tyd vir bessies is nie. In sommige gevalle sal jy ‘n pyl en boog gebruik om te jag, vir ander diere dalk ‘n spies. Om vleis te verwerk kan jy dalk ‘n spiespunt gebruik, maar ‘n mes van metaal is net die meer doeltreffende oplossing. Effektiwiteit vereis dat dinge reg gedoen moet word. Voordat jy gaan jag of vleis verwerk is die effektiewe ding om te doen, om seker te maak dat jou pyle, spiese of messe skerp gemaak is. Die mes se snykant moet op die regte manier geslyp word, die hef en die lem moet op die regte manier geheg word.

‘n Ander wetmatigheid wat ‘n rol begin speel het, het te  doen met die beginsel van ‘n leerkurwe.  Sodra ‘n persoon ‘n taak begin verrig, kom ‘n leerkurwe tot stand. Hoe meer kere die persoon dit doen hoe beter word hy in dit wat hy doen. Alhoewel almal aanvanklik hulle eie spiese en messe gemaak het, het sekere ouens se pogings net beter gevaar op die jagveld. Hierdie manne is waarskynlik gevra om ook vir ander messe of spiese te maak. Omdat hulle nou hulle tyd verwyl het om spiese en messe te maak in plaas van om te jag, het die jagters die spies- en messemakers vergoed met  vleis. Die jagters het aangehou jag en hulle kennis van spies- en mesmaak het nie  vermeerder nie, alhoewel hulle kennis van jag meer geword het omdat hulle meer tyd daaraan kon spandeer. Die omgekeerde het ook gebeur. Die spies- en messemakers het deur ‘n leerkurwe gegaan ten opsigte van hulle ambag, maar hulle jagkennis het waarskynlik agter geraak. Die vraag na goeie spiese en messe het so groot geword dat die spies- en mesmaker naderhand hulp nodig gekry het. Hiervoor het hy waarskynlik sy seun ingespan. Die nuwe jong ambagsman het sy kennis van spies- en mesmakery van sy pa geleer terwyl sy kennis van jag net  op hoor-sê gebaseer was. Vanweë hierdie dinamika van mededinging, die verandering van die omgewing, die verhoging in doeltreffendheid en effektiwiteit asook ‘n leerkurwe wat baie steiler geword het, het spesialisasie gevolg wat die jagter-versamelaar in ‘n landbouer laat ontwikkel het. Meer spesialisasie het nodig geword, want ‘n ploeg en ‘n skoffel wat op die beginsel van ‘n mes vervaardig is, het nodig geword.

Soos wat mededinging toegeneem het, het die eerste van 4 industriële revolusies aangebreek. Die eerste industriële revolusie is gekenmerk deur die ontwikkeling in die tekstielnywerheid, die stoomenjin, die ystersmeltery en masjiengereedskap gedurende die jare 1760 tot ongeveer 1840.  Die tweede industiële revolusie het geduur vanaf ongeveer 1870 tot met die Eerste Wêreldoorlog waartydens geweldige ontwikkeling plaasgevind het op die gebied van staalvervaardiging, brandstowwe, elektrisiteit en die produksielyn – wat die ekonomiese wet van Ekonomieë van Skaal tot voordeel van die industrie begin benut het. Alhoewel daar ook ‘n wet van Dalende Meeropbrengs is wat die wet van Ekonomieë van Skaal teenwerk kon laasgenoemde wet telkemaal deur die koms van ‘n nuwe tegnologie gesystap word. Hier dink ons aan ontwikkelinge op die gebied van halfgeleier-tegnologie en elektronika in die 1980’s te wete die diode en transistor, die geïntegreerde stoombaan en elektroniese stelsels wat gevolg gegee aan die derde industriële revolusie, ook genoem die digitale revolusie. Tans staan ons midde in die vierde industriële revolusie (Industrie 4.0) wat gekenmerk word deur die versameling, verwerking, transmissie en stoor van inligting asook ontwikkelinge op die gebied van nano- en biotegnologie. Die mens se peil van spesialisasie is tans ongekend met die verdere verwikkeling dat die raklewe van kennis geweldig kort geword het. Verder het ‘n nuwe dinamika bygekom waar die mens die onontbeerlike rol van verbuiker begin speel het. Vandag is die hoofdoel van die bankwese om elke mens te finansier en só in staat te stel om hulle rol van verbruiker te kan speel. Tans lyk dit of die mens net twee bestaansfunksies het naamlik díe van spesialis wat maksimaal moet spesialiseer en verbruiker wat maksimaal moet verbruik.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat spesialisasie noodwendige ‘n gevolg van ekonomiese ontwikkeling is. Niemand kan ook ontken dat spesialisasie definitief voordele het nie. Hierdie voordele is al in 1776 deur Adam Smith beskryf in die bekende voorbeeld van die spelde-vervaardiger. Hy het gestel dat 10 werkers in staat sal wees om 48 000 spelde te vervaardig indien elk van agtien gespesialiseerde take om ‘n speld te vervaardig aan ‘n werker toegedeel sou wees. Die gemiddelde produktiwiteit per werker is dan 4 800 spelde. In die afwesigheid van taakverdeling en spesialisasie sou een werker kwalik ‘n enkele speld per dag kon vervaardig. Ander voordele van spesialisasie is dat daar kostebesparing vanweë ekonomieë van skaal is, dat die risiko om foute te maak kleiner word en dat opleiding van nuwe werkers effektief gefokus kan word.

Daar kom egter ‘n stadium waar spesialisasie teen-produktief word. Dit gebeur wanneer óórspesialisering in werking tree. ‘n Kenmerk hiervan is dat die werker geïsoleer word van die groter prentjie of werklikheid. Die werker word onbuigsaam en daar is ‘n onvermoë om aan te pas by veranderde omstandighede. Die gevolge van wat hy doen of waarmee hy besig is, is vir hom onsigbaar. Werkers word dan selfvoldaan oor hulle vermoëns en verveeldheid tree in. Dit gaan ook dikwels gepaard met ‘n verstardheid in denke. ‘n Verdere gevaarteken wanneer ‘n werker óórspesialiseer is dat hy só deel word van ‘n groter geheel dat hy sy eie waardestelsel begin verloën en minag. Só ‘n mens het nie meer die vermoë om effektief te kan funksioneer sonder die ondersteuningstrukture van die status quo nie. Gevolglik word díe mens se onafhanklikheid en selfstandigheid ingeboet. Dit mag dalk voordelig vir die organisasie of die staat wees, maar beslis nie vir ‘n mens met ‘n natuurlike vryheidsdrang nie.

Hoe dan nou gemaak? Kweek die instelling om oorspesialisering teen te staan deur wyer belangstellings te koester en ander vaardighede aan te leer. Alles hoef nie geld in te bring nie. Leer ‘n nuwe taal, ‘n musiekinstrument of ‘n hand-vaardigheid aan. Skaf vir jou ‘n stokperdjie aan. ‘n Wye belangstelling moet ook in die opvoeding en onderwys beklemtoon word. Moet nie tevrede wees met een vaardigheid nie, maar diversifiseer jou vaardighede – ontwikkel verstandsvaardighede,  handvaardighede asook emosionele en geestelike vaardighede. Mens moet in ‘n volle mens ontwikkel en as sodanig funksioneer. ‘n Mens is nie ‘n insek nie!

 

5.00 avg. rating (93% score) - 1 vote

About the Author:

Leave A Comment

*

code